‘Ramaphosa hét vraag oor wildsplaas beantwoord’

Pres. Cyril Ramaphosa (10 Junie 2022) (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die presidensie ontken dat pres. Cyril Ramaphosa ’n vraag oor die diefstal op sy wildsplaas Phala Phala Dinsdag in die parlement ontduik het. Die presidensie hou ook vol Ramaphosa is meer as bereid om oop kaarte oor dié sage te speel.

“Ná die behoorlike lees van die vraag hét president Ramaphosa wel die vraag beantwoord,” sê  Vincent Magwenya, Ramaphosa se woordvoerder.

Maroela Media het vroeër vandag berig Ramaphosa het Dinsdag aanlyn vrae in die parlement geantwoord toe dit weer in chaos ontaard het omdat sommige LP’s van opposisiepartye nie gelukkig met Ramaphosa se antwoord was nie.

Daar is onder meer aan Ramaphosa gevra “of … hy dit verstandig ag om die nasie in sy vertroue te neem oor die ernstige aantygings rakende sy Phala Phala-plaas … deur aan die mense van Suid-Afrika rekenskap te gee en oor die spesifieke kwessie in die Nasionale Vergadering te praat”.

Ramaphosa het daarop geantwoord dat hy slaggereed is om die nasie in sy vertroue te neem en dat hy dit deur die nodige wetlike en parlementêre prosesse sal doen.

“Ek het gereageer, en sal voortgaan om te reageer, op al die vrae wat deur die betrokke owerhede aan my gestel is,” was die president se woorde.

“Hoewel daar duidelik individue en organisasies is wat politieke myle uit hierdie kwessie wil kry, is die gepaste reaksie dat die reg sy gang moet gaan.”

Ramaphosa het voorts gesê dit is noodsaaklik dat die behoorlike proses gevolg word, waaronder die artikel 89-proses wat die parlement self begin het.

“Ek staan hier as Cyril Ramaphosa wat nie onwillig is om aanspreeklik gehou te word nie. Ek wil ten volle verantwoordbaar wees en ek sê weereens dat dit belangrik is. Diegene wat met hierdie sake te doen het, het ook gesê dit is belangrik dat ons tyd en ruimte gegun word om al die aspekte van hierdie saak te hanteer.”

Magwenya sê dit is duidelik uit die president se antwoord dat hy dit verstandig ag om deur die behoorlike prosesse verantwoording te doen oor die Phala Phala-sage.

Magwenya wys voorts daarop dat Ramaphosa se antwoord op die vraag ooreenstem met wat die president vanuit die staanspoor gesê het en dít is dat daar geen grondslag is vir die eise van strafregtelike optrede wat teen hom gemaak is nie.

Ramaphosa hou vol dat hy enige inligting sal verskaf wat die betrokke owerhede vereis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Waarnemer ·

Kort en kragtig cyril,net n ja of n nee,!het jy of het jy nie ongeveer $4 miljoen in jou huis op pala pala versteek nie?

domheks ·

Natuurlik het hy! Maar probeer nou toesmeer met cele aan sy sy!

Samuel ·

Uiters ontwykende antwoord. Presies so JZ. Die waarheid sal nooit uitkom nie.

marius ·

Het jy hulle geld aangebied om stil te bly of nie ? Jy het niks geantwoord nie .

Watsenaam ·

Is die “step aside” reel net op sekere “comrades” van toepassing, of verstaan ek verkeerd? Is die “step aside” reel nie dat as daar n betrokke hof-geding teen een van die comrades gebring word, die persoon nie n ministrieele pos mag beklee totdat sy saak voorgekom en opgelos is nie? Hierdie is n ernstige klag teen die pres. en as hoof van n land kom dit amper op “meineed” neer. In die ou dae mag geen parlementerier n besigheid besit het, of aan enige ander ekonomiese bedrywigheid, deel gehad het nie,. Het dit nou verander?

koos ·

Hoe weet mens as iemand van die huidige regime lieg? As hulle lippe beweeg…..of hulle lang vingertjies iets op ‘ n elektoniese apparaat tik

Johann ·

Sien hyt mooi geleer by Zumpi. Lieg homself uit elke hoek in n sirkel terwyl hy omring is van sy kaders wat hom beskerm. Karakterlose leunaar. En gaan daarmee wegkom soos al die ANC comrades.

Pietertjie ·

Net soos Zuma wat al die jare gespog het dat hy nie kan wag vir sy dag in die hof nie.

Wondermaarnet ·

Hy het nie gesê waar hy die miljoene US dollars gekry het nie en ook nie waarom dit in sitkamerbanke weggesteek was nie.

Jaco ·

En in die ou SA het ek gedink dis erg dat president PW Botha weermagvervoer en -fasiliteite gebruik het wanneer hy tydens sy vakansies gaan jag het….

Swerwer ·

Die wesens is almal ewe korrup en agteraf. Al wat hul kan doen is om saam te staan want die een lieg harder as die ander een.

Marelize ·

En wanneer gaan hierdie land weer ‘n eerlike president kry – sal maar nie my asem op hou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.