Slagordes opgestel vir regstryd tussen SA, Israel

‘n Vuurbal ontplof na ‘n Israelse lugaanval op Gazastad. (Foto: Mahmud Hams/AFP)

Die Suid-Afrikaanse regering het die slagordes opgestel vir ʼn baanbrekerregstryd in die Internasionale Geregshof toe hy Israel daarvan beskuldig het dat hy dade van volksmoord in die Gazastrook pleeg.

Dít is een van minstens drie sake wat Israel in die gesig staar te midde van voortslepende geweld in dié gebied.

Meer as 22 000 mense, van wie die meeste burgerlikes, is al in Gaza dood sedert Hamas, ʼn Palestynse terreurgroep, Israel op 7 Oktober verlede jaar aangeval en ʼn oorlog ontketen het.

Israel het in reaksie verskeie dodelike aanvalle van stapel gestuur en sê die oorlog sal voortduur totdat Hamas en sy strukture heeltemal uitgewis is.

Die saak tussen Suid-Afrika en Israel sal vandeesweek deur meer as 15 regters in die Verenigde Nasies se hoogste hof in Den Haag aangehoor word.

Wat kan die hof doen?

Suid-Afrika vra die hof onder meer om dringend noodmaatreëls in te stel om die geweld te stuit. Dit beteken dat die hof nie noodwendig met Suid-Afrika se wesenlike saak hoef saam te stem nie. Dit moet slegs beoordeel of daar ʼn risiko vir “onherstelbare skending” van die regte van Palestyne is.

“By die interimmaatreëlvlak van die saak sal die hof nie ʼn beslissing maak dat volksmoord in Gaza ontvou nie,” het Cecily Rose, assistentprofessor in publiekreg by die Leiden-universiteit, gesê.

“Die hof sal slegs beoordeel of daar ʼn risiko van onherstelbare skending van regte ingevolge die Volksmoordkonvensie is, spesifiek ten opsigte van Palestyne in Gaza se regte, wat beskerm moet word teen enige dade wat hul voortbestaan as bevolkingsgroep kan bedreig,” verduidelik Rose.

Suid-Afrika het die hof gevra om verskeie bevele uit te reik, waaronder om Israel te beveel om sy Gaza-offensief onmiddellik te staak, gedwonge ontheming stop te sit en humanitêre toegang moontlik te maak.

Die Internasionale Geregshof in Den Haag. Suid-Afrika se betoë word volgende week aangehoor. (Foto: Internasionale Geregshof)

Die geregshof kan al hierdie maatreëls toestaan soos deur Suid-Afrika versoek, of die land se aansoek in geheel van die hand wys.

Die hof kan selfs ʼn heel ander beslissing maak, of besluit dat hy nie by magte is om ʼn oordeel te fel nie.

Wat dan?

Nadat die hof besluit het om tussentydse maatreëls toe te staan al dan nie, sal die regters die meriete van die breër saak beoordeel – naamlik Suid-Afrika se klag dat Israel die VN se Volksmoordkonvensie oortree.

Die besluite van die geregshof, ook bekend as die Wêreldhof, is bindend op lande en kan nie geappelleer word nie.

Die hof het egter geen manier om sy beslissings af te dwing nie en word soms net heeltemal geïgnoreer.

Dié hof het Rusland immers ʼn maand nadat hy Oekraïne ingeval het, beveel om sy optrede te staak. Byna twee jaar later duur hierdie oorlog voort.

Celine Bardet, internasionale regs-en-oorlogsmisdaadkenner, sê enige besluit sal op “simboliese vlak wees”.

“Dit sal die wêreld herinner dat state ook verantwoordbaar is, en dit is belangrik,” het sy aan AFP gesê.

“Dit kan ander state ook toelaat om stappe op grond van dié besluit te doen – onder meer die instelling van sanksies.”

Hoe lank voor beslissing kom?

Die Internasionale Geregshof is nie bekend vir blitsige uitsprake nie. Aansoeke vir dringende tussentydse maatreëls behoort egter prioriteit te geniet en uitspraak in dié geval behoort binne weke gelewer te word.

Wat die breër saak teen Israel betref, kan ʼn beslissing dalk nog jare neem.

Waarom Suid-Afrika?

Suid-Afrika het die saak teen Israel aanhangig gemaak omdat albei lande ondertekenaars van die VN se Volksmoordkonvensie van 1948 is. Dié konvensie is opgestel nadat die wêreld onderneem het dat daar nooit weer ʼn herhaling van die Joodse volksmoord soos tydens die Tweede Wêreldoorlog sal wees nie.

Suid-Afrika voer aan dat Israel dié konvensie oortree en dat dit sy verantwoordelikheid as ondertekenaar is om Israel se dade aan die groot klok te hang om nog ʼn volksmoord te stuit.

Die ANC-beheerde regering is lankal reeds ʼn openlike ondersteuner van Palestina en sy mense, met die ANC wat gereeld vergelykings met apartheid in Suid-Afrika tref.

Suid-Afrika en Israel het reeds sy diplomatieke bande oor dié kwessie opgeskort.

Ander sake

Die Internasionale Geregshof se beslissing oor dispute tussen lande word dikwels verwar met die Internasionale Strafhof wat ook in Den Haag geleë is. Die Internasionale Strafhof vervolg individue vir oorlogsmisdade.

Die strafhof se hoofaanklaer, Karim Kham, ondersoek tans die gebeure in Gaza en het onderneem om sy ondersoek te verskerp.

Vyf lande, waaronder Suid-Afrika, het die strafhof in November al versoek om ondersoek in te stel na gebeure in Gaza. Volgens Khan is ʼn magdom bewyse al ingesamel.

Internasionale regskenners het aan AFP gesê dat oorlogsmisdade waarskynlik deur Israel en Hamas gepleeg is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Gert ·

Koop dollars, Goud of LTC crypto want die Rand gaan nou sy gat sien.

domheks ·

Nooit die cANCer glo dit is net Israel wat verkeerd was. Hamas is ‘engeltjies’ in hulle oe. Maar hulle is hand om die blaas met ISIS terreurgroep.

JD ·

Ek hoop die ANC kry n reuse pakslae in hierdie saak. Hulle moet heeltemal verneder word sodat die wêreld kan sien watter palukas aan bewind is in SA.

Chris ·

Een maal ‘n terroris, altyd ‘n terroris. Die ANC maak nou groot kapsie maar is stilswyend oor Rusland.

Yolandie ·

Ek het net ‘n vragie…….daar waar Israel nou vir Gaza inval……is dit dan nou net Palestyne en HAMAS lede wat sterf??? Want sover ek weet sterf daar ‘n klomp mense aan elke kant nie net aan die een kant nie, want dis werklik hoe die pers/media dit laat klink. Het Israel dan geen reg om hulleself te verdedig nie. Moes Israel op 7 Oktober toe HAMAS ongevraagd die land binne geval het en onskuldige burgers vermoor het maar net hulle skouers opgetrek het…….???? Ek vra maar net…….SA moet hulle neus uit ander lande se sake haal en hulle eerder bepaal by die oorlog wat in ons eie land aangaan elke dag.

Anel ·

Yolandie, ek stem 100% met jou saam. Verder moet ons regering eerder stil bly. Hier gaan meer mense per maand dood as wat in daardie oorlog sovêr dood is!! En wat van Rusland? Maar nou ja, kommuniste ondersteun mekaar net soos terroriste, en dit is die spul anc!

Anna ·

Wanneer gaan die ANC n klag teen Rusland vir die volksmoord in Oekraine lê? Het ‘n paar dae terug ‘n aaklige storie gelees van 2 jong musikante in Oekraine wat deur ‘n Russiese bom uitgewis is toe hulle besig was om ‘n vertoning te lewer.

Republikein in die Wes Kaap ·

SA is nou die “village idiot” wat ander lede van die Axis of Evel se vuilwerk doen. Kom ons vertrou hulle betaal die R100 miljoen rekening.

ronel ·

Ek sou ook nou graag wou weet, hoe SA van alle lande, wat n plakaat voorbeeld is van volksmoord, wil inmeng by ander se sake ? Ek kan nie besluit is ons regering aspris onnosel of aspris arrogant nie.

TO ·

Die boere wat ek vermoor word wat sy edele goed ontken, hoekom word daar niks aan gedoen?

Euodia ·

Ja wil ook graag weet wanneer kla die anc hul tjommie Rusland aan? Ons moet betaal vir die anc se liefde vir die Palesteine ek hoop hulle betaal self vir daai serpe wst hulle dra..die kommuniste.

Waarheid ·

Met Omar Al-Bashir het SA se regering die besluit van die Internasionale regshof net ge ignoreer.
SA regering gaan sê vir Hamas om ALLE gyselaars onmiddelik te bevry. Miskien is dit ‘n goeie wegspring plek vir vrede.

Waarheid ·

En dan moet SA regering gaan kerm by al die Moslem buurlande van Gaza wat GEEN palistynse vlugteling wil inneem nie.

Laurika ·

Pleks die ANC eers die interne probleme in SA regmaak voor hulle opinie wil lig oorsee?

popsa ·

En wat van die “onherstelbare skending van regte” van 136 ontvoerde gevangenis wat tot vandag toe nog nie vrygelaat is nie?? WAT beleef daardie arme mense??! En wat van plaasmoorde wat in hierdie einste Suid-Afrika weer weer en weer plaasvind sonder dat enige haan in gesagsposisies daaroor kraai??! Maar nou is daar sogenaamde besorgheid oor terroriste wat dieselfde wreedheid openbaar as wat in herhaaldelik hier in SA plaasvind. Só word die harte dan duidelik geopenbaar. Jy word geken aan jou dierbare vriende. Presies.

KB ·

Die vrot regering besef nie eers dat hyself verantwoordelik is vir ʼn volksmoord in sy eie land nie! En dan wil hy sy bek kom rek oor Israel.
Wat ʼn klomp imbisiele.

Deon ·

Die SA regsapn moet geluk gewens word met ‘n uitstendde dokument om die saak van volksmoord teen die Palestyne te ondersoek. DIe aansoek is geensins merieteloos of ongegrond soos die lakeie van ‘Israel’ (veral die VSA) te kenne wil gee nie. Dat die uitspraak van hierdie saak egter op meriete gegrond gaan wees, is baie twyfelagtig aangesien van die betrokke regters lande verteenwoordig wat of pro-Israel is of ook beskuldig kan word aan oortredings.

Matmiet ·

Interessant dat die regering nie ook “neutraal” bly in die oorlog nie. O ja, julle het nie n mangaan myn in Israel nie….

Hendrik ·

Suid-Afrika gaan gestraf word op een of ander manier. Die SA bootjie gaan deur rowwe waters vaar na hierdie aanklag teen Israel.

Danie ·

Ons is almal omgekrap deur die onheilighede wat aangaan.Wie is SA om te praat die regering kan nie hulle self beheer nie wat nog om in te meng.Ek hoop hulle kry ordenklik pak.Ons sal weereens moet betaal.

Lettie ·

Die ANC moet hul tonge afbyt en ophou om die hele SA met hul onvanpaste begrippe te betrek.

Ronel ·

Kan iemand nie n klag teen hierdie regering gaan lê vir die massavolksmoorde in SA nie!!!!

Highlander ·

Wat as beide hamas en isr verkeerd is. Maar reg in hul eie oë? Want beide aanbid die oorlogsgod van die mitologie

Andre ·

…kan hulle nie so.mer vir Mantashe en Mbucks ook aankla van onnoselheid en gierigheid, terwyl hulle nou by die hof is nie?

Wit Leeu ·

En wat van die dade van volksmoord in ons eie land teen die boere ???? Wens iemand wil die sotlike ANC aangee iewers !!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Deon ·

Dit is ietwat ironies dat mense se teenkanting teen die huidige bedeling, hulle noop om vir Israel te staan omdat die ANC teen Israel is. Die vorige Suid-Afrikaanse bedeling is sterk teengestaan deur sowel SA Jode en Israel. Sedert die Afrikaans Nasionale regering in 1948 aan bewind gekom het (en sy einde ingelei is met die moord of Verwoerd in 1966), het Israel telke male teen Suid-Afrika in die VVO gestem. Dit was net Israel en Nederland van al die lidlande wat Eric Louw, die destydse SA minster van Buitelande Sake, geblok het om die VVO toe te spreek. Israel stem in 1962 ten gunste van die ‘mylpaal resolusie’ 1761 wat apartheid ten sterkste veroordeel en vir die eerste keer sanksies teen Suid Afrika aanmoedig. Israel stem ook teen die mandaat wat SA oor die destydse Suid-Wes Afrika gehad het. In die 70 jare het die verhouding tussen Israel en SA ietwat verbeter hoofsaaklik agv gemeenkaplike isolasie. Maar toe die uiteindelike gevolge van die verloopte NP se gedurige beleidsveranderinge onder Voster, Botha en de Klerk duidelik begin word, het Israel hom begin distansieer van SA. Weereens apartheid verdoem en uiteindelik self kulturele en ekonomiese sanksies teen SA ingestel.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ja Deon, en agter die skerms het ons saam kernbomme gebou, Olifant tenks en Ratels ontwikkel, en R4s en 105 anti-tenk kanonne en missiele vervaardig. Saam het ons die Cheetah vliegtuig ontwikkel, mobiele operasieteaters gebou, en radar en kommunikasiestelsels ontwikkel. Ons het kennis oor beserings en voedsel gedeel. Instrukteurs het heen en weer gereis vir opleiding.

Jaco ·

Wat dan nou van regstellende aksie, BEE, plaasmoorde waaraan niks gedoen word nie wit pasiënte wat swak behandel word in staatshospitale? Dis mos nou ook ‘n skending van menseregte. Wanneer word SA vir dié misdade voor die hof in Den Haag gedaag? Of praat ek nou uit my beurt uit? Is al dié menseregteskendings van die SA regering eintlik maar reg?

annie ·

Die kern van Cyril se oorywerigheid moet bekyk word. Dalk kan ons vra of die DA se gekerm oor die Russiese skip nie dalk die woede gewek het teen Zille ea van Joodse afkoms nie en dié party se groot planne om die ANC te troef; ‘n vete wat sekerlik die verkiesing sal beïnvloed. Cyril is volgens stories van Venda-afkoms wat glo met Israelse verband het. Of het hy familie in Gaza óf het die apartheidskonotasie waarvan Israel beskuldig word, iets daarmee te make. Iewers is daar iets wat Cyril se oormatige besorgdheid aanblaas. Wat sou dit wees?

anko ·

Yolandie stem saam met jou
Hoekom al die geld spandeer om hof toe te gaan, iemand gaan waarskynlik fondse voorsien vir stemdag
Kyk hoe lyk ons eie land waar daagliks moord gepleeg word ongeag ras, geslag en ouderdom, tog is dit ok

2Fast4NW ·

Die ANC doen dit om die wereld se oe van hulle self en wat hier aangaan te probeer afkry. Maar al wat hulle doen is om hulle name met ‘n plank te slaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.