Renosterkalfie gebore ná stropingstragedie

Inverdoorn se jongste aankomeling. (Foto: Verskaf)

Trane van blydskap het die afgelope naweek by die Inverdoorn- private wildreservaat in die Wes-Kaap gevloei toe ’n dragtige renosterkoei wat onlangs ’n stropingsvoorval in die wildreservaat oorleef het, geboorte aan ’n gesonde renosterkalfie geskenk het.

Searl Derman, eienaar van die Aquila Collection en die reservaat waar die stropery einde verlede jaar plaasgevind het, het die blye nuus oor Inverdoorn se jongste aankomeling Dinsdag bekend gemaak.

Dít maande nadat vier renosters in Desember by dié wildreservaat dood in die veld aangetref is en vier verdagtes in hegtenis geneem is. Een van die gestroopte renosters was dragtig, terwyl ʼn ander een ʼn nagemaakte horing van veselglas gehad het.

Die renosterkoei wat nou ’n kalfie verwelkom het, is ná die voorval lewend maar met ernstige beserings aan haar gesig opgespoor.

Geluk ná die ongeluk

Derman sê een van die reservaat se veldwagters het die pasgebore witrenoster Saterdag (30 April) op ʼn vroegoggend wildrit gewaar nadat die renostertjie in ’n erdvarkgat beland het.

Die reservaat se teenstroperyspan en bestuur is dadelik ontbied en die renostertjie is uit die erdvarkgat getrek.

“Die renostertjie is sonder enige besering uit die gat getrek en geïdentifiseer as ʼn baba-renoster wat na sy ma roep.

Inverdoorn se jongste aankomeling. (Foto: Verskaf)

“Trane van blydskap van die bestuur en reserwespanne het gevolg toe hulle daarin geslaag het om hom met sy ma te herenig wat toe geïdentifiseer is as die oorlewende renoster van die verskriklike stroperyvoorval wat in Desember 2021 by Inverdoorn plaasgevind het.

“Die wonderbaarlike geboorte van hierdie bulkalf is ʼn vreugdevolle oomblik en word in wildkringe en regdeur die wêreldwye renosterbewaringsgemeenskap gevier. Net ʼn paar maande gelede was ons onder geweldige druk om die ma se lewe te red, nou sien ons die wonderwerk van ʼn bykomende lewe,” het Derman gesê.

Die kalfie se ma het die afgelope paar maande ʼn reeks rekonstruktiewe prosedures ondergaan om dele van haar gesig wat tydens die stropingsvoorval deur ʼn geweerskoot erg geskend is te herstel.

Inverdoorn se jongste aankomeling. (Foto: Verskaf)

Volgens Derman sal ma en kalfie nou in die komende dae fyn gemonitor word om te verseker dat hulle ’n band vorm.

“Daar word beraam dat ongeveer 10 000 Afrika-renosters oor die afgelope dekade weens stropery verlore gegaan het. Hierdie is is ʼn oomblik van hoop in die behoud van hierdie bedreigde spesies, en ons is nederig en dankbaar vir al die ongelooflike ondersteuning wat ons ontvang het sedert die nuus oor die stropery in Desember 2021 aan die lig gekom het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Schalk ·

Mag die stropers net weet wat op hulle wag as hulle gevang word!

Ilke ·

Mens is so bly en dankbaar, wanneer n Renoster son aaklige aanval oorleef, maar eintlik moet mens nie eers sulke mooi nuus met die wereld deel nie, voel vir my dan is hulle weer teikens, en dit is hartseer.

Marius ·

Die stropers is besig om ons natuurlewe totaal te vernietig.

Janee ·

Wat n hartseer maar pragtige storie .!!!!!..nie slegs dat sy dit oorleef het nie maar ook vir die wat almal betrokke was by die versorging …en wat hulle steeds doen. Baie dankie!.

Di ·

Wonderlike nuus! Hierdie stropers het geen gevoel vir diere nie, als gaan net oor geld! Tipies van baie in die land

gatgogga ·

Ter wille van die oorlewing van die renoster, moet ons maar ons renosters uitvoer na ‘n beskaafde land.

Kensy ·

kan ons nie eerder die stropers uitvoer nie…. die renosters het erfenis waarde vir ons – dieselfde kan nie gese word van die stropers nie.

Maritza ·

Hulle moet maar vroegtydig sy horntjie verwyder voordat hy ook onder stroper deurloop. Wat ‘n kostlike dingetjie.

Lillian ·

Dis nou ougat! |Soen daai mamma op haar snoet, sy’s deur hel en terug!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.