SA gevaarlikste land om te bestuur

(Argieffoto: GroundUp)

Benewens hemelhoë misdaadsyfers is Suid-Afrika ook die land waar dit die gevaarlikste is om te bestuur – wêreldwyd.

Internasionale navorsing oor padongelukke in meer as 50 lande het bevind dat Suid-Afrikaanse paaie die gevaarlikste is – juis omdat soveel motoriste onder die invloed van drank bestuur.

Die Amerikaanse bestuurdersopleidingsgroep Zutobi se jongste navorsing oor padveiligheid het die situasie op 53 lande se paaie ondersoek en gemeet. Elk van dié lande het ʼn telling uit tien vir vyf veiligheidsfaktore gekry; waarvolgens besluit is waar dit veilig en gevaarlik is om te ry.

Die navorsing is geskoei op inligting wat verkry is van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) oor die geskatte padsterftesyfer in elke land.

Hoewel Suid-Afrika nie die swakste in dié kategorie gevaar het nie, is daar nogtans na raming 22,2 padsterftes per 100 000 van die bevolking in die land.

Die meeste padsterftes is in Thailand aangeteken – soveel as 32,2 sterftes per 100 000 mense. Thailand word deur die navorsers beskou as die tweede onveiligste land om in te bestuur.

Noorweë, wat beskou word as die veiligste land om in te bestuur, het verreweg die minste padsterftes (1,48) per 100 000 mense.

(Grafika: Megan Swart/Maroela Media)

Suid-Afrika vaar wel die swakste in een van die belangrikste veiligheidsfaktore waaraan die navorsing aandag gegee het: padsterftes wat aan alkoholgebruik toegeskryf word.

In dié kategorie het Suid-Afrika die hoogste getal alkoholverwante padsterftes aangeteken. Soveel as 57,7% van ongelukke is alkoholverwant.

Dit terwyl lande soos Maleisië slegs 0,1% van sy padsterftes aan drankmisbruik toeskryf. Volgens die navorsing kan dié lae syfer wees omdat die meerderheid van die land se bevolking Moslems is, en nie noodwendig alkohol drink of dit in die openbaar gebruik nie.

“Alkohol word wel aan diegene verkoop wat nie Moslem is nie, en die land se wettige bloedalkoholkonsentrasievlak is 0,08%.”

Dié syfer is wel hoër as Suid-Afrika se 0,05% – ʼn gemiddeld vir die meeste lande.

Die navorsing wys verder daarop dat Suid-Afrika se maksimum spoedbeperking – soos in verskeie ander lande – 120 km/h is. Dit is boonop nie veel meer as die 110 km/h-spoedgrens wat in die veiligste land (Noorweë) van krag is nie.

“Daar word egter geraam dat net 31% van passasiers wat voor in ʼn motor in Suid-Afrika sit, wel ʼn veiligheidsgordel dra. Dit terwyl die meeste (97,8%) passasiers in Noorweë hul veiligheidsgordels vasmaak.”

Duitsland is weer die enigste land wat geen spoedbeperking het nie, maar eerder voorstelle vir ʼn beperking het. Die meeste passasiers (98,1%) dra egter hul veiligheidsgordels, wat skynbaar ʼn beduidende verskil in die land se padsterftesyfer (7%) maak.

Hierteenoor het Bolivië die laagste spoedbeperking (80 km/h) en boonop die minste passasiers wat veiligheidsgordels dra. Slegs 3,5% van die bevolking dra hul veiligheidsgordels en volgens die navorsing is daar geen nasionale wetgewing wat vereis dat motoriste dit wel doen nie.

Aan die hand van bogenoemde gegewens het Zutobi ʼn gemiddelde telling uit tien vir elke land uitgewerk om te bepaal presies hoe veilig dit in die onderskeie lande is om te bestuur.

Suid-Afrika het die slegste gevaar met ʼn algehele telling van 3,4 terwyl Noorweë uitgeblink het met ʼn telling van 8,23.

(Grafika: Megan Swart/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Sobymykoolkop ·

Watter strawwe het die beamptes gekry wat gevang word dat hulle lisensies verkoop?

Suzette ·

Die anc is seker baie trots – hulle is amper die “beste”!!!

Ryan ·

Dronk bestuur, vervalste lisensies, ongeletterdheid, swak paaie, nie nakoming van verkeers reëls, onpadwaardige voertuie, ens, ens……

KB ·

Dit gaan oor respek en dissipline, en ook selfrespek en selfdissipline.

Martie ·

Nee beslis nie te danke aan dronkbestuur nie. Mense wat nie kan bestuur nie en padregulasies oortree. Het Maandag van Kaapstad na Mosselbaai en terug gery. Mense gehoorsaam geen padreel nie. Verban K55 of 21 of wat dit ook al is wat mense nou sit en koppe swaai en leer hulle padreels want dit ken hulle nie, en o ja verban taxi’s, hulle is darem seker nie almal besope nie, hulle vervoer dan die bevolking.

KB ·

Daar is ook ander aspekte wat óf geïgnoreer is, óf misgekyk is, wat baie belangrik is:
1. Die gebruik van ʼn selfoon terwyl jy bestuur (!),
2. Ingeligtheid/opleiding rakende bestuur van ʼn voertuig,
3. Volwassenheid agter ʼn stuur,
4. Vermoëns om korrek te bestuur (baie van SA bestuurders kan nie ʼn draai vat nie, maar o wee, op ʼn reguit pad jaag dit!),
5. Spanning/senuwees en onsekerheid,
6. Kennis van jou motor se vermoëns
7. Arrogansie / beterweterigheid…
En…die pad behóórt nie aan jou nie, jy bly ʼn padgebruiker. Dit is jou voorreg, nie jou reg nie!

Blomme ·

Hoe is ons land dan altyd onder die top 3 wanneer die navorsing van die negatiewe kom? Sjoe, is daar nog iets oor in die land wat ons onder top 3 van die positiewe navorsings kan laat beland? Ek hoop die ANC is baie trots as hulle sien wat hulle bereik het…. Indien hulle kan verstaan wat aan gebeur is in hierdie land.

Koen ·

En almal wys vinger na ander. Swak en onverskillige bestuur kom onder almal voor, ongeag motor en mens fabrikate.

Surfer ·

Die mense moet besope wees om slinger slinger tussendeur die potholes te ry. LoL.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.