Parlement sê Phala Phala-saak sloer nie

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: STEFAN HEUNIS/AFP)

Die parlement sê opposisiepartye se bewerings dat die instelling sy voete sleep met die Phala Phala-aangeleentheid, is ongegrond.

Die oproep om ʼn ad hoc-komitee aan te wys om al die beweerde oortredings te ondersoek is boonop “voortydig en misleidend”, het die parlement in ʼn verklaring gesê.

ʼn Forum van politieke partye wat in die parlement verteenwoordig word, het Woensdag daarop aangedring dat die parlement pres. Cyril Ramaphosa aanspreeklik hou vir die oortreding van wetgewing, sy ampseed en die Grondwet na aanleiding van die herrie oor die miljoene dollar wat op sy wildsplaas in Limpopo gesteel is.

Die groep gaan ook vra vir ʼn mosie van wantroue in Ramaphosa in ʼn poging om hom vir die Phala Phala-sage aanspreeklik te hou.

Die parlement het in sy verklaring aangevoer dat die speaker van die Nasionale Vergadering nog altyd vinnig en in ooreenstemming met die reëls en die wet opgetree het “en sodoende die erns bewys waarmee die parlement nie net sy toesighoudende rol beskou nie, maar ook die behoefte dat sulke prosesse prosedureel uitgevoer moet word”.

Die speaker het voorheen die mosie van die hand gewys omdat dit nie aan die reëls voldoen het nie.

“Die vertraging in die verwerking van hierdie aangeleentheid was dus nooit uit die beweerde gebrek aan optrede aan die kant van die speaker nie.”

Die parlement sê wanneer ʼn mosie in orde is, verwys die speaker dit en stawende dokumente onmiddellik na ʼn onafhanklike paneel van deskundiges. Die speaker moet die paneel aanstel nadat politieke partye wat in die vergadering verteenwoordig is ʼn redelike geleentheid gegee is om lede voor te stel.

Die speaker het reeds politieke partye genooi om die name van gepaste persone voor te stel om op die onafhanklike paneel te dien. Die partye het Woensdag aangedui dat hulle voorstelle teen 1 September sal indien.

Volgens die parlement is die onafhanklike paneel se funksie om ʼn voorlopige beoordeling van die mosie en bewyse te doen en binne 30 dae bevindings en aanbevelings aan die Nasionale Vergadering te maak oor die kwessie of voldoende bewyse bestaan dat Ramaphosa enige van die oortredings wat in die mosie uitgestippel is, begaan het.

“Sodra die paneel se werk afgehandel is, sal dit in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê word,” lui die verklaring.

Die parlement het bygevoeg dat die speaker reeds sommige bewerings wat die DA-leier, John Steenhuisen, gemaak het, na die gesamentlike staande komitee oor intelligensie verwys het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Wondermaarnet ·

Hoe dom dink die parlement is ons? Natuurlik gaan dit sloer en doodloop na so 15 jaar.

Samuel ·

Die regering dink regtig almal is dom soos hulle. Na tien jaar sal die saak nog sloer.

Nie Verbaas ·

“Parlement sê Phala Phala-saak sloer nie” Ekskuus? Seker nie volgens ANC se uitmuntende standaard nie.

Manie ·

Ek wonder hoe lank moet ‘n saak sloer voordat die parlement dit as sloer beskou.

Deon ·

Sloer is n “buzz word” vir hulle, dit klink lekker nou word dit genoem. Hulle verstaan nie die woord nie want dis nie in hul huistaal nie

Esme ·

Hoekom lyk dit of hierdie ernstige saak geignoreer gaan word, totdat hy gaan verdwyn? Ironies hoe sulke sake sloer en sloer maar Jan en Alleman word blitsvinnig voor die hof gedaag. As hier nie ‘n mosie van wantroue ingestel gaan word nie, is die weer Afrika Politiek wat beoefen word. Ek het altyd geglo jy is onskuldig totdat jy skuldig bevind word. In hierdie saak blyk daar geen skuldiges te wees nie.

Deon ·

Geagte politieke partye, maak soos wat die res van die land moet maak as daar so iets is, vat jou bewyse, gaan polisie se aanklag kantoor toe en maak ‘n saak. Hou verdomp op om alles te gebruik om politieke punte te wen

Pieter ·

Natuurlik sloer die saak.
Het SARS al aangedui indien die geld verklaar is? Slegs Ja of Nee. So ook met ander punte in hierdie saak. Die gesloer skep die ware indruk dat feite verander kan word of aangepas om die saak in sy guns te beslis. So ook om dit onder die mat te vee. Ramphosa se geloofwaardigheid is 0.

Papsak ·

Ag daar gaan niks van kom nie dit is hoekom die saak so sloer

Pietertjie ·

Daar moet eers ‘n saak op ‘n rol iewers geplaas word, voordat dit kan sloer. Anders kan niks “sloer” nie, en gebeur daar dan ook niks.

marius ·

Bla bla bla . En daar is geen riool in die Vaal rivier nie . Lieg maar voort .

Eden ·

Ek wet enige iemand dat phalaphala oor 10 jaar nog steeds bespreek gaan word..daar gaan nooit iets an kom nie. Zuma het immers die omkoop gelde van die wapenskandaal in die vorige eeu gekry. Ons is nou al in 2022.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.