Zuma-stigting wil Ramaphosa privaat vervolg

Jacob Zuma (Foto: Phill Magakoe / AFP)

Pres. Cyril Ramaphosa is in ʼn privaat vervolging strafregtelik deur die JG Zuma-stigting aangekla.

Mzwanele Manyi, woordvoerder van die JG Zuma-stigting, het Donderdagaand op die vooraand van die ANC se nasionale konferensie in ʼn verklaring gesê Ramaphosa word aangekla as ʼn medepligtige tot misdade wat deur onder andere adv. Billy Downer gepleeg is.

Downer is die staatsaanklaer in Zuma se korrupsiesaak.

“Die ernstige misdade waarvoor mnr. Ramaphosa in ʼn hof aangekla word, dra ʼn vonnis van 15 jaar tronkstraf,” het die stigting bygevoeg.

Manyi sê Zuma het die privaat vervolging Donderdag by die Johannesburgse hooggeregshof ingestel. Ramaphosa moet na bewering op 19 Januarie 2023 in die hof verskyn.

Ramaphosa het Vrydagoggend vroeg reageer en Zuma se “misbruik van regsprosesse” en verdraaiing van die nolle prosequie-bepaling “met absolute minagting” verwerp.

Die Strafproseswet bepaal dat privaat vervolging slegs ingestel mag word nadat die persoon, wat die vervolging wil instel, ʼn nolle prosequie-sertifikaat (ʼn bevestiging dat die staat die saak nie verder gaan vervolg nie) bekom het.

Zuma het nie bevestig dat hy só sertifikaat bekom het nie.

Die ANC se 55ste nasionale verkiesingskonferensie vind vanaf Vrydag by Nasrec in Johannesburg plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.