Pampoenkraal-getuie se verklaring ‘verdwyn’

Die Pampoenkraal-beskuldigdes van regs: Daniel Cornelius Malan, Cornelius Lourens Greyling, Othard Johan Klingenberg, Ignatius Michael Steynberg, Zenzele Mzikayise Patrick Yende, Andries Pienaar en Werner Potgieter (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die verdediging in die sogenaamde Pampoenkraal-saak het Dinsdag aangevoer dat staatsgetuie Eric Hlatswayo se aanvanklike verklaring wat hy aan die polisie gemaak het, uit die dossier “verdwyn” het.

Hlatswayo is ʼn ooggetuie van die skietdood van die broers Mgcini en Zenzele Coka op 9 April 2021 op die plaas Pampoenkraal in die omgewing van Piet Retief, Mpumalanga.

Hlatswayo getuig sedert Maandag in die landdroshof op Evander, Mpumalanga, as staatsgetuie in die verhoor van Daniel Malan, Cornelius Greyling, Othard Klingenberg, Ignatius Steynberg, Zenzele Patrick Yende, Andries Pienaar en Werner Potgieter.

Die sewe mans staan tereg vir die moord op die Coka-broers. Hulle word ook aangekla van poging tot moord, ontvoering, dwarsboming van die gereg en die oortreding van die Wet op die Beheer van Vuurwapens.

Hlatswayo het getuig dat hy ná die skietvoorval op die toneel ʼn verklaring by ʼn senior polisiebeampte van Dirkiesdorp afgelê het. Volgens die getuie was hy egter “te emosioneel om die verklaring te voltooi”.

Die hoofondersoekbeampte, ao. David Nhlapho, het sowat twee weke later na hom gegaan om die res van die verklaring af te neem.

“Die ondersoekbeampte het met die oorspronklike verklaring gekom en ek het aangegaan met my verklaring van waar ek die eerste keer opgehou het,” het Hlatswayo getuig.

Cilliers het oor dié getuienis van Hlatswayo gesê hy is besig om “die hof te mislei” en het aangevoer dat die tweede verklaring van begin tot einde in dieselfde handskrif (dié van Nhlapho) geskryf is. Hy sê ook dat die tweede verklaring ʼn gedetailleerde verduideliking van die voorval is – van begin tot einde.

“Dit was duidelik nie die oorspronklike verklaring nie,” het Cilliers gesê.

Hy het verder daarop gedui dat nie die verdediging óf die staatsaanklaer van die oorspronklike verklaring geweet het nie.

Die Pampoenkraal-beskuldigdes van links: Daniel Cornelius Malan, Cornelius Lourens Greyling, Othard Johan Klingenberg, Ignatius Michael Steynberg, Zenzele Mzikayise Patrick Yende, Andries Pienaar en Werner Potgieter (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Hlatswayo het by sy weergawe gehou dat dit dieselfde verklaring is. Hy het opgewerk geraak toe Cilliers dit aan hom gestel het dat “hy lieg”. Regter Bruce Langa het die getuie menigmaal gevra om tot bedaring te kom.

Volgens Cilliers gaan hy in sy slotbetoog aanvoer dat die eerste verklaring “weggeraak het” omdat dit “teenstrydig” met die tweede verklaring is.

Cilliers het verder aangevoer dat dit opmerklik is dat Nhlapho presies tussen die twee hofsake waartydens die borgtogaansoeke van die beskuldigdes aangehoor is, Hlatswayo (as hoofgetuie) se tweede verklaring geneem het.

Die eerste borgtogverhoor het op 20 April 2021 in die landdroshof op Piet Retief plaasgevind, gevolg deur die tweede verhoor op 26 April 2021. Nhlapho het op 23 April 2021 Hlatswayo se verklaring geneem.

“Nhlapho het presies geweet wat in die beskuldigdes se beëdigde verklarings staan, wat in die hof gelees is, toe hy jou tweede verklaring geneem het,” het Cilliers aan Hlatswayo gesê.

“Soos die noodlot dit wou hê, was Nhlapho egter toe nog nie bewus van die videomateriaal wat beskikbaar gestel is nie en die nuwe feite wat daaruit gespruit het nie. Die staat en verdediging het self eers die naweek voor die tweede borgtogverhoor van die video te wete gekom.”

Ongerymdhede

Net soos in Nhlanhla William Hlatshwayo se getuienis Maandag in die hof, het Cilliers aangevoer dat Hlatswayo se getuienis verskil van sy verklaring aan die polisie.

Hlatswayo het getuig dat Nhlapho “klein foute” gemaak het met die transkribering van die verklaring en nie al dié foute reggestel het nie.

Tydens kruisondervraging het dit aan die lig gekom dat die getuie ook nie die staatsaanklaer voor die verhoor oor die foute wat nie reggemaak is, ingelig het nie.

“Maar tog het die ondersoekbeampte die verklaring vir jou gelees, waarna jy die verklaring onderteken het en dus onder eed erken het dat die inligting in die verklaring korrek is,” het Cilliers gesê.

“Die foute was so klein dat ek vir die ondersoekbeampte gesê het dat ek dit tydens my getuienis in die hof sal regstel,” het Hlatswayo daarop geantwoord.

“Ek is geskok oor jou getuienis, meneer Hlatswayo. Om ʼn verklaring te onderteken terwyl jy weet daar is foute in, is meineed,” het Cilliers gesê.

Cilliers het Hlatswayo daarop gewys dat die foute nie “klein” is, soos hy beweer nie.

Cilliers het Hlatswayo se verklaring in die hof voorgelees, wat lui “dat Greyling en Steynberg op Zenzele geskiet het”. Tydens Hlatswayo se getuienis in die hof, het hy slegs na Greyling verwys.

Hlatswayo het hierop gesê dat die verklaring nie die waarheid weergee nie en dat Steynberg nie geskiet het nie.

Die verdediging het na die videomateriaal verwys wat duidelik daarop dui dat Steynberg nie op die toneel van die skietery was nie, maar sowat 30 sekondes ná die polisie op die toneel was, daar aangekom het.

Nhlapho het ook op 26 April 2021 in die hof bogenoemde bevestig nadat die videomateriaal beskikbaar gestel is.

Cilliers het Hlatswayo ook gevra of Nhlapho hom gehelp het met die verklaring omdat hy na beskuldigde vier as “Naas Steynberg” in sy verklaring verwys, maar in die hof het hy hom “Naas Pienaar” genoem.

Hy het getuig dat hy nie ʼn “Steynberg” ken nie.

Voorts het Cilliers daarop gedui dat Hlatswayo in sy verklaring glad nie melding maak van die boer Hans Moolman, wat ook op die toneel was nie, maar tydens sy getuienis verskeie kere na hom verwys het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Windhond ·

Vrot vrot vrot van binne en die polisie ploeter ook maar voort in hulle onkunde of nie?

domheks ·

Rassisties? Die kaart word mos sommer vinnig getrek. Sal sien of dit nou ook gebeur.

Janine ·

Jou leuens gaan jou inhaal. Mens kan net hoop en bid dat die hof hierdie saak korrek hanteer, ipv dit weereens ‘n rasding maak.

ES ·

Soos wat ek gese het – hy is ‘n onbetroubare getuie en die hof sal waarskynlik sy bewerings verwerp. Sy meineed is nou op rekord.

Phillip ·

Gooi die saak eerder uit beter vir ons almal Hof kan nie voortgaan met leuns nie

Hettie ·

Wanneer hierdie saak klaar is en die manne se onskuld bewys is , moet hulle saak maak teen die getuies vir die oneerlike saak wat gemaak was en ongerief en spanning wat hulle in die manne le lewens veroorsaak her. Hier die tendens dat die hof hulle sal glo omdat hulle voorouers veronreg was moet nou einde kry .

André ·

Dis die probleem waar mee ons in hierdie land sit. “My woord is my eer” beteken niks nie en as ‘n mens nie kan wen nie dan speel jy vuil. So reg uit die ANC se handboek.

Amelia ·

hul wou moeilikheid veroorsaak maar nou dat 2 dood is speel die knaap onskuldig veral wat mens weet wou hul dalk die boer vermoor het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.