Rusty soek nou ʼn liefdevolle huis

Duán Matthee saam met Rusty (Foto: SPCA Bloemfontein, Facebook)

Rusty, die hond wat erg vermink is toe hy sy eienaar teen haar kêrel probeer beskerm het, se operasies was ʼn sukses en hy is gereed vir aanneming.

Soos vroeër berig wou Rusty sy eienaar teen haar gewelddadige vriend beskerm, waarna die man glo sy woede op dié dapper vierpotige uitgehaal het. Hy het hom aanhoudend geslaan en geskop.

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein het op 12 Desember ʼn oproep ontvang van Rusty se eienaar oor dié mishandeling. Tydens die inspekteurs se besoek aan haar huis in die Bloemfonteinse voorstad Batho, het hulle Rusty in ʼn baie slegte toestand aangetref. Sy linkeroog het heeltemal uit sy oogkas gehang.

Afgesien van sy verminkte oog het Rusty ook ʼn skeur onder sy bek en talle kneusplekke op sy lyf opgedoen. Hy kon ook skaars loop en is in die DBV se sorg geplaas.

ʼn Veearts het Rusty se oog verwyder en x-strale het gewys dat hy ʼn gebreekte heup het waarna hy vir ʼn operasie gegaan het om sy heup te herstel.

Volgens Duán Matthee, ʼn inspekteur van die DBV, het die operasies goed afgeloop en hardloop hy nou die wêreld vol.

“Hy was gaande oor sy fisioterapiesessies en hy het baie vinnig geleer om weer normaal te loop. Hy pas gou aan,” vertel Matthee.

“Hy is nou net moeg daarvoor om in ’n hondehok te wees en wag opgewonde om ʼn nuwe huis te kry.”

Volgens Matthee moet Rusty na sy groot operasies nog daagliks oefeninge probeer doen – soos om ʼn kort entjie te gaan stap.

“Rusty is jonk van gees en wil heeltyd in die tuin baljaar. Hy word graag bederf met lekkernye en speelgoed.”

Die DBV is positief dat Rusty vinnig ’n liefdevolle huis sal kry. Hulle het ook hul dankbaarheid uitgespreek vir die skenkings en ondersteuning wat Rusty se operasies en herstel moontlik gemaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pierre ·

Dankbaar Rusty is beter, “die mens word geken aan hoe hy sy diere behandel”

JohanR ·

Wat gaan nou met Rusty se aanvaller gebeur. Gaan hy hof toe, en dan tronk toe?

LANA is ELANè ·

Hou ons asb op hoogte van die aanneming. Ek is in GP en sou haar met liefde aangeneem het.

Ronél ·

Ek sou ook met liefde aan geneem het, maar is ook in Gauteng (Pretoria).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.