SA ten gunste van uitgebreide Brics – Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa spreek die nasie toe oor Brics. (Foto: GCIS)

Indien Suid-Afrikaners gewonder het, Suid-Afrika se buitelandse beleid berus op die bevordering van menseregte, vrede en stabiliteit en die versterking van handel- en beleggingsbande met ander lande.

Suid-Afrika is ook ten gunste daarvan dat meer lande by die sogenaamde Brics-groepering aansluit, waarvan Suid-Afrika tans een van slegs vyf lidlande is.

Só het pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand aan die nasie gesê voordat hy binne enkele dae die onderskeie staatshoofde van Brasilië, Indië en China sal verwelkom vir die 15de Brics-beraad wat in Johannesburg aangebied word.

Ramaphosa het dit duidelik gestel dat Suid-Afrika verbind is tot ’n beleid van onverbondenheid en enige druk sal weerstaan om by politieke magspel betrokke te raak.

Ramaphosa het ook weer die aandag daarop gevestig dat Afrika die middelpunt van Suid-Afrika se buitelandse beleid bly.

“Ek wil graag hê dat ons die betekenis van hierdie byeenkoms vir ons land en die Afrika-kontinent moet verstaan en waardeer,” het Ramaphosa vanaand aan Suid-Afrikaners gesê.

Maroela Media het vroeër berig die leierskap van die vyf Brics-lande, Brasilië, China, Indië, Suid-Afrika en Rusland, kom Dinsdag tot Donderdag in Johannesburg byeen vir ʼn beraad onder die tema “Brics en Afrika”, met die hoop om die vyf lande se handelsbande met Afrika te versterk.

Die uitbreiding van die groepering sal ook gedurende die beraad oorweeg word.

“Die waarde van Brics strek verder as die belange van sy huidige lede,” het Ramaphosa Sondagaand in sy toespraak aan die nasie beklemtoon.

Meer as 20 lande het formeel aansoek gedoen om by Brics aan te sluit.

Die Brics-lande se vlae. (Foto: Pixabay)

Ramaphosa het vanaand gesê ’n uitgebreide Brics-groepering sal ’n diverse groep nasies verteenwoordig met verskillende politieke stelsels wat ’n gemeenskaplike begeerte deel om ’n meer gebalanseerde globale orde te hê.

Ramaphosa sê die beraad is daarom veral belangrik “aangesien dit gehou word gedurende ’n tyd waarin die wêreld gekonfronteer word deur fundamentele uitdagings wat die verloop van internasionale gebeure vir die komende jare sal bepaal.

“Ons wêreld het al hoe meer kompleks en gefragmenteer geword namate dit toenemend in mededingende kampe gepolariseer word.

“Multilateralisme word vervang deur die optrede van verskillende magsblokke, met wie ons almal handel dryf, waarmee ons beleggings deel en wie se tegnologie ons gebruik.”

Ramaphosa sê dit is juis om hierdie rede dat Suid-Afrika pleit vir ’n oop en reël-gebaseerde globale bestuur‑, handel‑, finansiële en beleggingstelsel. “Dit moet ’n stelsel wees wat nie afhanklik is van magsuitoefening of eensydige gedrag nie, maar deur die bevordering van die belange van mense wêreldwyd.

“Dit is in hierdie reëlsbasisstelsel wat ons poog om Afrika-voorspoed en industrialisasie te bevorder. Ons poog om die reëls te verander om regverdiger te wees, maar uiteindelik wil ons ’n oop stelsel van ekonomiese en politieke verhoudings bevorder.”

 

Afrika eerste

Ramaphosa hou vol Suid-Afrika het nog altyd die belange van Afrika binne Brics behartig.

Om die Afrika-ontwikkelingsagenda verder te bevorder, sal meer as 30 staatshoofde van reg oor Afrika vanjaar se beraad bywoon.

“Ons wil ’n vennootskap tussen Brics en Afrika bou sodat ons vasteland geleenthede vir verhoogde handel, belegging en infrastruktuurontwikkeling kan ontsluit,” sê Ramaphosa.

“Daar is ook groot geleenthede vir ander Brics-lande om aan die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied deel te neem deur produksie en dienste in verskeie lande op die Afrika-kontinent, insluitend ons eie, op te spoor en vennootskappe met plaaslike maatskappye en entrepreneurs aan te gaan.”

Ramaphosa het dit ook duidelik gestel dat Suid-Afrika daartoe verbind is om die Afrika-unie te versterk sodat dit sy vermoë verhoog om die bereiking van groter integrasie op die vasteland te ondersteun.

“Ons werk aan die volle implementering van die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied, wat daarop gemik is om handelsversperrings uit te skakel, handel binne Afrika te bevorder en welvaart vir die hele Afrika te bewerkstellig.”

Hou Maroela Media die komende week dop vir verslaggewing vanaf die Brics-beraad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

annie ·

Mmm… Dit klink baie soos ‘n oop huwelik. Ons is getoë en getroud maar moenie my vra waar ek gisteraand was nie. En die effe aangeklam? Dis my saak. En die soet reukie aan my kraag? Ons groep het gisteraand na werk gou parfuum gaan toets vir ou Jan se vroutjie wat môre verjaar. Hou jy daarvan?

Jaco ·

As dit nou kom by “human rights”, wil ek net graag weet:
Sal ramaphosa ook die menseregteskendings in China aanspreek?
Wat van Rusland wat Oekraïners se menseregte skend?
Wat van regstellende aksie in SA? Skend dit die menseregte van wit mense, Kleurlinge en Indiërs, of is dit “iets anders”?
Dan ook, Rusland wil basies die etnies-Russiese dele van die Oekraïne beset en die Russiese minderheid teen sogenaamde slegte behandeling vanaf die Oekraïne te beskerm.
Draai dié situasie nou om en pas dit op SA toe:
‘n ander land val SA aan om ‘n einde te maak aan die onderdrukking van wit mense en kleurlinge in die Wes-Kaap. Ek wonder of die ANC ook sou dink dis reg.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Wes-Kaap sal toenemend pro-Westers word, met sterk bi-laterale betrekkinge met Navo lande, strydig met ANC beleid.

Martie Smartie ·

Hy praat nie nsm my nie. Wie is SA waarvan hy praat? Dis ANC beleid wat hy voorhou as SA beleid. Dis niks van my nie. Hy en sy party is niks van my nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien die Handves pakt beheer oorneem gaan SA uit BRICS bedank.

Grassie ·

Dit lyk vir my Brics is ‘n organisasie waar al die muishondlande versamel. Ramamparra moet weet – as jy jou met die semels meng gaan die varke jou opvreet. Maar as ‘n mens na sy mooi praatjies luister en dit meet aan die wyse waarop hy en sy kasders hierdie land regeer hoort hy eintlik daar.

hpven ·

Wat kos die beraad en hoeveel daarvan het en gaan in die kaders se sakke beland?

Wit Leeu ·

Ag asseblief ! Dink die vent nou Suid Afrika se opinie is iets werd ? Die hele wereld kan sien wat ‘n grap RSA is.

Mariana ·

Wil ook weet watter SA hy van praat. Niemand het my gevra of ek wil deel wees van die brics nie. Nee vir hom is SA net die ANC en kaders. Die mense wat sorg vir die land, die belastingbetalers, is SA. Hulle is niks gevra nie. So Ramapoza moenie namens almal in die land besluit nie. Hierdie stap gaan julle duur te staan kom, wag maar die wiel draai……soos al jul besluite………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.