Prys van skoolklere gee ouers steeds grys hare

(Foto: HSH Tuisblad)

Asof skoolfondse nie duur genoeg is nie, vreet buitensporige pryse van skoolklere verder aan ouers se sakke.

Talle ouers sit met hul hande in die hare oor belaglike pryse vir skoolklere wat hulle weer vanjaar noodgedwonge moet betaal, omdat verskeie skole voortdurend kontrakte met spesifieke verskaffers aangaan of omdat skoolklere eksklusief by skole gekoop moet word.

Volgens Juané van der Merwe, adjunkhoof van die Federasie vir Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), is dit ʼn baie groot en duur probleem wat jaar ná jaar aangesleep word.

“Gedurende die 2023-skooltermyn het die mededingingskommissie bykans 200 klagtes van ouers ontvang wat hoofsaaklik met buitensporig hoë pryse vir skooluniforms verband hou.

“Dit is ʼn baie ernstige probleem wat veral gedurende die ‘terug skool toe’-termyn die kollig geniet,” sê Van der Merwe.

“Wanneer verskaffers van skoolklere met mekaar vir klante meeding, word hulle voortdurend aangemoedig om hul gehalte te verbeter en hul pryse te verlaag. Ongelukkig is die teenoorgestelde ook waar – wanneer verskaffers nie meeding nie, soos wat nou die geval is, verdwyn die aansporing om maniere te vind om hul pryse te verlaag.”

Sy sê laasgenoemde  gebeur wanneer daar nie ʼn behoorlike bedingingsproses gevolg word nie en skole ʼn eksklusiewe ooreenkoms met ʼn enkele verskaffer sluit.

“Eksklusiewe skoolklere – met ʼn spesifieke handelsmerk – verplig ouers ook om by ʼn spesifieke verskaffer te koop wat beteken dat hulle nie die opsie het om rond te kyk vir die beste pryse nie.

“Skole moet hul bedingingsmag gebruik om met verskaffers oor mededingende pryse te onderhandel. Skole moet hul skooldrag ook so generies moontlik maak sodat ouers dit by verskeie verskaffers kan koop, nie slegs by een nie,” sê Van der Merwe.

Luister hier hoe Van der Merwe meen bogenoemde bereik kan word.

Die mededingingskommissie het in 2021 reeds ingestem dat skole eksklusiewe ooreenkomste met verskaffers van skoolklere moet laat vaar. Min het egter sedertdien verander.

In ʼn onderhoud met eNCA het Karabo Motaung, woordvoerder van die kommissie, gesê skole moet nie dink dat hulle nié vervolg sal word as hulle met hierdie gedrag aanhou nie.

Sy het bygevoeg dat ouers wat steeds gedwing word om by skole of spesifieke verskaffers te koop, welkom is om klagtes by die kommissie in te dien.

(Foto: Facebook/De Ville’s Men’s Outfitters and school wear)

“Die kommissie het al riglyne verskaf wat gesonde mededinging tussen skoolverskaffers bevorder, soos generiese skoolklere wat beskikbaar is by talle verskaffers,” het Motaung gesê.

“Skole moet meer as een verskaffer aanstel om aan ouers verskeie opsies te bied, eksklusiwiteit moet beperk word tot items wat die skool as noodsaaklik beskou en eksklusiewe ooreenkomste moet tussen drie en vyf jaar duur.”

Volgens die kommissie is mededinging tussen verskaffers van skoolklere belangrik omdat dit ouers én ander ondernemings bevoordeel.

“Mededinging maak dit vir nuwe ondernemings moontlik om die mark te betree en moedig firmas aan om laer pryse en produkte van beter gehalte aan te bied. Dit dra ook by tot ekonomiese groei deur onder meer werksgeleenthede te skep en verbruikerskeuses te verhoog.”

Die Morele Heroprigtingsbeweging (MRM) in Noordwes het ook ʼn beroep op skoolbeheerliggame gedoen om “verskaffersmonopolieë vir skole te beëindig, wat buitensporige pryse vir skooldrag vra en dit vir talle ouers onbekostigbaar maak”.

“Ons verwelkom die ondersoeke wat tans deur die mededingingskommissie gedoen word om skole te vervolg wat nie eksklusiewe ooreenkomste met verskaffers laat vaar het nie,” sê Lesiba Kgwele, sameroeper van die MRM se provinsiale tussentydse komitee.

Hy het ʼn beroep op die regering gedoen om die politieke wil bymekaar te skraap om monopolieë in die skooldragwaardeketting te skrap.

“Hulle kan begin deur generiese skoolklere vir openbare skole voor te skryf en bemagtigingsgeleenthede vir klein ondernemings in armer gemeenskappe te bied.”

Hy het ook ʼn beroep op openbare skole gedoen om die versoeking te weerstaan ​​om eksklusiwiteitsbeleide te volg, wat deur die meeste privaat skole gevolg word.

Hy voer verder aan dat kinders uit arm huishoudings die geleentheid gebied moet word  om menswaardigheid en materiële welstand te bereik.

(Foto: HSH Tuisblad)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Dis sommer nonsens. Laat privaatskole hul eie, unieke skooldrag hê, want dié ouers kan dit bekostig, maar gewone, openbare skole se leerders moet uniformeel geklee gaan … gewone wit hemp, grys broek/romp sonder enige embleme of spesifieke das/kenmerke. Baie ouers kan eenvoudig nie dit bekostige om R300 vir ‘n gewone broek/skoolromp en R400 vir ‘n hemp met die skool se embleem op die sak te betaal nie. En elke kind het die reg om ordentlik geklee skool toe te gaan.

Chante ·

Ek het byna R3000 vir 8 hempies en 4 rompies (2 kinders) betaal. Dit moet elke jaar gedoen word aangesien hulle nou eers graad 1 is, en die klere nie na hierdie jaar gaan pas nie. Dit is belaglik!

SwartBees ·

Een skool rok – R500.
Skryfbehoeftes vir x2 – R3000
Unbranded wit tekkies – R500. Ek het vir my kiddos wit nikes gekoop by n factory shop wat baie goedkoper was – x2 pare vir onder R500.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.