SAL soek nuwe hoofde

SAL-SAA-Airbus-A330-243

(Foto: Alex Beltyukov/RuSpotters Team/Commons.wikimedia.org)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is op soek na nuwe bestuurders, onder wie ʼn hoof- uitvoerende beampte, om die stuur van dié sukkelende maatskappy oor te neem en die tuig weer op koers te kry.

SAL se voorneme om nuwe leiers permanent aan te stel volg nadat sy omstrede ooreenkoms met die maatskappy Takatso as ʼn strategiese aandelevennoot verlede maand tot niet gegaan het.

Maroela Media het vroeër berig dat dié ooreenkoms, waarvolgens Takatso 51% van SAL sou koop,  talle rooi ligte laat flikker het en uit die staanspoor gedoem was. Die Takatso-konsortium het onder meer op meer belastingbetalersgeld aangedring voordat die transaksie voltrek kon word, terwyl Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, geweier het om besonderhede van die transaksie bekend te maak.

Die ooreenkoms, wat die eerste keer in 2021 aangekondig is, het deur die mat geval nadat die regering besluit het om sy bates en ondernemings te herevalueer.

Die SAL-Takatso-transaksie het die verkoop van 51% van SAL-aandele teen R51 en ʼn kapitaalinspuiting van R3 miljard deur Takatso as ʼn aandeelhouerslening ingesluit.

Die lugdiens het Maandag gesê hy het aansoeke vir permanente personeel oopgestel om die “stabiliteit van die lugredery te verseker” nadat hy voorheen ʼn tussentydse uitvoerende beampte aangestel het. Dié aanstelling sou met die afhandeling van die Takatso-transaksie verstryk.

“Die vul van hierdie poste is ʼn positiewe en beslissende stap wat ten doel het om stabiliteit en rigting te bied oor die groei- en uitbreidingsplanne wat tans nagestreef word,” het Derek Hanekom, voorsiter van SAL se tussentydse raad van voorsitters, gesê.

“Die tussentydse uitvoerende bestuurspan het die lugredery bewonderenswaardig opgebou nadat dit uit sakeredding gekom het, met die verstandhouding dat hul poste tussentydse posisies is totdat ʼn nuwe beherende aandeelhouer ʼn bestuurspan aanstel.

“Almal van hulle, insluitend die tussentydse hoof- uitvoerende beampte, prof. John Lamola, ondersteun hierdie ontwikkeling as ʼn nodige en natuurlike stap om SAL se posisie in die plaaslike en internasionale lugvaartmark te versterk.”

Hanekom het ook die tussentydse bestuur en alle SAL-werknemers se toewyding en vertroue in die lugredery geloof.

Benewens ʼn hoof- uitvoerende beampte soek SAL na ʼn hoofbemarkingsbeampte, hoof- menslike hulpbronbeampte, tegniese hoof- uitvoerende beampte en ʼn hoof- uitvoerende beampte vir die lugredery se filiaal Air Chefs.

Aansoeke sluit op Vrydag, 26 April 2024.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Papsak ·

Ja nog werk vir hulle kaders nie vir ons nie ons tel mos niks nie daarom lyk lughawens so !!!???

Nie Verbaas ·

So een onbevoegde gaan net met n ander onbevoegde vervang word. ANC beleid.

Wondermaarnet ·

Gaan haal ‘n paar kaders uit die parlement. Daar is baie onbevoegdes wat die poste kan beklee en dan is daar plek in die parlement vir vars kaders om te leer van breek af, plunder en bedrog.

Martie ·

Gordhan het die SAL darem lekker opge… Nou gaan hy met vet pensioen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.