Sanef geskok oor Thembisa-10 toekenningkortlys haal

Die 37-jarige Gosiame Thamara Sithole van Tembisa. Langs haar sit haar man, Tobogo Tsosetsi. (Foto: Thobile Mathonsi/African News Agency/IOL)

Die beriggewing omtrent die Tembisa-tienling, ʼn nuusstorie wat talle Suid-Afrikaners verlede jaar laat kopkrap het oor die egtheid daarvan, word nou oorweeg vir ʼn internasionale toekenning. Dié benoeming word gehandhaaf ondanks die feit dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) die organiseerders gewaarsku het dat die hele sage reeds gediskrediteer is.

Die storie is verlede jaar deur Pretoria News gebreek en het met foto’s van ’n hoogswanger 37-jarige Gosiame Thamara Sithole met haar man, Tobogo Tsosetsi, gespog. Maroela Media het vroeër berig dat die geboorte van die sogenaamde “Tembisa 10” uit verskeie oorde, onder meer deur die regering, as fopnuus bestempel is. Dit nadat nie ʼn enkele foto van die babas opgespoor kon word en niemand hulle skynbaar met ʼn oog gesien het nie.

Die storie is ingeskryf vir ʼn internasionale nuusmediatoekenning (Inma) in die kategorie beste gebruik van sosiale media.

Sanef het aan Inma geskryf om sy kommer uit te spreek, maar ten spyte hiervan bly die beriggewing een van die benoemdes.

“Ons vind dit onbevredigend dat Inma in sy antwoord sê dat die beoordelaars die kwaliteit van die beriggewing beoordeel het – nie die storie self nie,” het Sanef in ʼn verklaring gesê.

Inma het verder gesê dat hy nie in ʼn posisie is om die jurie se besluit om die beriggewing te benoem om te keer nie, gegewe die inligting wat die Jurie reeds in Februarie vanjaar tot sy beskikking gehad het tydens die beoordelingsproses. Die bykomende konteks rondom die storie sal opgeweeg word in die deurlopende proses om wenners te kies wat in Junie 2022 deur Inma aangekondig sal word.”

Hierdie reaksie is ongelukkig nie goed genoeg nie, het Sanef gesê “aangesien dit ʼn veldtog legitimeer wat voortspruit uit ʼn storie wat bewys is dat dit nie net belaglik is nie, maar ook ʼn verleentheid vir Suid-Afrikaanse joernalistiek is.

“Ongelukkig duur die verleentheid voort aangesien dieselfde koerantgroep, ʼn betalende lid van Inma, voortgaan om meer stories te publiseer wat poog om die legitimiteit van die tienling se sogenaamde geboorte voor te gee. Dit is belangrik om daarop te let dat die tien babas nog gesien is nie en geen bewys is nog ooit gelewer dat hulle wel bestaan nie.”

Volgens Sanef is die beriggewing van die Tembisa-tienling feitelik onakkuraat en dra dit by tot die verspreiding van waninformasie, wat lesers doelbewus mislei. “Dit is nou openbare kennis en word wyd aanvaar dat dié stuk waninformasie laat voortduur en reeds afgemaak is weens ʼn algehele gebrek aan verifikasie en ernstig twyfelagtige ‘bronne’.”

Sanef het ʼn beroep op Inma gedoen om sy standpunt te heroorweeg en die beriggewing van die benoemingslys te verwyder.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Christine ·

Miskien kan mens enige storie uit jou duim suig en dan ‘n prys wen!

marius ·

My vrou is 60 en so verwag ‘n 60 ling. Waneer kry ons miljoene vir die liegstorie ?

Jr ·

Dis hoe dit gedoen word in SA. Lieg en bedrieg en jy word ge eer. ‘n Skande. Absolute skande

Deon ·

Kan jy nou meer. So die joernalis wat die beste strooi storie kan uitdink en dan koerante daarmee help verkoop kan n toekenning kry. Mooi man…

Reinald ·

???? Dat dié liegstorie die wêreldpers kon haal is ‘n prys werd!

Pietertjie ·

Dit pas by die fake&woke wêreld waarin ons leef. Die waarheid het plek gemaak vir die leuen.

Marthinus W ·

In die hoofstroommedia gaan dit nie meer om feite nie, maar persepsies en emosies.

Pieter ·

Dit bewys maar net dat die wêreld die ANC as ‘n kriminele organisasie ondersteun en vere vir ons voel. Dit word ook bewys deur die minister se aanstelling as ‘n direkteur by die wêreldbank. So word fopnuus vereer. Trump was skerp gekritiseer oor fopnuus. Wie kan ons glo?

Keelvol ·

Dis die gehalte van beriggewing wat onse media doen….. wat n klug.

Boatsie ·

Hoe siek raak ons wereld as daar al vir so ‘n opgemaakte liegstorie ‘n toekenning gegee wil word.
En waar gaan ons media forums heen as hul sulke bog glo en dit verkondig as die waarheid.

Swerwer ·

Wys jou maar net, alles wat onwaar is seëvier in hierdie vieslike lewenswyses van deesdae se mensdom.

Sandra ·

Hoe op aarde kan dit ‘n internasionale toekenning kry as die storie in die eerste plek vals was? Nou krap ek regtig kop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.