Regter sterf toe voertuig fiets tref

Roger Dyason Claassen (79), ʼn afgetrede regter van Pretoria, is Woensdagmiddag dood toe ʼn voertuig hom op sy fiets raakgery het. (Foto: Verskaf)

Roger Dyason Claassen (79), afgetrede regter van Pretoria, is Woensdagmiddag dood toe ʼn voertuig hom op sy fiets getref het.

Die ongeluk het omstreeks 15:30 naby die Fonteine-sirkel (in die rigting van Eeufeesweg) in Groenkloof plaasgevind.

Claassen, alombekend as Talla, is op die toneel dood verklaar.

Sy seun, Rudolph, sê sy pa het twee tot drie keer ʼn week vir oefening fiets gery en was op sy gewone roete toe die ongeluk plaasgevind het.

“Ek dink hy was al op pad terug huis toe.”

Rudolph sê die gesin het nog nie baie besonderhede oor die voorval self nie en weet ook nie watter voertuig betrokke was nie.

Die polisie kon teen Donderdag ook nog nie enige besonderhede aan Maroela Media verskaf nie.

Rudolph sê die lykskouing is egter Donderdagoggend afgehandel.

Claassen, wat in 2012 as regter afgetree het, het ten tyde van sy dood saam met sy vrou, Linda (77), in Waterkloofrif gewoon. Hulle was 47 jaar lank getroud.

“Hy het ’n ongelooflike groot hart vir mense gehad. Nie net familie nie, maar almal wat oor sy pad gekom het. Het uit sy pad gegaan om ander mense te help en hy het ongelooflik baie gedoen om nuwelinge in die regsberoep te help en op te lei.”

Claassen was ook lid van ʼn bekende gesin regsgeleerdes. Sy pa, CJ, en broer, Neels, was ook regters.

Claassen se oupa, ook Roger, het in 1939 die bekende prokureursfirma Dyason Attorneys tot stand gebring. Roger Dysonweg in Pretoria is na dié oupa vernoem – hoewel die spelling van die van verskil.

Claassen se jarelange kennis, Hans Oosthuizen, direkteur by Couzyn Hertzog & Horak Prokureurs, sê Claassen was altyd gereed om raad aan jonger advokate te gee en dat regsgeleerdes altyd met groot lof van hom praat.

Oosthuizen sê hy het Woensdag toevallig verby die ongelukstoneel gery, maar eers later uitgevind dat Claassen die slagoffer was.

Mathilde Hiemstra, Claassen se skoonsuster, sê hy was ʼn liefdevolle man met ʼn groot hart wat meer aan ander as aan homself gedink het.

“Hy was ’n mense-mens, sonder pretensie en baie geliefd onder die advokate. Hy was ’n vrolike en lewenslustige mens wat graag tyd saam met sy gesin, sy familie en sy vriende deurgebring het.

“Hy was ’n sleutelfiguur in ons familie vir wie ons almal baie lief was. Sy afsterwe gaan beslis ʼn groot leemte laat in baie mense se lewens.”

Claassen laat sy vrou, drie kinders en drie skoonkinders asook vier kleinkinders en ʼn broer agter.

Geen begrafnisreëlings is in dié stadium getref nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Chantel ·

Dis bitter hartseer, maar hy het gesterf besig om te doen, dit waarvoor hy lief was. Sterkte aan die gesin en familie.

Richard ·

Ek is so bly ek is nie ‘n fietsryer nie. Die risiko is net te groot. Sterkte aan die familie.

John ·

Dis net te maklik om fietsryers deesdae raak te ry……hierdie mense moet vir moord tereg staan. Jy kan nie vir my sê jy kan nie n fietsryer sien nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.