SA-ners het in 2019 hierna op Google gesoek

(Foto: pixabay)

Google het onthul waarna Suid-Afrikaners in 2019 die meeste gesoek het op dié internetsoekenjin.

Heel bo aan die lys van mees gesoekte terme was beurtkrag. Suid-Afrikaners het die afgelope jaar verskeie kere onder beurtkrag gebuk gegaan insluitend die afgelope week toe daar vir die eerste keer fase 6-beurtkrag ingestel is.

Die tweede mees gesoekte term was die verkiesingsuitslae. Suid-Afrikaners het op 8 Mei vanjaar hul kruisies gaan trek in die land se sesde demokratiese algemene verkiesing. Die VF Plus se steun het meer as verdubbel, die EFF het ook gegroei terwyl die DA en ANC agteruit geboer het.

Thanos was die derde mees gesoekte term. Thanos is die bose ruimtewese wat in die rolprent Avengers: Infinity War die helfte van die heelal verwoes het. Die opvolgfliek, Avengers: Endgame, het vanjaar in teaters gedraai en word as die afronding van 11 jaar en 22 rolprente in die reeks beskou.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) was die vierde mees gesoekte term. Die OVK was in beheer van vanjaar se sesde algemene verkiesing in Suid-Afrika.

Fiona Viotti

Die vyfde mees gesoekte term was Fiona Viotti, ʼn voormalige onderwyseres by Bishops College in Rondebosch, Kaapstad. Viotti is aan seksuele wangedrag skuldig bevind. Viotti het op 11 Oktober bedank nadat dit aan die lig gekom het dat sy glo ʼn verhouding met ʼn skoolseun gehad het. Viotti was die skool se waterpolo-afrigter.

Swart Vrydag-winskopies was die sesde mees gesoekte term. Swart Vrydag het vanjaar op 29 November in Suid-Afrika plaasgevind.

Die sewende mees gesoekte term was Gavin Watson. Die omstrede Bosasa-hoof is in Augustus in ʼn motorongeluk naby die OR Tambo Internasionale Lughawe dood. Bosasa, nou African Global Operations, het berug geraak vir die maatskappy se beweerde betrokkenheid by staatskaping en korrupte bedrywighede. Daar is beweer Bosasa het miljoene rande aan ANC-veldtogte geskenk en Watson het glo regeringsbeamptes geld en luukse geskenke aangebied in ruil vir gunste.

 

Die voormalige doelskieter Marc Batchelor. (Foto: Facebook)

Mark Batchelor was die agtste mees gesoekte term. Die voormalige sokkerspeler is in Julie vanjaar naby sy huis in Olivedale in Johannesburg vermoor. Daar was heelwat bespiegeling dat Batchelor in ʼn sluipmoordaanval vermoor is. Batchelor het vir Kaizer Chiefs en Orlando Pirates gespeel en het sy beroepsloopbaan in 1990 in die VSA begin voordat hy twee jaar later teruggekeer het na Wits.

Onderwysersdag, wat op 5 Oktober in Suid-Afrika en die res van die wêreld gevier is, was die negende mees gesoekte term.

Die tiende mees gesoekte term was Hoërskool Driehoek. Vier leerders is op 1 Februarie vanjaar by dié skool dood toe ʼn loopbrug ineengestort het. Roydon Olckers, Jandré Steyn, Marli Currie en Marnus Nagel het tydens die ineenstorting van die brug gesterf. Altesaam 29 ander leerders is in die voorval beseer.

James Small.

Suid-Afrikaners het ook na talle plaaslike bekendes op Google gesoek en hierdie was die gewildstes:

  1. Neyi Zimu
  2. Xolani Gwala
  3. James Small
  4. Chester Williams
  5. Andile Gumbe
  6. Siya Kolisi
  7. David Kekana
  8. Faf de Klerk
  9. Peggy Sue Khumalo
  10. Robert Marawa

Suid-Afrikaners het ook talle vrae vir Google gehad en hierdie was die gewildstes:

  1. Hoekom is Cornflakes uitgedink?
  2. Hoe laat is die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi?
  3. Hoeveel stemme vir ʼn setel in die parlement?
  4. Hoe is Cameron Boyce dood?
  5. Hoe lank is ʼn rugbywedstryd?
  6. Wat is Bosasa?
  7. Hoe laat maak kiesstasies oop?
  8. Wie het die verkiesing in Suid-Afrika gewen?
  9. Wat is media?
  10. Wat is tienerswangerskap?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

James ·

Dit laat mens wonder watse data hulle alles bymekaar maak van almal…

Arriewarrie ·

Ek is verbaas immigrasie is nie een van die top gesoektes nie.

JJS ·

Ek dink dit sal eerder emmigrasie wees. Wie sal na hierdie land toe wil kom?

Daan Erasmus ·

Wat ek die meeste soek is: Distance van A na B. Dit is die handigste funksie ooit.

Swak land, agge ek bedoel rand ·

Vir Suid-Afrikaners wat in Amerika werk is dit verseker US Doller na ZA Rand

Fanie du Preez ·

Who cares. . . .dis maar net die handjie vol mense wat daardie search engine gebruik…wat van die miljoene wat ander browsers en search engines soos Duck-Duck Go gebruik . .?

Dit is soos om te sê Suid-Afrikaners het die meeste na Gud Airfilters gesoek in die Autozone katalogus…..dit is maar dan net die handjoe-vol wat by Autozone parte koop en van Gud filters hou……..onnodige snert.

KernelPanic ·

Ek hoor jou, maar die meeste mense is maar skape en volg die trop. Meeste gebruik nog Google. Hierdie is meer ‘n meting van hoe ver ons agteruit gaan.

Strandloper ·

Mmmmm ek dink Google se statistics is verkeerd….dink meer die volgende is van toepassing:
1.Hoekom het ons Eskom nodig
2. Hoe raak steenkool nat
3. Hoe maak mens steenkool droog
5. Wie pleeg die meeste bedrog
6. Hoe brand mens n trein af.
7. Wat is kooper se prys.
8. 10 beste maniere om te betoog
9. Hoekom kan mens nie alle boome rook nie
10. Wie is Zuma…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.