Ramaphosa skors twee regters

Die hooggeregshof in Johannesburg. (Foto: Ashraf Hendricks / GroundUp)

Pres. Cyril Ramaphosa het twee Gautengse regters, Tshifhiwa Maumela en Nomonde Mngqibisa-Thusi, geskors terwyl die Regterlike Gedragstribunaal (RGT) klagtes van wangedrag teen hulle ondersoek weens lang vertragings in die lewering van uitsprake.

Vincent Magwenya, Ramaphosa se woordvoerder, sê dié besluit is ingevolge art. 177(3) van die Grondwet geneem, wat magte aan die president verleen om ʼn regter op aanbeveling van die Regterlike Dienskommissie (RDK) te skors.

Ramaphosa het hoofregter Raymond Zondo en die geskorste regters reeds van sy besluit ingelig.

Die RDK het vroeër ʼn aanbeveling aan Ramaphosa gedoen om Maumela en Mngqibisa-Thusi voorlopig te skors weens hul versuim om verskeie hofuitsprake wat voorbehou is, te lewer.

Die twee regters het talle uitstaande uitsprake wat lankal die tydsbeperkings wat deur die regterlike norme en standaarde voorgeskryf word, verbygesteek.

Maumela, wat ook die voorsittende regter in die voortslepende Senzo Meyiwa-moordsaak is, is daarvan beskuldig dat hy tussen 24 en 26 maande met 12 uitstaande uitsprake gesloer het.

Die regters moet steeds al hul hangende sake afhandel.

Maroela Media het vroeër berig dat nie al die regters wat in die RDK dien, aanbeveel het om Maumela en Mngqibisa-Thusi te skors nie.

Slegs twee van die vier regters in die RDK het wel aanbeveel dat Maumela en Mngqibisa-Thusi voorlopig geskors word. Een is appèlhofregter Dumisani Zondi wat sy beslissende stem gebruik het. Regter Nambitha Dambuza het saam met hom gestem.

Regters Phineas Mojapelo en Margaret Victor was egter van mening dat skorsing ʼn te swaar straf is.

Maumela het vertragings destyds toegeskryf aan swak gesondheid en persoonlike kwessies. Al sy uitstaande uitsprake is intussen afgehandel nadat die Gautengse regter-president, Dunstan Mlambo, klagte teen Maumela en Mngqibisa-Thusi aanhangig gemaak het.

Mngqibisa-Thusi het op haar beurt ook persoonlike gesondheid- en gesinskwessies geopper as ʼn rede waarom sy nie 20 uitsprake binne die voorgeskrewe tydperk gelewer het nie.

Mngqibisa-Thusi het in Februarie 2021 al uitspraak voorbehou in ʼn dispuut tussen die departement van militêre veterane en ʼn maatskappy wat gesondheidsdienste aan die departement gelewer het. Meer as twee jaar later was daar steeds geen uitspraak nie.

Alle uitsprake, buiten in uitsonderlike gevalle, behoort binne drie maande gelewer te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Johan Tredoux ·

“Sien julle? Ek kan ook kwaai wees!”
Nou sal daar diegene wees wat hierdie gebeurtenis as n bewys van sy goeie leierskap sal sien. Aan dit kan mens niks doen nie.

Estelle ·

Ek wens onse president was ook so vinnig om ander oortreders aan te vat …

Sobymykoolkop ·

In effek beteken dit dat hulle MET volle voordele en salaris geskors is, en soos die dronk regter sal aftree met volle voordele met komplimente van die belastingbetalers.

Nico ·

Dit is mos altyd die geval, kry volle voordele en salaris so hulle sit by die huis, sny die salaris en voordele.

Wondermaarnet ·

As zumpie se sake keer op keer uitgestel word en gesloer word met uitsprake is dit niks CR. Jy het dubbel standaarde.

Kokerboom ·

Hulle voel ‘n veer Sal volle vergoeding tot dood kry en optrede soos OG geval sal vir ewig uitgestel word. Ten minste kan hul nie verder swak uitsprake gee.Belastingbetalers gaan weereens tweede kom!

Papsak ·

Wel ek sien niks goeds in wat Ramaphosa doen nie hy is nou maar net nie n hero nie klaar

domheks ·

Het 3cm van die ruggraat terug gegroei? Onthou net hulle kry nog volle salaris.

Marina ·

Geloofwaardigheid voor kundigheid! En dan sit mens met n situasie soos hierdie. Geen trots, geen werksetiek of gewete.

ES ·

Skielik, toe hulle aangekla word, het hulle die tyd en kapasiteit gekry om al hulle sloerende sake af te handel? Dan is hulle net bloot lui.

Martie Smartie ·

Ek wonder hoeveel mense weet dat regters as hulle op pensioen gaan vir die res v hul lewens nog volle salaris kry. Nie ‘n karige penione soos ander staatsamptenare nie. Nou ja, dis SA mos, hkm wonder mens

Lourens ·

Die twee regters het talle uitstaande uitsprake wat lankal die tydsbeperkings . . . “verbygesteek” OORSKRY

Marcello ·

Danie mnr. Ramaposha , ek weet van ‘n geval in PMB wat die mense moes skei, en die Regter net gesê het, jammer hy het ander verpligtinge. Ek wonder of dit toelaatbaar is.??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.