‘Polisie doen te min aan Eskom-bedrog’

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom. (Argieffoto)

Hoewel oplossings vir Suid-Afrika se kragprobleme “binne Eskom se bereik” is, word dit dikwels deur grootskaalse korrupsie en uitvoeringsprobleme gepootjie, sê André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof.

Volgens hom kry die kragvoorsiener boonop min ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Polisiediens om misdaad binne Eskom se geledere te beveg. Hy het verwys na beide gevalle van bedrog deur Eskom-werkers en diefstal van kabels en ander infrastruktuur deur kriminele buite die instelling.

In ʼn onlangse gesprek met David Ansara, bedryfshoof vir die Sentrum vir Risiko-ontleding, het De Ruyter uitgevaar teenoor die polisie se trae optrede om vermeende misdadigers vas te vat.

Hy sê hoewel Eskom tot ʼn mate ondersteuning van die Valke kry, gebeur dit dikwels dat die polisie vermeende misdadigers – op instruksie van senior polisiebeamptes – binne ʼn dag vrylaat.

“Dis duidelik dat iets in die polisie skort.”

De Ruyter het ʼn geval uitgesonder waar ernstige diefstalklagtes teen drie bestuurders van die Tutuka-kragstasie ingedien is. Dié bestuurders is daarvan beskuldig dat hulle R100 miljoen per maand by Eskom gesteel het. Hulle is glo elk kort ná hul inhegtenisname op borgtog van R500 vrygelaat.

“Dis ʼn belediging as ʼn mens kyk na die skade wat Eskom gely het. Natuurlik is iemand onskuldig tot andersins bewys, maar sekerlik kan R500 borgtog nie vir klagte op dié skaal regverdig word nie. ʼn Mens sou dink R500 is regverdig vir ʼn verkeersoortreding, nie vir diefstal van R100 miljoen per maand nie.”

Buitensporige heffings op kragtariewe

De Ruyter het ook uitgevaar teenoor munisipaliteite wat, volgens hom, buitensporige winsmarges op kragtariewe plaas, terwyl Eskom daarvan beskuldig word dat sy “krag te duur is”.

In die geval van die Sol Plaatje- plaaslike munisipaliteit in die Noord-Kaap is  ʼn winsmarge van 121% op kragverkope geplaas.

De Ruyter meen dit is een van die maniere hoe munisipaliteite poog om hul benarde finansiële situasies te beredder. Dít terwyl munisipaliteite in die land Eskom meer R47 miljard skuld.

“Daar is duidelik versteekte ekonomiese agendas hier ter sprake, aangesien munisipaliteite dringend na ander bronne van inkomste op soek is.”

De Ruyter het ook daarop gesinspeel dat ʼn mens nie hoef te wonder waar dié geld eindelik beland nie.

Hy meen ʼn mens hoef bloot tydens ʼn vergadering van munisipale amptenare in die vertrek rond te kyk en jy sal onder meer duur Louis Vuitton-handsakke en ander duursame items sien.

Items wat De Ruyter sê hy nie eers vir homself of sy eggenoot sal koop nie, bloot omdat dit te duur is.

Wanbesteding deur munisipaliteite haal boonop dikwels die nuus – insluitend die besteding van R5 miljoen aan ʼn ontbytgeselligheid. Maroela Media het destyds berig dat munisipaliteite in 2019 altesaam R32,06 miljard onreëlmatig bestee het, ʼn beduidende styging van die R25,2 miljard wat in die vorige jaar aangemeld is. Die ouditeur-generaal meen die swak ekonomiese klimaat kan wel ʼn rol in munisipaliteite se verswakkende finansiële toestand speel, maar dat hul finansies bloot nie goed bestuur word nie.

Om dinge te vererger probeer die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings (Salga) om meer mag oor kragverkope in munisipaliteite se hande te plaas. Salga is tans besig met ʼn hofsaak om alle kragverkope aan munisipaliteite te oorhandig, wat beteken dat woonbuurte en nywerhede wat nou by Eskom krag koop, dit in die toekoms direk by hul munisipaliteite sal moet doen.

Mense is dikwels ook vies vir Eskom oor die verskaffer munisipaliteite se krag weens wanbetaling afsit.

“Ons verstaan dat dit lyding vir betalende inwoners veroorsaak. Maar die antwoord is dan sekerlik ʼn demokratiese proses by stembusse om raadslede wat geld vir eie gewin misbruik, uit te stem. Is daar werklik ʼn politieke wil om dié probleme op te los?”

De Ruyter sê voorts dat Eskom wel sy steun sal toesê aan munisipaliteite – soos Kaapstad en Johannesburg –wat hul afhanklikheid van Eskom wil verminder.

“Suid-Afrika kom eerste in die kragdebat. As metro’s meer kapasiteit kan verkry en die druk op Eskom kan verlig, sal ons hulle ondersteun en sover moontlik bemagtig. Ons sal nie hindernisse in die pad van metro’s plaas wat hulle daarvoor beywer om meer krag te verkry en verskaf nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

ReneD ·

Wil defnitief nie vir al die geld in die wêreld in André de Ruyter se skoene staan nie. Baie dankie André dat jy nog nie handskoene ingegooi het nie. Jy word deur baie in die land waardeer en voor gebid.

HettiM ·

Baie baie sterkte Andrè.. hierdie probleme kom al vir baie jare.. grootskaalse bedrog en nou word jy in die diepkant ingegooi. Maar as daar een persoon is watdit kan regkry – sal dit jy wees!

JohanEtz ·

Sal Baie graag wil weet hoeveel elektrisiteit aan buurlande gelewer word, of hulle beurtkrag ervaar en of hulle betalings op datum is????

Elméne ·

DIT is ‘n baie goeie vraag??? Ons sal ongelukkig GEEN antwoorde daarop ontvang nie!!

Dries ·

Ek kon nie hierdie berig klaar lees nie. Ek word naar, kry n knop in my keel, word woedend depressief en sommer net gatvol en moedeloos

Kobus ·

Wat van wanbetalers? Die stowe se plate brand heeldag in plakkershutte en so is die oond aan. Ek koop nie meer die storie dat plakkers nie geld het nie. Aan elke hut pryl ‘n TV Skottel en kyk maar na die motors wat daar parkeer

Johanna ·

ESKOM moet dringend n ESKOM sekuriteits Departement op die been bring waar net hoë profiel Intelegensie en Misdaad bekamping Beamptes werk. Dit moet n NONE- POLITICAL span wees wat NO NONCENCE vat nie. Hulle behoort ook hulle eie ESkom teen Misdaad Arbeids Regspan en Wetgewing te hê . Reg of Weg. Do it right the first time.

ReneD ·

Dit is nou kaalvuis die waarheid praat, maar waar laat dit ons die minderhede wat sukkel om beduidende verskil by die stembus kan maak. Sal wonderlik wees as ons direk van ESKOM kon koop en voorafbetaalde kliënte ‘n beduidende korting op hulle krag te gee.

DieKriek ·

Ek koop direk by Eskom en betaal elke maand R2000 net omdat ek kragtoevoer het, of jy gebruik of nie. Be careful what you wish for. Hulle is skelms deur en deur.

Shakespeare ·

Polisie doen te min……….watse Polisie ?????? Ons het laaaankal nie meer n SAPD nie.

Marcello ·

Ek haal my hoed vir Andrè af, want dit is nie maklik om ons skip weer in die regte rigting te laat vaar nie,
dit is 28 jaar se probleme. Sterkte, onthou daar is baie mense binne en buite wat jou ondersteun in jou besluite. Net jammer dit het so lank gevat om iemand aan boord te kry, wat Eskom weer wil opbou na die beste maatskappy waarop ons kan trots wees.

Samuel ·

Ek haal my hoed af vir mnr. De Ruyter. Het het moed soos min. Die SAPD is hopeloos.

Piet ·

Hy sê hoewel Eskom tot ʼn mate ondersteuning van die Valke kry, gebeur dit dikwels dat die polisie vermeende misdadigers – op instruksie van senior polisiebeamptes – binne ʼn dag vrylaat.

Nou maar Andre, as jy dit weet, doen iets aan die beamptes. Jy en jou valke maatjies wat die inligting aan jou oordra.

Gerra ·

Ek smeek Eskom om nie ons wat direk by julle krga koop / betaal te straf vir die wanbetalings van munisipaliteite. Na regte behoort ons krag nie afgesit te word omdat ons al die jare betaal en ons krag geen deel het aan die skulde van Eskom.
Dit is tyd dat die gemeenskap die spul in die munisipaliteite gaan uitgooi wanneer die wat betaal se krag afgesit word deur Eskom! Dit sal die gouste wees wat daardie spul in die stoele reg sal begin optree

KAIROS ·

More gaan die EFF weer die arme man se kop eis. Voorspoed. Mag jy suksesvol wees

Danie ·

Andre de Ruyter. Ek moet vandag bieg en jou omverskoning vra omdat ek ook een van die Suid Afrikaners is wat jou afgemaak het as”useless” Ek vra jou omverkoning. Ek glo nie die mense besef met wat se geweldige taak jy besig is en onder watter omstandighede jy werk nie. Nadat ek die artikel gelees het, het ek net besef dat jy veg teen n oormag wat jou teenkanting gee om jou taak te vervul. Baie dankie dat jy nog gewillig is om deur te druk en als in jou vermoe te doen om te red wat nog te redde is.

Di ·

Meerderheid POLISIE LEDE is goed vir NIKS nes hulle onbevoegde Minster. NOG NOOIT in die geskiedenis van hierdie land het misdaad so handuit geruk nie. Raak ONSTLAE van CELE asook AL die korrupte polisielede wat SELF kriminele rekords het. Ons gaan nooit die stryd wen met misdaad as die WORTEL van die kwaad nie uitgeroei word nie wat die korrupte, onbevoegde polisie lede is.

Renier johannes ·

Mkondo munsipaliteit is een van hulle wat geld wanbestee maak n plan

Sarel ·

Ek respekteer u Mnr. De Ruyter maar u weet ook dat u plaas u self in moeilike posissie.. Want in SA mag jy nie kritiseer nie…

Yvonne ·

My gebede vir Mnr de Ruyter en sy span…..hy het verseker n moeilike taak

Casper ·

Hoekom wil die munisipaliteite alleen sê hê oor die verkoop van krag?daar is soveel kommissies wat alles dophou,waar is die kommissie wat verbruikers beskerm teen uitbuiting deur munisipaliteite.

Johan ·

Nou ja. Die munisipaliteite ry ons bloots. Gisteraand krag gekoop R200 gee my nou 78 eenhede. Liewe hel omtrent R25 – R30 net om die geyser warm te kry. Belaglik!!!

john ·

skelms word deur senior polisie beamptes vrygelaat.. Dalk tyd om daai senior beamptes te begin ondersoek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.