Roerende huldeblyk vir man wat in myn sterf

Juan Little. Foto: Palm Photography/Facebook

“Jy was ʼn voorbeeld van wat ʼn man is, ʼn man wat ʼn verhouding met ons Verlosser Jesus Christus gehad het.”

Só het Hendel Clase hulde gebring aan sy swaer, Juan Little (26), nadat hy Woensdagaand dood is in ʼn voorval in die Nyala-skag van Harmony Gold se Phakisa-myn buite Odendaalsrus.

“Ek kon jou skaars boetie noem, toe is jy van ons af weg geneem. Ons sal nie weer ons rugby- of visvang-geselsies kan hê,” het Clase op Facebook geskryf oor Little wat begin Mei met sy suster, Joane, getroud is.

Little het as myningenieur by Brentley, Lucas & Associates, ʼn mynkonsultantemaatskappy, gewerk.

“Altyd opreg in alles wat jy gedoen het. Daarom weet ons met sekerheid dat jy vandag die ewige rus betree het. Ons harte is ontsaglik seer oor die vakuum wat nou gelos is, maar ons bid tot die hemelse Vader dat Hy ons deur hierdie bitter moeilike tyd sal dra, dit is hoe jy dit sou wou hê. Ons gaan jou baie mis. Lief vir jou!,” het Clase geskryf.

Die presiese omstandighede rondom die voorval wat tot Little se dood gelei het, is nie deur Harmony Gold bekend gemaak nie, maar volgens die mynmaatskappy word ʼn ondersoek gedoen.

Juan en Joane Little. Foto: Palm Photography/Facebook

“Ons is ongelooflik hartseer oor die voorval. Harmony se bestuur wil sy medelye met die oorledene se familie, vriende en kollegas betuig,” het Peter Steenkamp, uitvoerende hoof van Harmony, vroeër gesê.

Brentley, Lucas & Associates het ook sy hartseer oor die voorval uitgespreek. “Aan sy vrou, Joane, sy ouers en suster sowel as hul gesinne; mag julle vertroosting vind in dié moeilike tyd. Juan sal deur ons almal gemis word.”

Francois Slabbert, die fotograaf van Palm Photography wat die egpaar se troufoto’s geneem het, het op Facebook sy skok oor die voorval uitgespreek.

“Minder as vier weke terug het ek die troue afgeneem en vanoggend [Donderdagoggend] terwyl ek nog besig was om die foto’s te redigeer het ek die nuus ontvang dat hy oorlede is. Juan jy was ʼn legende en dit was ʼn voorreg om jou en jou vrou af te neem en jou vir die kort rukkie te ken,” het Slabbert geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Linda ·

God het n doel met almal hier op aarde. Mag sy vrou en familie sterk wees.

humor ·

WAt vir my in die berig baie verblydend is, is dat mense wat hier aan die woord is, in n lewende verhouding met hul Verlooser leef.

Hartseer ·

Hierdie tragiese storie raak my ontsettend diep. Ek ken nie die mense nie, maar ek stuur vir hulle, veral vir Joane, liefde en vertroosting uit die diepte van my hart. Eendag sal ons hopelik verstaan waarom so iets gebeur.

Hartseer ·

Liewe Joanne
Jy is in ons gedagtes en in ons gebede al ken ons mekaar nie. Ons huil vir jou en saam met jou. Mag jy dag vir dag troos en krag ontvang van die God van alle vertroosting. Baie sterkte…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.