Skok ná moord op Kaapse landdros

Landdros Romay van Rooyen (50) is die naweek in haar huis in Kaapstad vermoor. (Foto: Facebook)

Die polisie het die gesteelde voertuig van ʼn landdros wat die afgelope naweek in haar huis in Kaapstad vermoor is, opgespoor, maar niemand is nog in verband met die moord op Romay van Rooyen in hegtenis geneem nie.

ʼn Familielid het Saterdag omstreeks 16:15 op die 50-jarige Van Rooyen se liggaam in haar huis in Marina da Gama afgekom. Volgens sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, is sy op die toneel dood verklaar.

Dit is onduidelik hoe sy vermoor is.

Volgens Twigg was Van Rooyen se voertuig vermis. Die polisie het Maandag egter bevestig dat die voertuig sedertdien in Mitchells Plain opgespoor is.

“Die ondersoek is aan die gang en inhegtenisnemings moet nog gedoen word.”

Die polisie het nie gereageer op ʼn navraag oor die kwessie of die motief vir die aanval moontlik met Van Rooyen se werk as landdros verband hou nie. Luidens berigte word roof in hierdie stadium as motief vir die moord beskou.

Van Rooyen het haar loopbaan in 1997 as ʼn aanklaer begin en het in die distrik- en streekhof gewerk voor sy as staatsadvokaat in die Wes-Kaapse landdroshof begin het. Sy het in 2016 ʼn waarnemende landdros geword en by verskeie howe in die provinsie gewerk, voor sy in Oktober verlede jaar permanent as landdros in die Vredenburg-landdroshof aangestel is.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het sy spyt te kenne gegee en ʼn beroep op die strafregstelsel gedoen om te verseker die oortreders word spoedig aangekeer.

“Die veiligheid van diegene op ons regbank bly die grootste prioriteit. Landdros Van Rooyen se ontydige dood is ʼn verwoestende verlies vir die regbank en ons howe. Ons innige medelye gaan aan haar familie, vriende en kollegas,” het Lamola gesê.

Boodskappe van medelye het ná die nuus van die moord op Van Rooyen ingestroom.

Haar dood is as ʼn verlies vir die regbank en die regstelsel in die geheel bestempel, terwyl sy ook as “dierbare vriend” gemis sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Delia ·

Ek wens die Ministers wil ophou geskok wees en medelye uitspreek en hulle flippin werk doen.

Waarnemer ·

Wat van die veiligheid van die plaasboere…die mense wie sorg dat jy kos in jou maag kry ?mnr lamola

ES ·

Waarnemer, ek deel jou sentiment, maar 95% van plaasboere wat aangeval word is bestaansboere. Die megaboere voorsien ons van kos en bitter min megaboere word aangeval. Dit is die grootste rede hoekom die regering nie omgee nie want ‘n bestaansboer beteken vir hulle net so min soos nog ‘n ou op die straat wat vir sy selfoon vermoor word.

Christine ·

So vermoor hulle die wetstoepassers om ‘n boodskap uit te kry dat hulle sal kom vir landdroste wat hulle skuldig bevind. Die wetstoepassers sal in beskermde areas moet woon, want kriminele doen net wat hulle wil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.