Ramaphosa sê oor sy regering se verhouding met Amerikaners

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa sê die opvatting dat Suid-Afrika se standpunt oor die konflik in Gaza tot ’n verswakking in sy betrekkinge met die Verenigde State kan lei, is totaal ongegrond.

“Dit is ’n standpunt wat toenemend deur al hoe meer lande reg oor die wêreld ingeneem word.”

Ramaphosa sê in sy jongste nuusbrief Suid-Afrika se standpunt oor die oorlog stem boonop ooreen met die resolusies van die Verenigde Nasies.

Dít is waarom Ramaphosa Maandag se nuusbrief daaraan gewy het om die “wanpersepsies” oor Suid-Afrika se buitelandse beleid reg te stel.

Die nuusbrief volg kort nadat ’n komitee van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers verlede week weer ’n voorgestelde wetsontwerp bespreek het wat ’n volledige hersiening van die bilaterale verhouding tussen die Verenigde State en Suid-Afrika sal vereis.

John James, ’n Republikeinse verteenwoordiger vir Michigan, het tydens die besprekings teenoor Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, uitgevaar. Sy het net verlede week Washington besoek.

“Minister, jy kan nie verwag om my lewensmaat te wees, my te verneuk en dan ontsteld te wees as ek dit oorweeg om op te hou om jou huur te betaal nie,” het James aan Pandor gesê met verwysing na haar onlangse oproepe dat pro-Palestynse betogers na die ambassades van ondersteuners van Israel opruk.

Tog hou Ramaphosa nou dae later in sy nuusbrief vol dat Suid-Afrika se verhouding met die VSA gekenmerk word deur wedersydse respek en ’n gewilligheid om in konstruktiewe dialoog betrokke te raak, “selfs oor kwessies waar ons verskil”.

Pres. Cyril Ramaphosa en VSA-pres. Joe Biden (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

So lyk SA se buitelandse beleid aldus Ramaphosa

Ramaphosa sê ’n belangrike vertrekpunt rakende Suid-Afrika se buitelandse beleid is dat Suid-Afrika sedert die koms van demokrasie in 1994 daarna streef om vrede, veiligheid en ontwikkeling op die Afrika-kontinent en wêreldwyd te bevorder.

“Suid-Afrika het ’n onverbonde posisie in ons internasionale betrekkinge ingeneem. Ons het doelbewus vermy om ons land in lyn te bring met enige van die groot moondhede of blokke. Ons het eerder gepoog om hartlike betrekkinge met alle lande te smee.

“Terwyl ons ’n nie-gebonde standpunt ingeneem het, gaan ons voort om standpunte na te streef wat in ooreenstemming met die VN-handves is.”

Ramaphosa sê dan Suid-Afrika poog om ’n inklusiewe en verteenwoordigende wêreldorde te bevorder, om multilateralisme te versterk en om die oplossing van konflik deur dialoog te bevorder.

“Dit is in die nastrewing van hierdie benadering dat Suid-Afrika hard daaraan werk om sy betrekkinge met lande oor die wêreld heen, ook die Verenigde State, te versterk.”

Ramaphosa sê die versterking van bande tussen die twee lande was juis een van die belangrike kwessies wat Pandor verlede week tydens haar besoek aan Washington met Amerikaanse amptenare bespreek het.

Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking. (Argieffoto: Jacoline Schoonees/Dirco)

SA, VSA nog altyd goeie vennote

Volgens Ramaphosa kon die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse regerings tot op hede hul onderskeie standpunte oor omstrede kwessies – soos die Russiese skip Lady R in Simonstad, die konflik tussen Rusland en Oekraïne sowel as die konflik in Gaza – op ’n openhartige en deursigtige wyse deel.

Ramaphosa sê een van die twisgebiede waaroor daar baie kommentaar gelewer is en inligting volgens hom verkeerd versprei is, is die standpunt wat Suid-Afrika oor die konflik in Gaza ingeneem het.

“Daar is veral gefokus op die saak wat Suid-Afrika voor die Internasionale Geregshof gebring het,” sê hy.

“Ons aansoek by die hof strook nie net met ons verpligting as ’n ondertekenaar van die Volksmoordkonvensie nie, maar ook die oproep wat ons nog altyd gemaak het vir ’n inklusiewe onderhandelde oplossing van die Israel-Palestynse konflik. Hierdie standpunt stem ooreen met VN-resolusies. Ons het nog altyd die wettige aspirasies van Palestyne na selfbeskikking en staatskaping, en van die staat Israel na vrede en veiligheid gesteun.”

Ramaphosa hou dus deurgaans vol dat Suid-Afrika “sterk ekonomiese, politieke en sosiale bande” met die VSA het.

Foto: Flicker/GovernmentZA

“Ons onthou die steun van die Amerikaanse volk tydens ons stryd vir demokrasie. Oor die afgelope 30 jaar het ons ’n ondersteunende, wedersyds voordelige en samewerkende verhouding tussen ons twee lande gehad en het steeds.

“Ons is dankbaar vir die ondersteuning wat die VSA oor baie jare aan Suid-Afrika verskaf het in die stryd teen MIV/vigs. Die PEPFAR-program het aansienlik bygedra – en dra steeds by – tot die merkwaardige vordering wat ons gemaak het om vigs te hanteer.

“Suid-Afrika en die VSA het stewige en groeiende handel- en beleggingsbande. Suid-Afrika is die tuiste van meer as 600 Amerikaanse maatskappye en die VSA is die tweede grootste bestemming vir Suid-Afrikaanse uitvoer. Sommige van ons groot maatskappye, soos Sasol, het aansienlike beleggings in sleutel‑ ekonomiese sektore in die Verenigde State gemaak.

Ramaphosa verwys dan spesifiek na die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (beter bekend as Agoa) wat aan kwalifiserende Afrika-lande belangrike toegang verleen tot belastingvrye uitvoer na die Amerikaanse mark.

“Daar is groot potensiaal om ons verhouding met die Verenigde State verder te ontwikkel en maniere te vind om saam te werk vir ’n vreedsame, meer stabiele en regverdige wêreld.

“Suid-Afrika sal voortgaan om vaste en vriendelike betrekkinge met lande reg oor die wêreld te soek in die strewe na ’n beter wêreld,” sluit Ramaphosa af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Kokerboom ·

Die man het totaal tred met werkliheid verloor! As hy sy mond oopmaak dan lieg hy. Seker die swakste president ooit!

Leeubekkie ·

Hou op heuel Ramaphosa. Wat van die volksmoord in jou eie land?

Vrijburger ·

Nee wat, optrede spreek duideliker as woorde – Ramaphosa gaan die regering nie so maklik uit hierdie een praat nie.

Bevorder geregtigheid - Vrydenker Vlakvark ·

Waarom draai die ANC nie Hamas se arm sodat Hamas onverwyld AL die 7 Oktober gevangenis sonder voorbehoud vrylaat nie? Ek het geen respek vir die ANC-leierskap nie.

Marthinus W ·

Daar is niks verkeerd met Cyril se argumente nie; hy is pragmaties, en realisties. Dis Amerika, wat die probleem is; oor wie ons kan aanhaal: “ek is n jaloerse god wat geen ander gode voor my aangesig duld nie”. Nie vreeslik demokraties nie.

Papsak ·

Hy kan net lieg kyk na SA as hulle wil praat van volksmoord mooi voorbeeld daar steek niks goeds in Ramaphosa nie

Anel ·

Wat kan mens sê? Cr is defnitief nie die predident van Suid Afrika nie. Hy het nie ‘n idee wat hier aangaan nie! Hoe dom dink hy is die Suid Aftikaanse publiek????

Jakes ·

Ramaphosa het kat by die stert beet. Na die volgende VSA verkiesing gaan Trump weer die president wees en ons weet wat hy van Ramaphosa en die ANC dink. Ramaphosa is sekerlik die grootste liegbek onder die son.

M ·

Ons wag maar vir die oordeel van die Amerikaners rakende hierdie saak. Daar kom ‘n groot skok vir Ramaphosa.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ramaphosa en sy regime kan net een meester dien. Hulle moet hul keuse maak.

skurweberg ·

As die President dink dat hy saamwerk aan ‘n poging om ” ‘n inklusiewe en verteenwoordigende wêreldorde” te bevorder, het ek vir hom baie slegte nuus, veral as hy ‘n voorstaander is van ‘n valse vrede, lees Jesaja 44:6-23. If the President thinks he is cooperating in an effort to promote “an inclusive and representative world order”, I have very bad news for him, especially If he are an advocate of a false peace. Isaiah 44:6-23

Grassie ·

Die foto wys net “The Bad and the Ugly” The “Good” ontbreek.

Loun ·

Dis daai swart ding van agtergeblewe wees…. al doen ek ook wat sal almal my jammer kry en net vergewe en ondersteun…..
Sorry né, daai deuntjie raak nou afgesaag….

Johan Botha ·

As jy lank genoeg leuens verkondig word die leuens uiteindelik as waarheid aanvaar. Dis tipiese terroriste-taktiek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.