Ramaphosa oortree nie geldwet

President Cyril Ramaphosa buite NASREC op 5 Desember 2022 (Foto: Marco Longari / AFP)

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) het bevind nie Cyril Ramaphosa, of enigiemand op sy plaas, het enige valutabeheerregulasies oortree nadat derduisende dollar op die wildsplaas Phala Phala gesteel is nie.

Die SARB het sy ondersoek na die Phala Phala-sage op 14 Augustus afgehandel. Die ondersoek het ʼn jaar geneem om te voltooi en is van stapel gestuur na aanleiding van bewerings wat verlede jaar deur Arthur Fraser gemaak is dat die president probeer het om die diefstal op sy plaas in Limpopo geheim te hou. Die voorval het in Februarie 2020 plaasgevind en die geld was glo in ʼn rusbank versteek. Die SARB het ook klagtes van verskeie partye, insluitend politieke partye, ontvang.

“Gegrond op die feite tot sy beskikking, kon die SARB geen bewyse van ʼn transaksie vind nie, en kon hy dus nie tot die gevolgtrekking kom dat enige valutabeheerregulasies deur Ntaba Nyoni Estates óf die president oortree is nie,” sê die bank nou. Eersgenoemde is die maatskappy wat die plaas besit.

Volgens die bank het sy ondersoek tot die gevolgtrekking gekom dat die betrokke transaksie onderworpe was aan bepaalde voorwaardes, maar dat daar nooit aan dié voorwaardes voldoen is nie en dat Ntaba Nyoni Estates dus nie op die buitelandse valuta geregtig was nie.

Die president het verlede jaar in ʼn verklaring aan ʼn onafhanklike paneel wat die gebeure moes ondersoek, gesê die geld was vir die verkoop van Ramaphosa se buffels aan ʼn Soedanese sakeman. ʼn Kwitansie vir ontvangs van die geld is uitgereik, maar die buffels het ten tye van die paneel se ondersoek steeds op Ramaphosa se plaas rondgeloop.

Die artikel 89-paneel het gevolglik bevind dat Ramaphosa hom moontlik aan ernstige oortredings en wangedrag skuldig gemaak het na afloop van die voorval op die plaas. ʼn Verslag van die Openbare Beskermer het hom egter later van alle blaam onthef.

Die Reserwebank se volledige verslag sal nie bekend gemaak word nie weens “wetlike vereistes en beperkings”. “Weens die ‘wesenlike openbare belang’ van die saak, het die Reserwebank egter besluit om inligting rakende die verslag bekend te maak,” sê die bank.

Die SARB het benadruk dat sy mandaat slegs was om te bepaal of daar oortreding van valutabeheerregulasies was met betrekking tot die geld wat gesteel is, en dat enige ander beweerde oortredings deur die toepaslike wetstoepassingsowerhede ondersoek moet word.

Die president se kantoor het Maandag in ‘n kort verklaring gesê hy neem kennis van die bevindings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Amelia ·

Niks anders verwag nie die hele anc onaantasbaar maar as dit nou ander persoon was ??

Koos 100 ·

Geldwassery 101 in die wildsbedryf. Geld wissel hande maar die wild nooit nie.

Wondermaarnet ·

Nou kan ek my dolloars onder my kooi uithaal sonder enige nagevolge. Jippie!

Daisy ·

So my Amerikaanse Dollars onder my bed is OK? Ek hoef dit nie te verklaar nie en nie te verduidelik hoe dit daar kom of wat ek beplan om daarmee te doen nie.
Sjoe dis ‘n verligting

Mariana ·

Wat ‘n klug is die spul nie? Maak nie saak wat hulle doen nie, hulle is altyd onskuldig, al staan die skuld oor hul gesigte geskryf.

hpven ·

Goed, dit maak dieselfde deure vir ons almal oop. Wat goed is vir een is goed vir almal…

Fluisterwind ·

‘n Deursigtige en eerlike benadering kan die vertroue van die publiek in die regering en die president versterk. Die teendeel is ook geldig en waar. Dit is belangrik dat die bevolking volle inligting het oor sake wat ‘n invloed op die land se leierskap en regering kan hê.

Republikein in die Wes Kaap ·

Jy het uitsonderlike vertroue in SA politici wat deur die bevolking verkies is.

Andre ·

Wat in die wereld het geword van FIC wet??Hierdie is geld wassery in die hoogste graad

efjy ·

Nonsens. As die geld dan so wettig was, waarom word dit dan in ‘n rusbank versteek.
Het die SARBK op enige doeane verklaring afgekom deur ‘n lughawe hoe die geld die land binne gekom het?
Hoe lank was die geld op die plaas versteek.

Martie Smartie ·

Ha ha ha wat ‘n groot joke. Wed julle as dit ek was, het 40 lede vd hawks op my toegesak binne n dag of twee. President my alie man

Suzette ·

Aan die Reserwe bank en SARS: as ek nou soveel geld in my besit het en julle vind daarvan uit, gaan ek oor dieselfde kam geskeer word? Indien wel, gaan ek summier reël dat soveel dollars of ponde aan my gestuur word.

Papsak ·

Ja beskerm hom maar hy bly skelm net soos Zuma want dit is mos hoe anc operate beskerm hulle boeties maar laat dit nou iemand anders was was hy of hulle lankal toe gesluit lekker land die daarom lyk SA so

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.