‘Russe, Weste moet nou skik’

Groot skade is tydens die konflik buite die stadsaal in Kharkiv aangerig. (Foto: Sergey BOBOK / AFP)

Die hele wêreld gaan ʼn duur prys betaal vir die Russiese oorlog wat steeds in Oekraïne woed.

Hoewel Suid-Afrika geografies ver van die oorlog verwyder is, sal die impak daarvan veral op die land se ekonomie gevoel word.

Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, sê Suid-Afrikaners gaan waarskynlik nog ʼn verdere verhoging in oliepryse sien wat alreeds skerp gestyg het.

Dít beteken ook dat Suid-Afrikaners oor die volgende maande peperduur pryse vir brandstof gaan betaal.

Benewens gaspryse wat ook sal styg, voer Suid-Afrika ook graan soos koring uit Oekraïne in.

“Ons gaan almal ʼn inflasieprys betaal. Dis ook nie net Suid-Afrika wat geraak word nie, maar die hele wêreld. ʼn Redelik intense oorlog kan eindelik tot ʼn wêreldwye resessie lei.”

Skikking in almal se belang

Kleynhans sê dit sal waarskynlik ʼn lang, uitgerekte oorlog wees waarin derduisende mense hul lewens sal verloor. Hy meen een van die maniere waarop die oorlog wel tot ʼn einde kan kom, is ʼn skikkingsooreenkoms tussen Rusland en die Weste.

“Dit kan nie net ʼn skikking tussen Oekraïne en Rusland wees nie, want dit sal ʼn korttermynskikking wees. Daar is ʼn skikking nodig tussen Rusland en die Weste.

“Die alternatief is ʼn lang oorlog wat Rusland miskien kan wen, maar wat sal beteken dat Rusland geïsoleer word, en dat daar ʼn soort gorilla-oorlog in Oekraïne kan voortduur. Dit kan ook die ontwikkeling van ʼn magsblok tussen Rusland en China beteken. So dis in die belang van die hele wêreld dat daar ʼn langtermynooreenkoms bereik word wat vrede in die hele Oos-Europe verseker.”

Weste sal nie fisiek betrokke raak

Kleynhans sê hoewel die Weste al sanksies teen Rusland ingestel het, hulle nie fisiek by die oorlog betrokke sal raak nie.

“Eerstens het mense in die Weste nie ʼn aptyt vir oorlog nie. Hulle sien nie weer kans daarvoor nie en is negatief oor oorlog.

“Tweedens het die geskiedenis bewys jy kan nie ʼn oorlog teen Rusland wen nie. En dis vandag nog steeds die geval. Een van die redes daarvoor is Rusland se geografie. Dis ʼn enorme land. Jy kan sukses met sekere veldslae behaal, maar jy kan nie die hele land oorwin nie.

“Rusland het ook baie kernwapens. Hulle is een van die twee groot kernmoondhede in die wêreld saam met Amerika. Geen land in die wêreld wil nou in ʼn kernoorlog met Rusland betrokke raak nie, want as die een kernwapens gebruik, gaan die ander een kernwapens gebruik. Dit sal vernietigend wees – die helfte van die wêreld sal uitgewis word met kernwapens.”

Kleynhans sê daar is dus geen kans dat die Weste ʼn proaktiewe besluit sal neem om Rusland militêr aan te val nie.

Hy sê waarvoor ʼn mens wel bang moet wees, is dat dit óf uitgelok word, óf dat daar êrens iets groots skeefloop – soos dat Rusland besluit om ʼn deel van Pole, wat deel van Navo is, aan te val. Hoewel dit ʼn onwaarskynlike scenario is, meen Kleynhans dat Europa in só ʼn geval kan besluit om terug aan te val en dat Amerika dan vir Europa gaan help. Dít sal tot ʼn volskaalse wêreldoorlog kan lei.

“Ek voorsien egter nie dat dít sal gebeur nie.”

Ondersteuning maak Rusland ook kwaad

Hoewel die Weste en Navo nie fisiek by die oorlog betrokke is nie, bemagtig hulle Oekraïne tog met wapens en opleiding wat hulle militêre leër versterk. Dít is ook iets wat Rusland verder rooi kan laat sien, en wat boonop tot groter lewensverlies kan lei.

“Die gee van gevorderde wapens en wapentuig aan Oekraïne is ʼn populistiese fout. Dit laat die Weste goed voel, want hulle gee vir hierdie arme mense in Oekraïne wapens. Oekraïne het ʼn week gelede baie minder militêre vermoë as nou gehad. Daar is egter twee baie negatiewe gevolge.

“Die een is dat dit die Russe uitlok omdat die Russe dan kan sê ‘maar julle [die Weste] is eintlik betrokke in hierdie oorlog, al het julle nie soldate hier nie’. Die tweede rede is dat die oorlog en gevolglike bloedvergieting uitgerek word. Daar gaan waarskynlik nog derduisende mense in Oekraïne doodgaan en infrastruktuur en stede gaan toenemend vernietig en platgeskiet word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jaco ·

Ja Suid-Afrika voer tussen 40% en 50% van ons koringverbruik in. Ons is ‘n groot mielieuitvoerder maar produseer nie genoeg koring vir ons eie gebruik nie.

Marthinus W ·

Guerrilla-oorlogvoering: Dié term het gedurende die Spaans-Napoleontiese Oorlog (1808–1814) ontstaan, weens die manier waarop Spaanse burgers weerstand teen Napoleon gebied het.

Dit het niks met fris primate te doen nie, alhoewel `n paar primate wat saam met my diensplig gedoen het nogal fris was. Gorilla gorilla is die fris mensagtige aapsoort in Midde-Afrika en dieretuine. Guerrilla is die Spaanse verkleinwoord van guerra, “oorlog”, en beteken dus “oorloggie”.

Robert Taber noem dit die “oorlog van die vlooi”: “The flea bites, hops, and bites again, nimbly avoiding the foot that would crush him. He does not seek to kill his enemy at a blow, but to bleed him and to feed upon him, to plague and bedevil him, to keep him from resting and to destroy his nerve and morale.”

Human ·

Die een wat ‘n probleem het met Okraïne is Putin en nie soseer Rusland. Hy is ‘n diktator wat sy land met ‘n ysterhand en geweld regeer en nou dreig hy die Wêreld met kernwapens, indien daar nie na sy pype gedans word. Waar gaan dit stop?

Jaco ·

Dit is die kernvraag. Niemand weet nie en dit situasie raak al hoe gevaarliker.

Marthinus W ·

Die Russiese burgers in die doema sal nie met jou saamstem nie. Poetin moes gaan toestemming vra om sy troepe te mobiliseer.

Human ·

Putin toestemming vra! Ag asseblief! Hy vra nie! Hy sê spring en die gebreinspoeldes, net soos sommige trotse Afrikaners, vra hoe hoog.

annie ·

Hoe kan mens nie betrokke wees nie as jy wapens verskaf? Wie het die oorlog aangestig ipv verhoed? Zelensky wil ‘n wêreldoorlog ontketen. Hy streef na beroemdheid. RT-nuus het voor dit van die lug af is, grutonele gewys uit Nazi’s-strafkampe: dooies, uitgeteerdes, wreedheid. Ons kry nou net eensydige fopnuus om almal te breinspoel. Zelensky verwys na die Russiese soldate as verwarde kinders… tart Poetin. Die wêreldpers lief die akteur. Dood, armoede en ellende is oppad.

Autobahn ·

Het jy al Zelensky is dancing in high heels in YouTube gesien?

Anna-marie ·

Omdat daar swak leiers in die weste aangestel word (geinstalleer word) gaan dit so in die wereld. Zelensky waarskynlik ook geistalleer deur die weste. Soos Biden geinstalleer is.

Kobie ·

Annie, jy praat van eensydige fopnuus? Presies hoe mens RT-news sou beskryf!

Christine ·

Ek dink hierdie is al jare terug beplan. Die Great Reset is oppad nadat die wêreld ekonomie in duie gaan stort. Hierdie is maar die begin. Brace yourselves for a rough ride.

Carolina ·

Zelenski moet begin besef sy idee om ‘n hero te wees van die weste wat sy toutjies trek is verby!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.