Polisie sê jammer na Krugersdorp-slagoffers se besonderhede uitlek

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die nasionale polisiekommissaris het die slagoffers van die Krugersdorp-voorval waar agt vroue in Julie 2022 verkrag is, ’n openbare verskoning aangebied, maar dit blyk dat geen koppe gaan rol oor die uitlek van die slagoffers se persoonlike inligting nie.

Die skokvoorval het op 28 Julie plaasgevind toe ʼn groep van 12 vroue (onder wie sangeresse, modelle, aanbieders en ʼn grimeerkunstenaar) en tien mans besig was met die verfilming van ʼn musiekvideo. Hulle is deur ʼn groep gewapende mans wat in komberse geklee was, oorval en van die vroue is toe verkrag en die groep is beroof.

Die persoonlike inligting van die agt vroue, insluitend hul name en vanne, ouderdomme en fisieke adresse, het kort na die voorval op sosiale media uitgelek.

Genl. Fannie Masemola het destyds ’n interne departementele ondersoek na die aangeleentheid gelas.

Volgens brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, het die ondersoek bevind dat die persoonlike inligting van die slagoffers inderdaad onvanpas vrygestel is, maar dat dit nie met kwade bedoelings gedoen is nie.

“Dit regverdig egter steeds nie die deel van sulke inligting nie. Die inligting wat op verskeie interne WhatsApp-groepe van die SAPD gedeel is, het ten doel gehad om al die nodige rolspelers en hulpbronne te mobiliseer in ’n poging om diegene wat vir hierdie gruwelike misdaad verantwoordelik is, vas te trek.”

Mathe het gesê WhatsApp-boodskappe is gebruik om te kommunikeer weens die dringendheid om die verdagtes op te spoor.

“Ongelukkig is persoonlike inligting van die slagoffers in die WhatsApp-boodskappe op SAPD-WhatsApp-groepe bekend gemaak, en dit het op sosiale media beland. Die SAPD betreur die bekendmaking van sulke persoonlike inligting en vra die slagoffers van die verskriklike misdade om verskoning vir die inligtingskending en die swaarkry wat as gevolg daarvan veroorsaak is.”

Volgens Mathe gaan die SAPD-bestuur voort om voorskrifte uit te reik en interne bewusmakingsveldtogte binne die SAPD te dryf in ’n poging om ’n herhaling van sodanige inligtingsbreuk te voorkom.

Die bestuur van die SAPD het die versekering gegee dat hy daartoe verbind is om aan die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting te voldoen.

“Namens die SAPD vra ek onvoorwaardelik om verskoning aan die slagoffers en hul families,” het Masemola gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jack ·

Ja jammer is ongelukkig nie altyd goed genoeg nie.As dit by mense se privaat inligting kom gaan jy nie verskoon word nie en dui dit op onbevoegdheid in jou departement.Jammer maar op die stadium van die geveg gaan net julle totale hervorming en vervanging van personeel aanvaar word solank dit met geskikte mense gedoen word.Dink maar weer.

Danie ·

Die Wet is oortree en daar is geen kwade bedoelings wat was die bedoeling dan?Die Polisie en besonder ou Hoedman het n bespotting van die verkragtings gemaak amper n tipe belangstelling.Die polisie verdien geen respek of enige vertroue nie.End

Harley Davidson ·

Die woord ‘ south africa police’ het nou sinoniem geword met onbevoeg,pateties ,verleentheid. Ek dink as n bevoegde regering die land regeer moet die opleiding kolleges se opleiding hersien word en soos die nuwe opgeleide infasering begin moet hierdie onbevoegde klomp uitfaseer word .Die proses sal seker 20 jaar plus vat.

Schalk ·

En dit liewe mense is hoekom jy geensins iemand in blou vertrou nie. Groter skurke as die skurke op straat. Viva!! Viva!

TruthDealer ·

En die slagoffers moes seker uit hul eie sakke betaal vir trek na n nuwe woonplek – want watter verkragde vrou sou wou bly waar haar adres nou bekend is? Hierdie vroue is alreeds so getraumatiseer en miskien selfs senuwee-wrakke na die verkragtiging. Nou moet hulle nog hoor hul addresse en besonderhede is bekend gemaak. Pathetic and disgustingly unprofessional and inept.

SjN ·

Openbare veskoning gaan nie die probleem oplos nie, dagvaar die rook uit hul uit in persoonlike hoedanigheid aangesien daar nie teen hul opgetree word nie. Swak.

otter ·

as ek so kyk na daai foto , help ons , is al wat ek kan se !

Niklaas ·

En die verkragters stap sekerlik vry rond , want ons hoor nie van hofsake of strawwe nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.