SANW in DRK: ‘Meer gaan sterf’

Argieffoto van ‘n Oryx-helikopter. (Foto: Lystil – deur Underlying_lk via Wikimedia Commons

Die DA het Donderdag opnuut gewaarsku dat nóg lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) in die Demokratiese Republiek die Kongo kan sterf.

“Dit is met groot hartseer dat die DA verneem het van twee lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wat hul lewe in die DRK verloor het en nog drie wat gewond is,” het Kobus Marias, die DA se skaduminister van verdediging, gesê.

Maroela Media het berig ʼn mortierbom in die ooste van die DRK het Woensdag die lewe van twee weermaglede geëis, toe dit binne-in een van die weermagbasisse geland het. Dit is die eerste aangetekende sterftes sedert Suid-Afrikaanse troepe in Desember verlede jaar ontplooi is om die opstand in dié gebied te help stuit.

Die DA het sy medelye met die familielede uitgespreek en gesê pres. Cyril Ramaphosa het nou bloed op sy hande.

“Twee dae gelede het ons die president reeds gewaarsku dat dit ʼn fout sou wees om nog lede van die weermag na die DRK te ontplooi. Die Suid-Afrikaanse weermag het eenvoudig nie die kapasiteit om ʼn teeninsurgensie-veldtog teen M23-rebelle in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) suksesvol te voer nie. Ramaphosa stuur SANW-lede na hul dood.”

Marais sê dis selfs meer kommerwekkend dat Ramaphosa ons troepe onvoorbereid na ʼn aktiewe oorlogsgebied stuur, sonder behoorlike militêre toerusting om die komplekse terrein te navigeer. “Sonder behoorlike lugdekking en vervoer sal SANW-lede dit moeilik vind om doeltreffend in die oostelike gebiede van die DRK op te tree.”

Die nuuswebblad Defence Web het ook Donderdag berig dat die M23-rebelle hoogs gevorderde tegnologiese wapentuig tot hul beskikking het. Dit sluit “gesofistikeerde begeleide mortierammunisie” in, asook missiele wat van die grond af gelanseer word om vliegtuie of ander missiele af te skiet.

Vroeër die maand is daar ernstige skade aan die weermag se enigste ontplooibare Oryx-helikopter in die DRK aangerig, toe daar glo op die helikopter geskiet is.

Marais sê die parlement het nou die verantwoordelikheid om verdere lewensverlies te keer.

“Hoewel die Grondwet spesifiek aan die president die mag gee om die weermag te ontplooi, moet die parlement dit nie oogluikend toelaat wanneer die president besluite neem wat ons seuns en dogters in gevaar stel nie. As oorsigtelike liggaam behoort die parlement aktiewe stappe te doen om die meriete van Ramaphosa se besluit te hersien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Prikkie ·

Nou ja, in die “ou” dae was daar niemand in die politiek wat regtig kon opstaan vir die SA troepe (wat waarvoor?) grens toe gestuur is nie. Baie is dood, sommige sukkel nou nog om van post traumatiese stres sindroom ontslae te raak (sommige sal nooit).

In ons eie land vier die bendes hoogty, skiet op mekaar en skiet onskuldiges dood. Daaraan word daar min indien enige gedoen.

CR weet duidelik nie wat ons weet nie of hy gee nie ‘n bloue duit om nie. Besluit maar self.

skurweberg ·

Die vyand vra nie of jy deeglik opgelei is of nie, jy is na ‘n oorlogsone gestuur. Dit is die vrae wat deur die bevelvoerders en die President beantwoord moet word. Die ouers met kinders wat gestuur is moet self ook seker maak dat hierdie voorwaarde nagekom is.

Johann ·

Hy gee nie om nie. Hy en sy anargis terroriste skuld waarskynlik ‘n kameraad iets. Goed belowe wat hy nou moet nakom.

Riaan ·

Ek is baie skepties dat Suid Afrika se weermag enigsins suksesvol kan wees. Die weermag wat die beste in Afrika was, is lankal gedesimeer. Deesdae is aanstellings in die weermag, soos enige ander staatsdiens gedryf deur nepotisme. Ek voorspel dat die soldate n duur prys gaan betaal vir die kortsigtige besluit.

Andre ·

…CR of Gwede het seker nie familie daar anderkant nie.Wat worry hulle, dit bring mos stemme!

Delia ·

Moenie dink al hierdie soldate word gedwing nie. Baie gaan vrywillig. Geld is goed. Jy kry ekstra daaglikse toelating wat die UN aan die lid en die regering betaal EN jou maandelikse salaris. Party gaan vir hulle kinders se universiteitsopleiding. Party het n 2de familie daar bo en een onder in SA.

Delia ·

Ag asb DA, die ou regeringsmanne het net so baie bloed op hulle hande. Ons seuns is grens toe gestuur op 18 jarige ouderdom. Hou asb op om te dink die ou Nasionale Party Regering was n skoon papiertjie

Christian J M ·

Dis reg dat hulle sal sterf daar !
Wat soek hulle daar in elk geval !!!
Net moeilikheid !!!!

Martie ·

Dit lyk my oral in Afrika word daar oorlog gemaak maar ons regering bekommer hom net oor die Israeli en Hamas oorlog. Wonder waar kom die liefde vir die moslemgeloof vandaan.

Pieter ·

Wat n grap, ons weermag , beteken niks meer. Die eens magtigge en gevreeste mag wat ons gehad het, is nou soos alles waaraan die anc raak, net n hoop gemors.

Helena ·

Ons manne is op 18 Angola toe gestuur… Vir NIKS!….. As hul wil gaan uit eie wil…. Hul keuse… Geld is nie alles!

trotsNAMSA ·

SA’ners weet dat die SANDF net op papier bestaan. Ek vermoed die lede na 1994 besef nie dat oorloë dood maak nie. Kyk op TV en sien hoe goed M23 toegerus word deur nasies wat belange het in DRK.
SA’ners moet aanvaar dat SA “verplig” word om lede te voorsien, so nie kry SA nie geld/ondersteuning van VSA of Frankryk.

Jax ·

Niemand wen in n oorlog nie. Die kans dat jy sal sterf, is n realiteit en die troepe word daarop voorberei. My pa was ook destyds in Angola – selfs ons as kinders het geweet dat pappa dalk nie sal terugkeer nie – net soos jou maatjie se soldaat-pappa. My ma het baie aande in ons sitkamer, laataand, sit en snik nadat sy saam met die militêre polisie na iemand se huis moes gaan om Slegte nuus te bring – dit terwyl haar eie man nog steeds Erens in Angola is. Die spreekwoord sê: die beste stuurman staan aan wal….. Dit wat gebeur het, is verlede tyd. Om nou stokke op te neem en links en regs te wil slaan, is doelloos. Wat het ons uit ons verlede geleer en pas ons die lesse toe op die huidige? Nee, ons doen nie. Ons Bly karring met die ou koeie in die sloot en verder praat ons net oor die hede en toekoms. Wanneer en meer nog wie, sal opstaan, en die wêreld weer n lushof maak om in te leef en werk?! Dis nie net ons “leiers” wat hulle skuldig maak aan hierdie land en wêreld se verval nie. Dis elkeen van ons se skuld dat dit tans is wat dit is! Daar is te veel haat in ons land en ook in die wêreld en voor ons dit nie besef en iets, in ons binneste, verander nie, sal dinge Bly soos dit is en kan dit selfs baie erger word! Ons leef tans, NOU, vir môre en die dae wat kom. Wat gaan jy en ek doen om vandag n beter plek te maak vir elkeen wat so lief is vir ons Afrika-Son?

daarsdit ·

Is dit net vir my vreemd, dat hulle die erkening hierdie week gemaak het dat die weermag van Desember af al daar is en nou enkele dae na dit geopenbaar is, is daar skielik mense dood. Wonder maar net….

hpven ·

@ Helena en Delia. Ek was een van die destydse 18 jariges. Nee dit was nie vir NIKS nie. Ons is deeglik opgelei en het teruggekom met deursettingsvemoë, oorlewings en lewenservaring wat geen geld op aarde kon koop!
Ons kuier gesels, lag en ja soms huil ons saam. Ons tel mekaar op en help mekaar, is steeds daar vir mekaar want al wat ons het is mekaar! Dit kan niks of niemand ooit van ons wegneem.
Dit is ook waar dat ons destyds die rug gekeer was deur die NP regering! Maar een wat terug kyk as hy ploeg oes niks!

minnie muis ·

sa het nie geleer met die lesotho onwettige inval van jare terug nie

Boeing ·

Ooreenkoms tussen Biden en Ramaphosa. Jou eie mense kan maar doodgaan van die honger. Jou grense kan maar oop wees vir onwettige immigrante. MAAR ons sal in ander lande gaan oorlog maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.