Rebelleleier van toeristepaartjie se moord in Uganda aangekla

Dave en Celia Barlow op hul troudag. (Foto: Verskaf)

Ugandese aanklaers het Maandag die bevelvoerder van ʼn gevreesde militêre groep strafregtelik aangekla, onder meer van die moord op Dave en Celia Barlow.

Dié pasgetroude paartjie is verlede maand op hul wittebrood in Uganda met masjiengewere om die lewe gebring. Hul Ugandese gids, Eric Alyai, is ook tydens die aanval op 17 Oktober in die Koningin Elizabeth‑ nasionale park in die suidweste van Ugunda dood.

Celia was ʼn Suid-Afrikaner en haar man ʼn Britse burger.

Abdul Rashid Kyoto, ʼn bevelvoerder van die Allied Democratic Forces (ADF)-rebellegroep, staan nou (wat die moord op die Barlow-egpaar en Alyai betref) tereg op drie aanklagte van moord, twee aanklagte van terrorisme, drie aanklagte van roof met verswarende omstandighede en een klag dat hy aan ʼn terreurgroep behoort.

Kyoto word ook ondersoek vir sy beweerde betrokkenheid by ʼn slagting by ’n skool in die weste van Uganda wat in Junie die lewe van 42 mense geëis het. Volgens plaaslike media was die meeste van die slagoffers kinders.

Kyoto, ook bekend as Njovu, het Maandag in ʼn hof verskyn voordat die saak tot 27 November uitgestel is, het Jaquelyn Okui, woordvoerder van die kantoor van die direkteur van openbare vervolging in Uganda, aan AFP gesê.

Kyoto is verlede maand tydens ʼn operasie op die Edward-meer op die grens van die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) in hegtenis geneem. Twee van sy makkers is tydens die operasie doodgeskiet terwyl “ander met hul wapens in ʼn boot kon ontsnap het”.

Maroela Media het vroeër berig die ADF is ʼn Islamitiese groep met bande met die Islamitiese Staat (IS). Die groep is van Uganda, maar is hoofsaaklik in die ooste van die DRK bedrywig.

Die owerhede in Uganda en die DRK het die afgelope paar maande hul pogings verskerp om die rebellegroep vas te trek.

Dave en Celia is enkele dae voordat hulle vermoor is, in die Sederberge getroud. Die paartjie was sowat tien jaar lank saam en het ten tyde van hul dood in Engeland gewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Shakespeare ·

In Suid Afrika sal so ‘n uiterste krimineel vry rondloop en nooit tronk toe gestuur word nie. Hope sulke kaliber uitvaagsels wat vry rondloop.

Doompie Daan ·

Dit wil my lyk dat niemand meer veilig op enige plek in die wêreld is nie?
Die enigste sin wat myns insiens uit sulke sinnelose dade gemaak kan word, is dat Jesus en Paulus se voorspellings van sulke wrede en onmenslike, goddelose dade – kort voor die Wederkoms van Christus – in intensiteit gaan toeneem!

kaplyn ·

Daan, ek hoop jy het jou net verkeerd uitgedruk ek weet wat jy bedoel in jou kommentaar. Maar jy kan nie se dat Jesus dit voorspel het nie. Jesus was, met respek gese, nie ‘n sterrevoorspeller nie. Jesus het wel ‘n profetiese rede gelewer en gese: (Gaan lees die profetiese rede in Markus 13 verse 1 tot 37)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.