Sindikaat by Thembisa-hospitaal ondersoek

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Kenny Eliason/Unsplash)

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het nou ʼn mandaat gekry om die skandaal verder te ondersoek.

ʼn Proklamasie is Vrydag gepubliseer, wat die SOE toestemming gee om bewerings van grootskaalse korrupsie en wanadministrasie met betrekking tot die sake van die Gautengse departement van gesondheid en die Thembisa-hospitaal te ondersoek. Dit gee die SOE in die besonder magtiging om die bedrywigheid van ʼn vermeende sindikaat vir korrupsie en bedrog te ondersoek en bykomende areas te ondersoek wat nié deur ʼn aanvanklike ondersoek gedek is nie. Alle kontrakte, aankope en bedrywighede vir die tydperk van 1 September 2020 tot en met 1 September vanjaar mag ondersoek word.

Die SOE het verlede jaar ʼn ooreenkoms van sekonderings met die Gautengse departement van gesondheid aangegaan om bewerings van korrupsie, bedrog en wanadministrasie te ondersoek in kwessies wat verband hou met voorsieningsketting-bestuursprosesse by dié Pretoriase hospitaal.

Die SOE het gevolglik bevind dat bedrieglike betalings van R850 miljoen deur middel van onreëlmatige kontrakte aan 227 maatskappy gemaak is. Die fluitjieblaser Babita Deokaran het ten tyde van haar moord reeds profiele van 224 van die maatskappye opgestel en in ʼn forensiese verslag van haar eie vervat.

Die maatskappye behoort aan vier sakelui, onder wie Stefan Govindraju. Hy word in die SOE se verslag as die hoofbegunstigde van die onreëlmatige verkrygingspraktyke by die Tembisa-hospitaal geïdentifiseer.

Dié bevindings het die SOE genoop om aansoek te doen vir die proklamasie.

Dit stel die ondersoekeenheid in staat om onder meer die aankoop van of kontraktering vir goedere en dienste deur of namens die departement van gesondheid vir die Thembisa-hospitaal te ondersoek. Die ondersoekeenheid sal ook enige onreëlmatige en vrugtelose of verkwistende uitgawes wat deur die departement of die hospitaal aangegaan is, ondersoek, sowel as enige onwettige of onbehoorlike optrede deur beamptes of werknemers van die hospitaal, die staat of diensverskaffers.

Die proklamasie stel die SOE ook in staat om te dagvaar vir bewyse, elektroniese toebehore en bankstate na te gaan, sowel as om getuies onder eed te ondervra. Die eenheid kan verder optree teen beamptes wat in die aanvanklike ondersoek geïmpliseer is en siviele eise indien om geld en bates wat deur die staat verbeur is, terug te kry. Sake kan ook verwys word na die relevante wetstoepassingsowerhede soos die Nasionale Vervolgingsgesag om oortreders krimineel aan te kla, en regulatoriese liggame soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens om oortreders op die swartlys te plaas.

Die eenheid sal ook stelselfoute identifiseer en aanbevelings doen oor hoe die stelsel verbeter kan word, ten einde soortgelyke bedrog in die toekoms te verhoed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Henryet ·

Die eenheid sal ook stelselfoute identifiseer en aanbevelings doen oor hoe die stelsel verbeter kan word, ten einde soortgelyke bedrog in die toekoms te verhoed.

Verhoed eerder die moord wat gepleeg is

Di ·

Sien hoeka berig op Opera News dat “Stefan Govindaraju, a nephew of President Cyril Ramaphosa by marriage, was the biggest benefactor of the corruption, earning R436 925” DIT spreek boekdele

Casper ·

Die fluitjieblaser het haar fluitjie teenoor die verkeerde persoon geblaas en sy is vermoor.Die betrokke persoon het natuurlik die sluipmoord beplan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.