SANW werp lig op gerugte van ontplooiing

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het gereageer op een van sy eie interne kennisgewings wat sê dat soldate opgeroep kan word om hul sekondêre rol te speel om die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te ondersteun in sy pogings om die groeiende onrus in die land in bedwang te hou.

Die kennisgewing, wat reeds op 6 Augustus uitgereik is, voer aan dat die situasie in die land geleidelik versleg en dat soldate gereed moet wees “in afwagting op ontplooiing”.

Die kennisgewing doen die afgelope tyd die ronde op sosiale media en het mense op hol gehad oor wat die ontplooiing van die weermag in die land sal behels.

Sporadiese onluste het die afgelope week in die land uitgebreek, onder meer as gevolg van die aanval en verkragting van agt vroue in Krugersdorp. ʼn Groep zama-zamas was glo by dié voorval betrokke en sedertdien het inwoners van Gauteng onwettige burgers en hul wonings geteiken.

Die inwoners van Kagiso in Krugersdorp het reeds versoek dat die weermag ontplooi word, maar die polisieminister, Bheki Cele, het gesê dit sal oorweeg word as of wanneer die behoefte ontstaan.

Brig.genl. Andries Mahapa, woordvoerder van SANW, het egter Maandag gesê dat slegs pres. Cyril Ramaphosa gemagtig is om die weermag te ontplooi om te help om enige verdere onrus in die land in bedwang te hou.

“Slegs die president het die uitvoerende gesag om die weermag, in samewerking met of ter ondersteuning van ander entiteite, te ontplooi om die huidige onstabiliteit in die land hok te slaan,” sê hy.

“Die hoof van die SANW herhaal dat indien die ontplooiing van die weermag ingevolg artikel 201(2) van die Grondwet gemagtig word, dit hoofsaaklik sal wees vir die behoud van die lewe, gesondheid en eiendom van mense en nie teen die mense van Suid-Afrika nie.”

Bekommernisse het ontstaan nadat die weermag in die uitgelekte kennisgewing gesê het dat die “situasie in die Republiek van Suid-Afrika geleidelik in onrus verval as gevolg van misdadigheid wat binne die grense plaasvind”.

Die weermag het bygevoeg dat die stand van sake vererger word deur ʼn “vermeende gebrek aan optrede van veiligheidsmagte om misdadigheid te bekamp”.

“Dit is in hierdie verband dat die weermag beveel is om op 24-uur‑bystand te wees in afwagting op ontplooiing ter ondersteuning van of in samewerking met die SAPD.”

Volgens Mahapa was die dokument nooit veronderstel om in die media en onder die publiek versprei te word nie.

“Dit bly ʼn interne dokument wat bedoel is vir beplanning- en koördineringsdoeleindes binne die SANW.”

Sou Ramaphosa wel besluit dat ʼn “dringende en meer robuuste ingryping” nodig is om die situasie in die land te ontlont, moet hy eers die parlement oor die besluit inlig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

christo ·

Die ANC het soveel binnegevegte en Ramaphosa is besig om te baklei vir politieke oorlewing en die hele land ly onder die gebrek van doeltreffende bestuur van Suid-Afrika. SA se geskiedenis het oor en oor bewys daarvan dat wanneer die President die weermag ontplooi vir wet en orde, die politieke magsbasis van die President besig is om te verkrummel.
Bheki Cele lieg vir ons en vir Ramaphosa dat die SAPD misdaad onder beheer het.
Indien die ANC wil weet hoekom SA in chaos gedompel is, moet hulle net gaan kyk na hulle swak beleide soos byvoorbeeld Swart Ekonomiese Bemagtiging (BEE) wat die ekonomie aan bande lê en werkloosheid tot gevolg het.
Die werkloses word gepaai en gyselaar gehou met maatskaplike toelaes, en dat dit sal verdwyn as daar nie vir die ANC gestem word met elke verkiesing nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.