Phala Phala: ‘Nie so vinnig, meneer die onskuldige president’

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Fikile Marakalla / GCIS)

Die feit dat die waarnemende Openbare Beskermer (OB) bevind het dat pres. Cyril Ramaphosa geen etiese kode rondom sy amp oortree het wat die inbraak op sy plaas Phala Phala betref nie, beteken nié die president het nie ʼn strafregtelike oortreding begaan nie.

“Daar word steeds gewag op die uitslag van die polisie se strafregtelike ondersoek. Tot dan is die saak geensins afgehandel nie,” het dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, Vrydag gesê kort nadat adv. Kholeka Gcaleka Ramaphosa in haar finale verslag van alle blaam in dié skandaal onthef het.

Groenewald sê die waarnemende OB se uitgangspunt was dat die president geen staatsfondse gebruik of misbruik het nie.

“Sy antwoord egter nié die vraag oor die valuta wat in die president se huis gevind is nie en daar is geen verwysing na voorskriftelike finansiële wetgewing wat nagekom moes gewees het nie.

“Dit sou daarom verkeerd wees om die indruk te probeer wek dat president Ramaphosa niks verkeerd gedoen het wat Phala Phala betref nie.”

Ook John Steenhuisen, leier van die DA, is nie oortuig van Ramaphosa se onskuld nie.

Die opposisieparty gaan met sy prokureurs gesels om die verslag op hersiening te neem aangesien die DA glo dat dit ʼn aantal waninterpretasies van relevante stukke wetgewing bevat en ʼn kommerwekkende gebrek aan bewyse bied.

“Gegewe dat adv. Gcaleka tans meeding vir die toppos in die kantoor van die Openbare Beskermer, lees haar verslag meer soos ʼn werksonderhoud as ʼn afgehandelde ondersoek.”

Steenhuisen sê Gcaleka beeld Ramaphosa as ʼn “onskuldige omstander” in haar verslag uit deur die meriete van die ondersoek in regsterme en semantiek te begrawe. Die waarnemende OB word ook daarvan beskuldig dat sy die wet verdraai in haar interpretasie van die Etiekwet op Uitvoerende Lede en die Grondwet.

“Hierdie verslag kan slegs beskryf word as ʼn pro-Ramaphosa- openbare betrekkinge oefening.”

Luidens Gcaleka se verslag kon daar geen bewyse gevind word wat aandui dat Ramaphosa óf by Phala Phala plaas werk óf vergoeding uit die plaas ontvang nie.

Gcaleka het wel bevind dat genl.maj. Wally Rhoode, hoof van Ramaphosa se beskermingsdiens, nie by magte was om die inbraak op die plaas te ondersoek nie.

Lees Maroela Media se berig oor die OB se finale verslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

marius ·

Sy eie woorde is voldoende bewys maar soos al die ander kan hy maak nes hy will.

Jacobus ·

‘n Bank vol onverklaarbare Amerikaanse Valuta – NIKS is opgeklaar – eerder verdoesel!

melaney ·

Cyril het maande gelede al gesê dit is niemand se besigheid wat daar gebeur het nie. Ons sal dus nooit die waarheid hoor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.