Parlement eis ‘dringende vergadering’ met Zondo oor opmerkings

Hoofregter Raymond Zondo. (Foto: Luca Sola/AFP)

Die speaker van die parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, en die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), Amos Masondo, het ʼn dringende vergadering met hoofregter Raymond Zondo gevra spesifiek oor sy opmerkings wat verband hou met die inwerkingstelling van die aanbevelings van die kommissie na staatskaping en bedrog en korrupsie in die staatsdiens.

Zondo het Donderdag by ʼn seminaar oor die tydperk ná staatskaping gesê dat daar ʼn jaar nadat die laaste verdoemende bevindings in die vier jaar lange ondersoek na korrupsie in die staatsdiens onder oudpres. Jacob Zuma aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig is, geen vordering al gemaak is nie.

“ʼn Jaar is ʼn redelike tydperk om [oor die bevindings] te besin,” het Zondo gesê.

“Maar ek het nog niks gesien wat verander het nie.”

Die hoofregter het ook gesê indien staatskaping vandag weer gebeur, die parlement dit steeds nie sou kon stuit nie.

Zondo het in sy opmerkings ook gesê indien ʼn ander groep mense doen presies wat die Guptas tydens staatskaping gedoen het, die parlement dit steeds nie sou kon stop nie. “Dit is eenvoudig omdat ek gesien het dat niks verander het nie. As die parlement nie die mense se belange kan beskerm nie, wie sal die mense beskerm?”

Die hoofregter het ook gevra vir verkiesingshervorming sodat kiesers veel meer mag gegee word.

Die parlement het daarna teruggekap en gesê Zondo se uitlatings het geen meriete nie en ondermyn die beginsel oor die skeiding van magte.

Die parlement se voorsittende beamptes sê nou hulle erken die belang van ʼn gesonde werksverhouding tussen die regbank en wetgewende gesag en die vergadering moet as platform vir “opbouende dialoog” dien.

“Die doelwit is om enige moontlike misverstande uit die weg te ruim en ʼn gemeenskaplike begrip van die onderskeie rolle en verantwoordelikhede van elke afdeling van die regering binne die konteks van die parlement se inwerkingstelling van die kommissie se aanbevelings te skep.”

Die parlement sê hy is “deeglik bewus van sy grondwetlike mandaat” en die behoefte om saam met die regbank te werk.

“Die vergadering is ʼn belangrike stap om die verhouding tussen die regbank en die wetgewer te versterk en openbare vertroue in ons demokratiese stelsel te kweek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.