‘Populistiese politiekery’ kan ekonomiese groei pootjie

(Argieffoto: Reint Dykema)

“Dit gaan ʼn uitdagende jaar vir ondernemings wees.”

Só sê Busisiwe Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership South Africa (BLSA), wat meen dat ʼn “ongekende vlak van geopolitieke stres” die wêreld in die gesig staar weens die onsekerheid wat die oorloë tussen Rusland en Oekraïne, asook tussen Israel en Hamas, veroorsaak.

Boonop vind ʼn rekordgetal verkiesings vanjaar wêreldwyd plaas.

Suid-Afrika is een van die lande wat later vanjaar stembus toe gaan, maar volgens Mavuso kan politieke veldtogte ʼn afleiding wees van die belangrike taak om die land te bestuur, “veral op ʼn deurslaggewende tyd soos nou waar vordering gemaak moet word in die groot uitdagings met ons ekonomie”.

“Daar is ook ʼn groter risiko dat populistiese beleid deur die parlement gedruk gaan word om by te dra tot partye se verkiesingsveldtogte,” sê sy.

“Die aanvaarding van die onwerkbare Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wys reeds hoe vernietigend hierdie soort skuiwe kan wees, aangesien die president reeds die afgelope naweek onderneem het om die wet te onderteken ‘of [die opposisie] daarvan hou of nie’.

“Natuurlik sal die wetgewing nooit werk nie, bloot omdat daar geen kapasiteit is om dit te implementeer nie en sodra dit onderteken is, sal dit in litigasie op verskeie fronte gewikkel word, insluitend die grondwetlikheid daarvan.”

In plaas daarvan om hierop te fokus, sê Mavuso daar moet op ekonomiese groei gekonsentreer word.

Ekonome het voorspel dat die ekonomie vanjaar slegs met 1,5% sal groei nadat dit verlede jaar met ʼn skamele 0,8% gegroei het.

“Dit is waarom dit voor die hand liggend is dat daar op hierdie groei gefokus word, maar populistiese politiek kan natuurlik hierdie pogings benadeel,” sê sy.

“Die NGV-wetsontwerp, byvoorbeeld, gee sakelui reeds rede om twee keer te dink oor of hulle in die toekoms op die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel sal kan staatmaak.

“Gesondheidswerkers, wat maklik elders in die wêreld kan gaan werk, is ook bekommerd oor hul toekoms.

“Dit is waarom hierdie besluite frustrerend is vir diegene van ons wat daaraan werk om die veranderinge teweeg te bring wat ekonomiese aktiwiteit in die regte rigting sal stoot.”

‘Gefokusde samewerking’

BLSA meen samewerking tussen die regering en sakelui is broodnodig om wêreldwyd die vertroue te skep dat Suid-Afrika besig is om sy verskeie uitdagings die hoof te bied.

Die regering en sakelui het reeds verlede jaar onderneem om saam te werk om die dringendste uitdagings vir ekonomiese groei, waaronder die kragkrisis, logistieke krisis, misdaad en korrupsie, te pak.

Mavuso sê daar is reeds vordering in hierdie opsig gemaak, maar dat dit belangrik is om die momentum van hierdie ooreenkoms te handhaaf terwyl dit verkiesingstyd is.

“Die logistieke krisis is byvoorbeeld een van die fasette wat dringend aandag benodig van sakelui, die regering en Transnet. Die struikelblokke wat uitvoerders in die gesig staar beperk ekonomiese bedrywighede wat beteken dat werkgeleenthede en inkomste, dus belasting, verlore gaan.”

Die Wêreld- Ekonomiese Forum begin vandeesweek in Davos, en Suid-Afrika word verteenwoordig deur ʼn afvaardiging van senior sake- en regeringsleiers byeengeroep deur Enoch Godongwana, die minister van finansies.

Mavuso sê die afvaardiging moet dit duidelik stel dat Suid-Afrika se demokrasie ʼn basis vir sy ekonomie is, wat die oppergesag van die reg en langtermynstabiliteit steun.

“Internasionale beleggers moet vertroue hê dat die demokrasie hier werk, en deur ons ekonomie te ondersteun, sal hulle beloon word,” sê sy.

“Ons land het die veerkragtigheid om oplossings te vind en ek is vol vertroue dat daar baie mense met goeie bedoelings in die regering en onder sakelui is wat saam betekenisvolle vordering sal kan maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Kom verkiesingsdag stem die BLSA lede weer ANC.

Herman ·

Aandag van bestuur aftrek? Dis presies wat hierdie land nodig het. Die enigste bestuur wat hier plaasvind is in die grond in

Suzette ·

Die anc is nie in staat om enigsins te verbeter nie…. al wat hulle sover suksesvol kon doen is verwoes. En hulle stu voort ten spyte van waarskuwings deur kundiges.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.