Ramaphosa gaan teen besluit oor Zoeloekoning appelleer

Koning Mswati III, Zoeloekoning Misuzulu Zulu Zwelithini en pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdag in ʼn verklaring gesê dat hy Maandag teen die hooggeregshof se besluit “dat die staat se erkenning van koning Misuzulu Zulu Zwelithini onregmatig was” gaan appelleer.

Hy sê ook dat Misuzulu koning sal bly terwyl die appèl van stapel gestuur word.

Maroela Media het vroeër berig dié beslissing het dalk nog ʼn stryd vir die troonopvolging aangewakker.

Die hof het pres. Cyril Ramaphosa beveel om ondersoek in te stel of die onstuimige toetreding van Misuzulu in ooreenstemming met gewoontereg gedoen is.

Ná die dood van sy pa, Goodwill Zwelithini, is Misuzulu (49) in 2021 aangewys as monarg vir die meer as 11 miljoen Zoeloes wat in Suid-Afrika woon. Hy moes egter tot Augustus verlede jaar gewag het om amptelik gekroon te word ná ʼn bittere vete oor die troonopvolging. Die koning se ouer broer, prins Simakade Zulu, het vir die onlangse beslissing gevra.

Ramaphosa het ʼn beroep op alle lede van die koninklike familie gedoen om aan te hou om “vir die eenheid van die Zoeloe-volk” te werk en om die belange van sy majesteit se onderdane te prioritiseer.

“Dit is noodsaaklik dat alle behoorlike prosesse gevolg word om die natuurlike gevolgtrekking te bereik sonder om spanning aan te wakker,” lui die verklaring wat deur die presidensiële woordvoerder, Vincent Magwenya, uitgereik is.

Zoeloekoning Misuzulu kaZwelithini. (Foto: Rajesh Janitilal/AFP)

Kenners is verdeeld oor watter uitwerking dit op die koning se aansien sal hê, maar sê ʼn besluit kan nog baie lank neem.

“Hierdie situasie gaan eskaleer omdat daar baie geld op die spel is,” het die historikus en kultuurontleder, Pitika Ntuli, aan AFP gesê.

“Daar is hulpbronne betrokke … en grond.”

Misuzulu Zulu het byna 30 000 vierkante kilometer grond geërf – amper so groot soos België – wat deur ʼn trust bestuur word waaruit hy inkomste kan ontvang.

Koning Goodwill Zwelithini, wat bekend is vir sy weelderige leefstyl, het sowat R1,5 miljoen ($82 000) per jaar in die sak gesteek saam met ʼn begroting van $4,2 miljoen om sy koninkryk te bestuur.

“Zoeloe-opvolging word deesdae op ʼn baie Westerse manier beskou,” het prof. Gugu Mazibuko, kultuurkenner in Afrikatale verbonde aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, aan AFP gesê.

“Ons kan nie vergelyk word met Engeland waar daar ʼn duidelike lyn van opvolging is nie, ons kultuur verskil hemelsbreed,” het sy gesê.

Die Zoeloe-nasie is Suid-Afrika se grootste etniese groep. Die monarg word deur Suid-Afrika se Grondwet erken. Terwyl die koning geen uitvoerende magte het nie, oefen hy wydverspreide morele gesag uit.

Volgens Ntuli het Suid-Afrika met die koms van demokrasie in 1994 nie daarin geslaag om gewoontereg en verwante wette behoorlik te verwerk nie, wat baie “skuiwergate” gelaat het.

Hoewel dit nie die eerste keer is dat die Zoeloe-troon betwis word nie, “is die verskil dat eietydse howe nie betrokke was nie”, het Mazibuko gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die groep moet wegbreek en hul eie onafhanklike land stig. Hier in die WK het hul doen en late niks met ons uit te waai nie.

Ore ·

Hoekom het ons nog howe? Almal apelleer ongeag of daar ‘n ander uitkoms kan/gaan wees. Die howe regeer die land, nie die politici nie. Hoeveel tyd en geld is al spandeer tussen politici wat heeltyd die howe nader? Dit terwyl daar duisende sake is wat dringender is as die geredekawel tussen politici

minnie muis ·

rampie moet eerder bepaal by ekonomie …..en ons betaal die “koningshuis’ se narre

Johann ·

Natal is 94,361 km² As hy 30 000 km² besit Besit hy ‘n derde van Natal Dit maak hom die grootste grond eienaar in RSA Sit Pala pala en Nkantla by Nou waar is die siening dat blankes die grootste grond eienaars is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.