Regstappe kom, sou ramptoestand afgekondig word

Argieffoto ter illustrasie van die staatsrede. (Foto: Facebook)

Solidariteit het Donderdag ʼn aanmaning aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur, waarin die vakbond dreig om regstappe te doen, sou Ramaphosa vanaand ʼn ramptoestand tydens die staatsrede afkondig.

Dit geld ook indien Ramaphosa besluit om by enige ander geleentheid ʼn ramptoestand weens die huidige kragkrisis in te stel.

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeg verlede week reeds afgekondig dat ʼn ramptoestand ingestel kan word om Eskom se probleme die hoof te bied. Solidariteit glo egter die afkondiging van ʼn ramptoestand sal “onwettig, onredelik en teenstrydig met die Grondwet” wees.

Die organisasie sê daar is nie ʼn enkele element van die energiekrisis wat sy oorsprong het in ʼn beperking op staatsmag nie, en dat dit juis die regering se “jaloerse vasklou” aan sy monopolie in dié sektor is wat die kernoorsaak van die krisis is.

Solidariteit voer in die aanmaning aan dat die huidige situasie by Eskom toepaslik bestuur kan word sonder die opskorting van parlementêre toesig en die skending van regte wat sal volg as ʼn ramptoestand afgekondig word.

“Eenvoudig gestel, die situasie by Eskom val nie onder die definisie van ʼn ramp nie en daar is geen grondslag waarop omstrede magte van die Rampbestuurwet ingestel kan word nie,” lui die aanmaning.

“Hiermee voer ons aan dat die krisis nie net op ʼn minder dramatiese wyse aangepak kan word nie, maar dat die instelling van ʼn ramptoestand eerder die proses sal belemmer as ʼn werkbare oplossing bied.”

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die harde werklikheid is dat bestaande wetgewing reeds voorsiening maak vir noodaankope van elektrisiteit.

“Min. Gwede Mantashe kan met ʼn eenvoudige regulasie volledig stipuleer hoeveel krag oor watter tydperk aangekoop kan word. Indien die president ongelukkig is met die inwerkingstelling van hierdie instrumente is die aangewese roete om te volg eerder ʼn bedankingsbrief van min. Mantashe; nie ʼn ramptoestandverklaring nie,” meen Mulder.

Hy wys ook daarop dat ʼn ramptoestand abnormale magte aan die regering onder abnormale omstandighede verleen.

“ʼn Ramptoestand is bedoel vir ʼn ramp; nie vir swak bestuur nie. Rampwetgewing kan baie uitrig, maar dit kan nie onbevoegdheid wegreguleer nie. Diegene wat die ramp veroorsaak het, kan nie nou alle mag kry om dit op te los nie. Die antwoord lê in minder mag vir die regering en meer vryheid vir die privaat sektor.”

Pres. Cyril Ramaphosa voer vanaand omstreeks 19:00 sy staatsrede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

KaRoOkWaGgA ·

Die kommuniste sal ‘n manier vind om die aankondiging van die ramp toestand te regverdig. Onthou, hulle geld koffers gaan vol word met die belangrike aankondiging.
Beurtkrag is op geskort vir vanaand se staats rede. Ek is oortuig Ramaphosa se staats rede gaan ons as Suid-Afrikaners na die tyd in die “donker” laat, want net soos met die Covid wat hy die land toe gespreek het, gaan hy praat en op die einde van die aand eindlik niks sê nie.

Melinda ·

Absoluut nes Biden niks sê maar aanrammel met dralerige verveelde stem. Die WEF hom seker mooi voorgeskryf wat om te sê…soos slimstede en 4de tegnologiese rewolusie wat maar net Elektroniese beheer beteken. Hy het al voorheen die gang gesing. Janee wat kan mens se?

Gert ·

Hartseer feit dat die mense met die werklike kennis die werkbare voorstelle maak en reg moet staan met regstappe teen die in beheer wat geen kennis het om n tegniese land te bestuur nie maar die mag besit om die finale besluite neem.

CHRISTINE ·

DIE ANC IS KORTSIGTIG EN ONVOLWASSE – EK WIL NIE EERS WAT DIE TERRORISTE TE SE HET NIE EK LEES EERDER MORE WEER MAROELA.

Prikkie ·

Dit is eenvoudig – die ANC regering of vryheidsvegters (hulle struggle nog gereeld) is ondiensbaar en is die hoofrede vir die krag ramp.

Duck ·

Aag Solidariteit, julle weet mos wat gaan gebeur. Begin ook nou al holrug gery te raak.

Pietertjie ·

‘n Ramptoestand kan volgende jaar se verkiesing blokkeer: is dít dalk deel van die plan?

Manie ·

Absoluut, hoe langer dit uitgestel word, hoe langer regeer hulle.

Papsak ·

Ramaphosa en sy hele anc regering is die land se ramp wat gaan dit help doen julle flippen werk en vergeet van geld maak daarom wil hulle weer slim soos altyd n ramp aankondig dit is regtig onnodig kort nou weer geld hoor my lied

Chris ·

Die kriminele regstelsel is ook beskikbaar – Suid Afrikaners moet maar kennis neem van die volgehoue mags-vergrype wat die regering vir hulself reserveer omdat hul toelaat dat hul kaders onbelemmerd voortgaan om met korrupte bedrywighede SA lam te le!!

annie ·

Nou die referendum wat die groot okasie vir 1994 voorafgegaan het, kan ons nou weer daarna kyk en die saak bedink hoewel nie weer sou kan beklink. Wat sou ons nou anders in die geskrifte van die toe hogere geleerdes en amptenare wou bygevoeg gehad gehet het? Sê weer. Ek hoor steeds nie…

gatgogga ·

Aa! Nog hofverrigtinge wat vir maande uitgestel kan word. Terwyl die prokureurs skep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.