Siggestremde leerders sê les op met rug-teen-rug-vraestelle

(Argieffoto: Shutterstock)

Matrieks wat twee vraestelle op een dag skryf, moet werklik hare op hul tande hê, maar vir siggestremde leerders, wat bykomende tyd benodig om vraestelle te voltooi, is dit selfs erger.

Matrieks lê Donderdagoggend die tweede Afrikaans Huistaal-vraestel af en Donderdagmiddag wag die Toerisme-vraestel op talle van hulle.

As ʼn reël kry siggestremde leerders meer tyd om vraestelle af te lê omdat hulle bystand daarmee benodig. Dit beteken egter dat hulle in die algemeen veel langer as hul medeleerders moet konsentreer om die vraestelle te voltooi – en soveel te meer wanneer daar twee vakke op een dag geskryf word.

Volgens Jace Nair, uitvoerende hoof van Blind SA, sal die lang ure wat dié leerders in eksamenlokale moet deurbring beslis ʼn uitwerking op leerders se gemoedstoestand hê. Hy meen dit sal ook geestelike, emosionele en fisieke spanning veroorsaak.

Dit is juis dié organisasie wat alarm gemaak het toe die 2023-eksamenrooster aangedui het dat dié leerders in sommige gevalle twee vraestelle op een dag sal moet aflê.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die nasionale onderwysdepartement, het aan Maroela Media gesê die departement is bewus van die penarie waarin siggestremde leerders hulself bevind, asook die bekommernis dat die lang skryftyd van twee vraestelle op een dag te veel druk op siggestremde leerders plaas.

“Ná die bekendmaking van vanjaar se gr. 12 NSS-eksamenrooster, het Blind SA dit onder die aandag van die departement gebring dat sommige blinde kandidate twee eksamens op een dag sal aflê.

“Aangesien blinde en swaksiende kandidate bykomende tyd gegun word, sal die algehele tydsduur van die eksamen oor twee sessies buitensporig wees. Daarom het die departement ʼn vergadering met Blind SA, die geraakte skole en die betrokke provinsiale onderwysdepartemente belê.

“ʼn Plan is ingestel om die skryf van die twee sessies waar twee vraestelle op een dag geskryf moet word, te bestuur, om sodoende die moegheid wat [onder die leerders] kan ontstaan, te verminder.”

Mhlanga sê voorts daar is op bepaalde begin- en eindtye vir elk van die vraestelle ooreengekom, asook voldoende ruspouses vir geraakte kandidate soos deur elke skool toepaslik geag.

Hy het egter nie gesê hoe lank hierdie kandidate sal nodig hê om hul onderskeie vraestelle te voltooi nie.

Mhlanga het wel toegegee dat hoewel daar nou ʼn plan beraam is, die kwessie steeds  ʼn “uitdaging is waaroor daar verdere beraadslaging sal moet geskied om te verseker dat leerders met beperkings hul eksamens onder gunstige toestande kan aflê”.

‘Doodmoeg’

Jeanne-Mari Viviers (32), ʼn blinde vrou wat in die regsbedryf werk, sê sy het as matriekleerder gelukkig nooit twee vraestelle op een dag afgelê nie, maar dat sy wel in haar matriekjaar ʼn praktiese eksamen in rekenaartoepassingstegnologie (RTT) moes aflê wat van 07:00 tot 18:00 geduur het.

“Jy is doodmoeg na die tyd. Jy hou op presteer en kan naderhand nie meer dink nie.”

Viviers sê om net langer tyd aan siggestremde leerders toe te staan om vraestelle af te handel, is nie ʼn volhoubare oplossing nie.

“Niemand het egter al met ʼn alternatief vorendag gekom nie en daarom sal dit waarskynlik altyd so bly.”

Viviers, wat in 2019 ʼn regsgraad aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom behaal het, sê die kwessie is ook nie net op skoolvlak ʼn probleem nie, maar ook by universiteite en ander tersiêre instellings.

“Ek het self nou die dag ʼn 11 uur lange vraestel geskryf.

“Almal sê ‘dis oukei, jy sal orraait wees’, maar niemand weet hoe dit voel nie. En daar is niks wat ons kan doen om vinniger te maak nie, jy maak so gou as wat jy kan.

“Ek dink nie dis regverdig nie en dit sit baie druk op jou.”

Viviers sê nog ʼn probleem is dat eksaminators wat siggestremdes tydens eksamens bystaan, dikwels nie in die vak opgelei is wat die kandidaat skryf nie. Dié eksaminators sukkel dan self om vrae – onder meer wiskundige grafieke of tabelle – aan die kandidaat te verduidelik en hulle kan nie kandidate se vrae vir opklaring na behore beantwoord nie.

Mondelinge eksamens is net so moeilik omdat jou “brein dan vinniger dink as wat jy praat”.

“Dit is ongelooflik uitputtend,” sê Viviers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

George ·

Ek het op n hele paar dae dubbel geskryf, selfs wiskunde n dag na gemie. Niks nuuts nie.

Charllas ·

Dis onmenslik, hoekom die kinders in elk geval maak 2 vrae stelle kryf op een dag!!
Dis stresvol vir hulle almal en ja die siggetremdes soveel meer! Ek hoop regtig waar hulle besef hulle is besig om die matrieks uit te brand!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.