Regter onttrek hom aan Zuma-saak

Oudpres. Jacob Zuma verlede jaar tydens ‘n saamtrek naby Durban. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Die Jacob Zuma-stigting het regter Piet Koen se besluit om hom aan die korrupsiesaak teen die oudpresident te onttrek, verwelkom.

Koen het die saak – wat nou al twee dekades lank sloer – in Oktober verlede jaar uitgestel om te bepaal of dit in die beste belang van geregtigheid sou wees vir hom om voort te gaan om die saak aan te hoor. Die regter het vroeër gesê die integriteit van die verhoor moet bo verdenking wees en dat dit sy werk is om dít te verseker.

Maandag het die regter hom aan die saak onttrek en onder meer gesê hy het die besluit geneem omdat hy vantevore sy mening gegee het oor die meriete van oudpres. Jacob Zuma se private vervolging van staatsadvokaat Billy Downer SC. Zuma het Downer daarvan beskuldig dat hy vertroulike mediese inligting oor die oudpresident aan verslaggewer Karyn Maughan uitgelek het.

Koen het verlede jaar bevind daar is geen meriete in Zuma se klagte nie.

Downer, wat die aanklaer in die korrupsiesaak teen Zuma is, word nou self privaat deur die oudpresident vervolg en hy voer aan dat Downer dus nie as aanklaer in die saak (wat met die omstrede wapenaankoop-transaksie verband hou) kan optree nie.

Koen sê Downer se verwydering as aanklaer in die saak – of die besluit om hom as aanklaer te behou – moet ook behoorlik en objektief oorweeg word.

“Dit was nie ʼn maklike besluit om my aan die verhoor te onttrek nie, maar dit is wat behoorlike regspleging, die Grondwet en my gewete voorskryf. Die integriteit van die regsbedeling mag nie bevlek word nie,” het Koen gesê.

ʼn Nuwe regter in die saak het verrigtinge tot April uitgestel.

Zuma staan tereg op verskeie aanklagte van korrupsie, bedrog en rampokkery oor die aankoop van onder meer vegvliegtuie, patrolliebote en ander weermagtoerusting toe hy in die laat 1990’s adjunkpresident was. Hy word daarvan beskuldig dat hy omkoopgeld van die Franse wapenvervaardigingsreus Thales hiervoor ontvang het.

Thales staan ook tereg op aanklagte van korrupsie en geldwassery.

Albei partye ontken skuld.

Die Jacob Zuma-stigting het na afloop van die jongste uitstel getwiet dat die oupresident nou op ʼn wenstreep is. Die stigting het ook regter Koen se “nugter besluit” geloof en gesê hy hoop die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) onttrek ook vir Downer aan die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Prikkie ·

Nou hoeveel jaar gaan dit nou die saak vertraag?

My mening is dat daar nooit ‘n behoorlike verhoor gaan plaasvind nie.

Cabous like braai ·

2 dekades….ai mijoene is in die water gegooi….Hy is skuldig Punt moes nooit president geword het nie……kon al sy tronkstraf 20 jaar terug begin uitdien het,,,,maar ViVa ANC en Zuma stigting julle wys maar net …jul kan maak wat jul wil……

Jaco ·

Wit regter en wit staatsaanklaer. Hulle ras pla my nie, maar ek wonder maar net, wat dan nou van al die ANC se gedurige geneul oor “transformasie van die regstelsel”? Ook opvallend dat, elke keer wat Dr nkosazana Dlamini-Zuma hof toe gesleep is tydens die tyd van inperking, sy wit regsverteenwoordigers gebruik het. Hoe dan nou?

Dr Pieter ·

En onwetend het die Zuma-Stigting se tikfout tog die waarheid na vore gebring: Hy is inderdaad “wicked!” Oor die “winning” deel sal ons treur as hy wegkom met al sy oneerlikheid en korrupsie.

marius ·

Hierdie ding sal nooit einde bereik nie . Daar is geen regspleging in die hool nie . Ontken maar soos julle wil . Dis die waarheid .

Mnr De Beer ·

Niemand gaan die korrupte ANC keer behalwe die wat self iets sal doen daaraan. Ongelukkig sien ek te veel praat maar te min doen. Hartseer eintlik.

annie ·

En so poer-poer ons maar aan… Zuma se ondersteuners maak klaar voorbrand vir die brandpoel-verkoopsman om weer die land se touleier te word. Ons het nog die einde van dié fliek gesien nie. Kry genoeg springmielies en sneesdoekies!

Dup ·

Daar sal nou seker ʼn “pro Zuma” regter aangestel word.Oom Jacob sal nooit ooit weer in ʼn gevangenis beland nie.

Nie Verbaas ·

Nou toe nou. Ontrek jy uit vrye wil of is jy aangesê om te ontrek? Waarvoor n besluit of oorweging om Downer te ontrek? Speel jy nou saam net die ANC vir tyd aangesien Zuma met alles teen Downer gefaal het? Hoeveel meer korrup en slapgat kan ons regstelsel nog verder in verval?

JohanR ·

20 jaar! Is dit die langste saak in die geskiedenis van sake? Die saak het in 2002 afgeskop.

Nie Verbaas ·

Wys jou hoe “effektief” ons regstelsel nou is. Kriminele kan voordeel trek tot die maksimum toe.

Johann ·

Glo dit nie! Absoluut GEEN vertroue in die sg. “regs stelsel” nie.

Stofdonkie ·

23 Jaar na die misdryf en hulle sukkel nog om ‘n regter te hê vir die saak. Shabir Shaik wat saam met Zuma gespeel het was al tronk toe en is al vrygelaat maar hulle kan steeds nie vir Zuma vervolg nie. Die land se regstelsel is gebreek nes die elektrisiteit, paaie, lugvaart en treine. Zuma was al intussen dwarsdeur sy termyne as President en nog steeds sloer die saak net voort. Stop hom nou net in die tronk en sien dan hoe verbeter die land as hy nie meer die MAFIA-baas kan wees nie.

Papsak ·

Ja nee kyk hy moes al lankal sy straf uit gedien het maar nee almal mos bang vir hulle

domheks ·

Billy Downer – klou asseblief soos ‘n neet! Jy ken al die skelm streke op die punte van jou vingers!

Deon ·

Het ons nog n regstelsel, kan n mens net wonder? Hoe is dit moontlik dat Zuma vir so lank met die stelsel speel. Dit is n skande om die minste te sê.

Kokkie ·

Nog ‘n ronde deur Zuma/Mpofu gewen. Ek is so teleurgesteld in Piet Koen. Is dit nou ‘n erkenning deur hom dat hy nie in staat is om reg en geregtigheid in die saak te laat geskied nie ? Bang vir kritiek ? Dit maak nie saak watter regter hierdie saak aanhoor nie. As die uitspraak nie in Zuma se guns verloop nie, sal daardie uitspraak deur Zuma-ondersteuners gekritiseer en as onregverdig bestempel word. As Piet Koen hierdie saak op sy meriete en die feite met sy gewete aangehoor het, en dit het nie in Zuma se guns verloop nie, het hy mos sy werk sonder enige vooroordeel gedoen. Nee, wat. Piet is te lig vir hierdie ‘joppie’.

Lillian ·

So nou is Zuma se tjom op die regbank, how convenient….

Chris ·

Tot op hede, is daar GEEN teken van ‘n kroniese siekte by Zumpie te bespeur nie. Hy is ‘n gewentenlose bedrieër. Hy gebruik sy “siekte” as dekmantel om los te kom van al die bedrog wat hy gepleeg het. Sy velkleur is reg, daarom maak hy wat hy wil. Hy is nou onaantasbaar, maar hy moet een dag by “Niek” gaan verduidelik hoekom hy nie meer gedoen het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.