Pa breëbors oor topwiskundematrikulant

Jason en Fred de Villiers. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die pa van een van die topmatrikulante in die land het Donderdag van oor tot oor geglimlag tydens die departement van basiese onderwys se feesmaal vir die paar uitgekose matrieks.

Jason de Villiers, ʼn matrikulant aan Rondebosch Boys’ High School in die Wes-Kaap, is een van meer as 30 leerders wat in verlede jaar se eindeksamen uitgeblink het. Hy is aangewys as die land se derde beste wiskundestudent. Kelly Prowse, die beste matriekleerder in die land, het die eerste plek vir dié prestasie gevat.

Volgens De Villiers was hy sedert die einde van die eksamen hoopvol dat sy resultate die harde werk sal weergee wat hy deur sy hele skoolloopbaan ingesit het.

“Wanneer jy jou vakke en die studiemateriaal geniet, is dit baie maklik om die proses te geniet en terselfdertyd te presteer,” sê hy.

“Ek was deurlopend gedryf deur die kultuur van harde werk wat in ons skool gekweek word en wanneer jy in ʼn omgewing is waar almal streef om hul beste te wees, is dit maklik om dieselfde te doen.”

Sy pa, Fred, sê hy het altyd geweet dat Jason fisiek en intellektueel oor sy portuurgroep sal uitblink. Die afgelope matriekeksamen was ook geen uitsondering nie.

“Hy het nog altyd goed gevaar op skool, so dit is ʼn eer om hier saam met hom te wees, waar hy vereer word vir daardie vermoëns,” sê Fred.

“Dit was van jongs af duidelik dat hy met ʼn fantastiese intellektuele vermoë geseën is en ʼn mens kan dit sien in die vakke waarvoor hy die liefste is.

“Dit is wonderlik om te sien dat jou kind passievol is oor iets en vir Jason is dit wiskunde. Ek weet hy gaan nog hoë hoogtes bereik en ons is dankbaar om hom daartydens te ondersteun.”

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Jason en sy mede-topmatrikulante Donderdag toegespreek en hulle geloof vir hul strewe na uitnemendheid.

“Julle is rolmodelle vir jul portuurgroep en ʼn inspirasie vir die volgende generasie leerders,” het sy gesê.

“Die geskiedenisboeke sal weet dat julle die beste van die 2022-matrieks is en dit is geen geringe prestasie nie, veral as jy in ag neem dat julle die grootste groep leerders is wat al matriek geskryf het.”

Kyk hier wat Jason alles te sê het oor die eksamen, sy uitslae en sy toekoms:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Matmiet ·

Baie geluk. Dit is altyd mooi om te sien hoe harde werk beloon word. Daar wag ‘n blink toekoms vir jou jong man.

Aai ·

Baie geluk wys ons ‘n foto van wie om daai tafel sit sal my baie trots maak.

Papsak ·

Dit glo ek is n trotse pa baie geluk daar wag blink toekoms op jou seun baie mooi

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.