Ramphulp in KZN ‘vorder te stadig’

Lede van die gemeenskap het die polisie se soek-en-reddingseenheid in April met opruimingswerk gehelp nadat huise in KwaNdengezi weggespoel het. (Foto: Phill Magakoe / AFP)

Lede van die parlement se ad hoc-komitee vir vloedverligting het Donderdag gesê hulle is ontevrede met die gebrek aan koördinasie en geïntegreerde planne om die behuisingsbehoeftes van KwaZulu-Natalse vloedslagoffers op te los.

Die komitee het gister met die departemente van maatskaplike ontwikkeling, vervoer, kleinsakeontwikkeling en openbare ondernemings vergader oor wat tot dusver bereik is om verligting te bring aan mense wat in April vanjaar ernstige skade weens verwoestende vloede in dié provinsie gely het.

Maroela Media het verlede maand berig dat die nasionale ramptoestand wat in April aangekondig is om die humanitêre en ekonomiese krisis in KwaZulu-Natal te pak, tot 18 Augustus verleng is.

Die komitee is veral ongelukkig oor die behuisingsprobleme wat dié slagoffers ná maande steeds moet verduur.

“Die komitee is ingelig oor die onmenslike toestande by van die skuilings waar kinders, vroue en mans almal op een plek slaap. Dit hou verskeie risiko’s vir kwesbare vroue en kinders in, waaronder geslagsgebaseerde geweld,” het die komitee in ’n verklaring gesê.

“Die komitee wil ook hê die departement van maatskaplike ontwikkeling moet ’n gekonsolideerde verslag oor alle finansiële skenkings wat van verskeie lande, die private sektor en nie-regeringsorganisasies ontvang is, aan hom verskaf.”

Luidens die verklaring is die komitee ook ontevrede oor die stadige aflewering van tydelike wooneenhede, wat dit moeilik maak om die behuisingsagterstand voldoende te takel. Die gevolg is dat skuilings langer gebruik word as wat aanvanklik verwag is.

Die departement van menslike nedersettings is in die lig hiervan versoek om die verskaffing van tydelike wooneenhede te versnel, met “die verstandhouding dat dit nie ’n permanente oplossing is nie, maar slegs ’n tydelike maatreël”.

“Die komitee het verder kennis geneem van die omvattende fokus op KwaZulu-Natal in die departement van vervoer se verslag, maar sê dat ’n soortgelyke vlak van detail oor ingrypings in die Oos-Kaap en Noordwes [wat ook deur oorstromings getref is] ontbreek.

“Ons verwag van die departement om terug te kom met ’n verslag in fyner besonderhede oor hul ingrypings in dié provinsies.”

Groot ontevredenheid heers ook oor die gebrek aan fynere besonderhede in ’n voorlegging wat deur die departement van kleinsake-ontwikkeling oor die uitbetaling van hulpfondse aan begunstigdes gemaak is.

Die komitee is onder meer bekommerd dat hierdie gebrek aan besonderhede daartoe kan lei dat die benadeelde mense nie by die hulpfondse baat vind nie, soos tydens die Covid-19-pandemie gebeur het. Daar was ook kommer dat aansoeke om hulpfondse eers in Julie geopen het, vier maande nadat die vloede plaasgevind het.

“Dit wys daar was geen dringendheid om op die verklaring van ’n nasionale ramptoestand te reageer nie.

“Intussen word die komitee bemoedig deur die verslag dat die hawe van Durban tot volle funksionaliteit herstel is, wat die land weer aan die internasionale handelsekonomie verbind. Die komitee het ook die verslag verwelkom dat Transnet ’n ooreenkoms met die Ethekwini-metro se munisipaliteit aangegaan het vir die instandhouding van die Montclaire Lodge in Yellowwood Park, wat tans vloedslagoffers huisves.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

domheks ·

Beloftes… beloftes… deur cANCer wat nie nagekom word nie, Waar is die R1 miljard wat Ramaparra beloof het? In kaders se sakke???

Kokerboom ·

Die lede van die Ad Hoc komitee vat gebreke van ANC mooi saam

Faraway ·

Nee . . . Dit vorder eintlik vinnig . . . in verkeerde rigting!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.