Ramaphosa die waarskynlike wenner by ANC-konferensie

Hilda Mulayo, ʼn veteraan van die ANC-vroueliga en voormalige skoolmaat van pres. Cyril Ramaphosa by die ANC-verkiesingskonferensie (16 Desember 2022) (Foto: Marco Longari/AFP)

Cyril Ramaphosa sal waarskynlik by die ANC se 55ste nasionale verkiesingskonferensie weer as leier verkies word, ondanks die Phala Phala-skandaal.

Sowat 4 500 afgevaardigdes van reg oor die land sal in die party se vyf dag lange verkiesingskonferensie by Nasrec in Johannesburg hul stem uitbring.

Ramaphosa hoop om die leisels van die ANC in sy hande te behou terwyl die party ná 28 jaar aan bewind met onderlinge magskwessies sukkel.

Hy het in 2017 by Jacob Zuma oorgeneem toe die oudpresident in ʼn korrupsieskandaal gedompel is.

Bewerings dat hy ʼn grootskaalse diefstal by sy plaas weggesteek het, het Ramaphosa se skoon-hande-beeld beskadig.

Analiste glo egter die 70-jarige leier is steeds op koers om weer as leier aangewys te word.

“Die ANC het Ramaphosa nodig. Hy sal wen,” het politieke skrywer Ralph Mathekga gesê. “Selfs diegene wat hom haat, wil hê hy moet wen.”

Die ANC-verkiesingskonferensie by Nasrec in Johannesburg (Foto: Marco Longari/AFP)

Buite die lokaal, gedrapeer met die party se groen, geel en swart kleure, het ʼn groep afgevaardigdes in isiZulu gesing dat Ramaphosa die presidensie moet laat vaar oor die Phala Phala-skandaal. Hulle het ook ʼn gewilde pro-Zuma-lied gesing.

Zuma het op die vooraand van die konferensie aangekondig dat hy van voornemens is om Ramaphosa privaat te vervolg oor ʼn uitgelekte mediese verslag wat met die 1990’s wapenkorrupsiehofsaak verband hou. Dié hofsaak sal waarskynlik nie Ramaphosa verhinder om ʼn tweede keer as ANC-leier verkies te word nie.

ʼn Oorwinning by die konferensie sal vir Ramaphosa die weg baan om in 2024 weer tot president verkies te word as die ANC die nasionale verkiesing wen.

Ramaphosa het die afgelope week ook ʼn stemmery in die parlement gewen toe die meerderheid teen ʼn verslag gestem het om hom in ʼn staat van beskuldiging te plaas.

Hy loop voor op die lys van slegs twee genomineerde presidensiële kandidate tot dusver en is die mees lewensvatbare opsie in die afwesigheid van ander leiers.

Die oorwinning in die parlement vandeesweek “het waarskynlik sy moontlikheid tot herverkiesing verstewig omdat dit alle onmiddellike onsekerheid verwyder het”, sê politieke analis Susan Booysen.

Dr. Zweli Mkhize. (Foto: Marco Longari/AFP)

Sy teenkandidaat is die voormalige gesondheidsminister Zweli Mkhize, wat verdink word van korrupsie met Covid-19-fondse.

“ANC-lede kan oneerlik wees, maar hulle is nie idiote nie,” sê Mathekga, outeur van The ANC’s Last Decade. “Hulle weet dat hulle nie op Mkhize kan staat maak nie.”

Ramaphosa het Donderdagaand tydens ʼn geldinsamelingsete gesê die konferensie is “ʼn waterskeidingsoomblik” vir die ANC en Suid-Afrika. Sy regering moes “die skip deur stormagtige en onverwagse rowwe water stuur”, het hy gesê met verwysing na die pandemie, oorstromings, onluste, en ʼn lewenskostekrisis weens die oorlog in Oekraïne.

Die ANC het ook sy eie “turbulensie” ervaar, het hy erken. “Die konferensie sal nie net bepaal waarheen Suid-Afrika die volgende vyf jaar op pad is nie, maar die volgende dekade en daarna.”

Die party het die afgelope dekade sy greep op sleutelstede in munisipale verkiesings verloor. Op ʼn nasionale vlak het die ANC die 2019-verkiesing met 57,50% van die stemme gewen, ʼn daling van die 62,15% in 2014. Dit bly Suid-Afrika se grootste party met 230 uit die 400 setels in die Nasionale Vergadering.

Wie ook al as oorwinnaars uit die stryd tree, sal egter die land moet beheer te midde van beurtkrag en grootskaalse armoede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.