Skool dalk tot Oktober gesluit oor rioolgevaar

Argieffoto

ʼn Skool in Johannesburg sal moontlik tot Oktober vanjaar gesluit bly weens rou riool wat by klasse inkom en leerders en onderwysers siek maak.

Penuel Maduna, tesourier van ʼn ANC-jeugligatak en voormalige Cosas-leier, het gesê die skoolhoof van Nomini Primary School in Orange Farm het die ouers skriftelik van die besluit ingelig.

“Die skoolhoof het gesê die probleem is reeds in Oktober 2019 by die Johannesburg-Suid-distrikskantoor en die Gautengse departement van onderwys aangemeld. Verskeie skrywes deur die skool aan die bestuur het egter op dowe ore geval en dit het daartoe gelei dat die skool gesluit moet word,” het Maduna gesê.

Volgens gerugte sal die skool moontlik tot Oktober vanjaar gesluit bly. “Meer as 1 200 leerders sit nou by die huis terwyl hul eweknieë in ander skole hul opleiding voortsit. Daar is nie enige alternatiewe planne beraam om seker te maak dat die leerders van die skool nie akademies hierdeur geraak gaan word nie.”

Maduna het bygevoeg die skool het slegs ʼn dag voor die sluiting die ouers in kennis gestel. “Ouers het nie genoeg tyd gehad om planne te beraam om seker te maak dat iemand deur die loop van die dag na hul kinders kan omsien nie.

“Dit is teleurstellend dat sulke gevalle van nalatigheid steeds plaasvind, in ʼn land wat aanvoer dat onderwys waardevol is en dit beskou as ʼn sleutel tot sukses. Talle persone sou gedink het die afsterwe van Steve Komape toe hy in ʼn puttoilet in Limpopo geval het en verskeie ander voorvalle sou die departement van onderwys gedwing het om proaktief en reaktief op te tree wanneer dit kom by die instandhouding van infrastruktuur en ontwikkeling in skole,” het hy bygevoeg.

“Arm kinders, veral in kwintiel 1 en 2-skole word steeds onderwerp aan substandaard infrastruktuur en hulpbronne terwyl daar verwag word dat hulle dieselfde uitslag sal lewer as diegene wat uit skole kom waar daar beter hulpbronne is.

“Die departement van onderwys en die regering sien nie dat ʼn onderwysstelsel, waar een kind bó ʼn ander een voorgetrek word, die bevoordeelde kind ʼn korrupte opvoeding gee nie, selfs al gee dit hom ʼn beter kans om voordeel te trek uit onderwysverwante geleenthede.”

Maduna het gesê die ouers het ʼn beroep op progressiewe burgers gedoen om seker te maak dat die departement gedwing word om die rioolprobleem op te los. “Alternatief doen die ouers ʼn beroep op progressiewe ondernemings om na vore te kom en te help. Die ouers is veral besorg oor leerders wat na graad 8 toe moet beweeg, wat nie voorbereid gaan wees op hoërskool nie. Graad 8 is een van die meer uitdagende onderwysfases omdat leerders in ʼn hoërskool moet aanpas, en graad 7 speel dus ʼn noodsaaklike rol om leerders voor te berei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Snowball ·

Lesufi????? Okt 2019 reeds aangemeld en nog nie een steen aangeroer nie? Werksetiek wat erger stink as riool.

msp ·

Hy is te besig om jag te maak op witmense en het skoon van sy eie mense vergeet.

Stebastiaan ·

Dit is presies die geval by Driehoek gewees geen instandhouding wat tot tragedies lei. Tyd dat grootbek Lesufi hof toe gesleep word.

Magda ·

LEFUSI – DIE OU MOET ONMIDDELIK GESKORS WORD SONDER BETALING – DUIDELIK WEET HY NIE HOE OM N DEPARTEMENT TE BESTUUR NIE Sies man – sit jou kinders in daai skool en kyk of jy dit vir 4+ maande gaan ignoreer – ONBEVOEG IS JY 100% – VERWYDER HOM ONMIDDELIK VAN SY POS ASB.

Hansie slim ·

Dis nie die hoof wat gefire moet word nie. Dis Ledufi self. Treurig!!

marius ·

Die hele land is een groot riool plaas . Die waarskuwings oor hierdie dinge was afgelag . Leef nou maar daarmee saam ….

Jakes ·

Die stinkende situasie kan net toegeskryf word aan totale onbevoegdeid om na die welsyn van skoliere om te sien. Stel n paar kleuters aan om die probleem op te los en sekerlik sal hulle n oplossing vir die problem op die tafel sit. Ongelukkig is Lesufi en kie nie in staat om aandag te skenk nie.

Peetjie ·

Lesophy hou hom op met die verkeerde situasies, hier is n perfekte voorbeeld waar hy beheer moes neem, maar nee – hy skitter in sy afwesigheid! En wie is die persone wat nou die meeste gaan ly… Die kinders gaan n hele jaar moet opoffer. Of gaan hulle doodeenvoudig na die volgende graad oorgeplaas word..

JM ·

As net 30% vereis word om te slaag, waarom is die hele jaar op skool nodig? Kom ons kyk of die volgende 7 maande genoeg gaan wees om die riool-probleem op te los.

Nie Verbaas ·

Weereens word dit oor en oor bewys dat niks meer funksioneer in Suid Afrika nie. Dit is skandelik om te sien dat geen gehoor gegee word aan klagtes van skole nie. Die nikswerd werknemers by die department is net daar om n salaries te kry en nie om hulle basiese werk te doen nie. Glo my, hulle is trots op hulself.

Sonia ·

Tipiese ANC manier van regeer! Wanner gaan kiesers begin stem vir WERKLIKE verandering en ordentlike regering!

Leon ·

En al wat Lesufi in belangstel is om Afrikaanse skole te verengels in plaas van om skole te onderhou.

Gawie ·

Waar is GrootBek-Lesufi nou? Of is hierdie storie nie goed genoeg vir sy aansien nie? Ek ruik meer as net riool hier.

Anel ·

En so is die seker.weer Jan v Riebeeck se skul, want hy het mos skole na die land gebring. Ek mag nie sê dat hulle weer apartheid gaan blameer nie, want dan word my komentaar nie geplaas nie. He,he, he!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.