SA landbou-uitvoere behaal nuwe rekord

Ondanks talle logistieke uitdagings het Suid-Afrika se landbou-uitvoere vorige rekords laat spat. (Foto ter illustrasie: Komati Fruit)

Ondanks talle logistieke uitdagings het Suid-Afrika se landbou-uitvoere vorige rekords laat spat.

Data van “Trade Map”, ʼn aanlyn platform met statistieke oor onder meer uitvoerprestasie en internasionale aanvraag, toon dat uitvoere verlede jaar altesaam $13,2 miljard (meer as R250 miljard) beloop het – ʼn toename van 3% vergeleke met die vorige jaar.

Sitrus, mielies, appels en pere, neute, wyn, sojabone, suiker, wol, druiwe, bessies, avokado’s en vrugtesap het die uitvoerlys verreweg oorheers.

“Dit is sterker as ons vroeëre verwagtinge van beskeie uitvoerbedrywighede in dié jaar,” het Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer (Agbiz), gesê.

Hy skryf die opwaartse kurwe toe aan ʼn verbetering in volumes en pryse.

“Met dit in gedagte het prysontwikkelings deur die loop van die jaar aansienlik meer gewissel as wat die gemiddelde data toon. Terwyl vrugtepryse opgetel het, het die pryse van graan en oliesaad beduidend afgeneem van prysvlakke in 2022.”

Sihlobo sê uitvoere in 2023 was wydverspreid oor verskeie sleutelmarkte, waarvan Afrika steeds die leidende mark was.

Altesaam 38% van landbou-uitvoere verlede jaar was na Afrika-lande, gevolg deur Asië (28%), Europa (19%) en die VSA (6%). Die res van die uitvoere (9%) was na ander lande wêreldwyd. In laasgenoemde kategorie was die Verenigde Koninkryk die leidende mark.

Sitrus, mielies, appels en pere, neute, wyn, sojabone, suiker, wol, druiwe, bessies, avokado’s en vrugtesap het die uitvoerlys verreweg oorheers. (Foto: Maroela Media)

“Die uitvoerprodukte na hierdie markte was merendeels dieselfde, met Afrika en Asië wat ʼn groot hoeveelheid mielies, sojabone, wol en beesvleis ingevoer het. Uitvoere na ander streke was hoofsaaklik vrugte en wyn.

“Hierdie robuuste uitvoerprestasie is behaal ondanks verskeie uitdagings met ons hawens, kragaanbod en kritieke uitvoermarkte. ʼn Mate van erkenning moet gegee word aan georganiseerde landbougroeperings, die regering, Transnet en verskeie logistieke groepe wat hard gewerk het om te verseker dat uitvoere na dié markte vlot verloop.”

Sihlobo sê die landboubedryf het verskeie forums gestig om deurlopende kommunikasie met Transnet te bewerkstellig sodat probleme by hawens vinnig getakel kan word – veral by die uitvoer van bederfbare produkte en waardevolle produkte.

Baie meer sal egter gedoen moet word aangesien die sukses van verlede jaar se uitvoere produsente en ander belanghebbendes in die waardeketting duur te staan gekom het.

Invoere

Suid-Afrika voer ook nie net uit nie, maar is self ʼn groot invoerder van verskeie landbouprodukte.

“In 2023 het Suid-Afrika se landbou-invoere $7 miljard (meer as R134 miljard) beloop. Dit is 4% laer as die vorige jaar, hoofsaaklik as gevolg van die daling in kommoditeitspryse. Die volume van ingevoerde produkte het egter min of meer dieselfde gebly,” sê Sihlobo.

Produkte wat die meeste ingevoer is, sluit in rys, palmolie, koring, pluimvee en whisky.

Sitrus, mielies, appels en pere, neute, wyn, sojabone, suiker, wol, druiwe, bessies, avokado’s en vrugtesap het die uitvoerlys verreweg oorheers.(Foto: iStock)

Hierdie produkte kom hoofsaaklik uit Asië, die Europese Unie, die Verenigde Koninkryk en die VSA.

“Wanneer Suid-Afrika se invoer- en uitvoerwaarde vergelyk word, het die land se landbousektor ʼn rekordhandelsurplus van $6,2 miljard (R118 miljard) behaal.”

Beleidsoorwegings

Hoewel die onlangse uitvoerprestasie bemoedigend is, behoort Suid-Afrika gefokus te bly op die verbetering van logistieke infrastruktuur en uitbreiding na ander markte, aldus Sihlobo.

“Merkwaardig genoeg het landbou-uitvoere verbeter in ʼn jaar waar ons ernstige beurtkrag en

beduidende logistieke infrastruktuurbeperkings by hawens ondervind het.

“Uitvoere kon egter baie hoër gewees het sonder hierdie beperkings. Daar is ʼn behoefte aan verhoogde investering in hawe- en spoorinfrastruktuur, tesame met die verbetering van paaie in boerderydorpe wat sektorgroei voortdurend knou. Wat baie belangrik is, is die uitbreiding van Suid-Afrika se uitvoermarkte, en dít vereis beter presterende logistieke infrastruktuur.”

Sihlobo sê dit raak ook al moeiliker om uitvoermarkte te behou, aangesien verskeie lande al meer inwaarts keer en beperkende maatreëls instel. Dié beskermingsbeleide oftewel “proteksionistiese neigings” soos Sihlobo dit beskryf, neem veral in Europa en lande soos Botswana en Namibië toe.

In die lig hiervan is dit ook belangrik dat Suid-Afrika sy eie beleidsbenadering versigtig hanteer sodat dit nie ʼn nadelige uitwerking op handel het en verhoudings met bestaande handelsvennote beskadig nie.

“Dit is uiters belangrik vir Suid-Afrika se landbougroei, volhoubaarheid en werkskepping.

“Boonop behoort Suid-Afrika marktoegang uit te brei na sommige van die sleutel BRICS+ lande soos China, Indië en Saoedië-Arabië,” sê Sihlobo.

Maroela Media het vandeesweek berig dat verskeie beesvleisprodukte nou op winkelrakke in Saoedië-Arabië te koop is, danksy ʼn ooreenkoms tussen dié land en die Beefmaster-groep, wat moontlik die eerste Suid-Afrikaanse beesvleismaatskappy is wat in meer as 21 jaar amptelik met Saoedië-Arabië handeldryf.

Ander strategiese uitvoermarkte vir Suid-Afrika se landbousektor sluit Suid-Korea, Japan, Viëtnam, Taiwan, Mexiko, die Filippyne en Bangladesj in.

“Die ambisie om na hierdie markte uit te brei word deur die private sektor en regering gedeel,” sê Sihlobo.

Hy meen die departement van handel, nywerheid en mededinging én die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling moet die weg baan om dié landboustrategie tot uitvoering te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Manie ·

Hulle vertel egter nie van die miljarde rande se vars produkte wat in die hawens staan en vrot word nie, of ingevoerde goedere wat reeds betaal is, maar wat nie afgelaai kan word nie. Gee vir ons ook die verliese asb.

Papsak ·

Ek stem hulle praat niks van hoeveel vars groente en vrugte tot gaan in hawens nie staan en vrot daar !!!!!!!

Andre ·

…dis nou hierdie boere wie onse Julius teiken?
Werklik ‘n wyse jong man!

Nommer 7 ·

Skep hierdie elke jaar se verhoogde kosuitvoere nie ‘n voedselsekerheid risiko nie, en veroorsaak dit nie verhoogde voedselpryse plaaslik nie, aangesien daar nou minder voedsel plaaslik beskibbaar is?

Piet parys ·

So wonder waar ons 15.8 milj ton mielies gaan kry soos sy voorspelling 2 weke gelede. Nog n kader met n hoë salaris wat dink hy weet wat aangaan in die landbou bedryf . . Ja verliese word mos nie gewys nie . Wat is die volumes teenoor prys . Wat is die wins vir staat …meer as wat die boere kry en hulle vat al die risikos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.