Slimkop-leerder (15) se kop staan Nasa toe

Amy van Rooyen. (Foto: Verskaf)

Terwyl die meeste 15-jariges hulleself met die tipiese dinge van ʼn tiener besig hou, is Amy van Rooyen van Rustenburg besig om haar toekomspad uit te kerf – en dié pad lei tans na die VSA se Nasionale Lugvaart- en Ruimte-Administrasie (Nasa).

Amy, ʼn gr. 9-leerder aan die Hoërskool Rustenburg, is al van kleins af ʼn uitblinker wat telkens die akademiese toptien-lyste van haar skool haal.

Sy is een van ʼn handjievol leerders wat gekies is om die negende jaarlikse Academic Achievers-toer na Nasa in Washington, VSA, te onderneem.

Vir Amy is dit ʼn groot droom om Nasa te besoek, aangesien sy eendag ʼn beroep as sterrekundige of wetenskaplike oorweeg.

“Amy neem elke dag foto’s van die son en maan, en hou haarself besig met teleskope en kyk video’s van ruimtetuie wat in die lug opgaan,” vertel Chantel van Rooyen, Amy se ma.

Volgens Chantel is Amy nog altyd ʼn gedrewe kind wat lief vir lees en leer is. Amy is in gr. 7 aan die Laerskool Rustenburg as duxleerder aangewys.

“Ek fokus baie op akademie. Dit is vir my belangrik en ek is lief vir kennis. Ek hou nie daarvan as daar ʼn vraag is waarop ek nie ʼn antwoord het nie,” sê Amy.

Sy het reeds haar keusevakke vir volgende jaar gekies, en sê sy stel belang in rekenaartoepassingtegnologie, fisieke wetenskappe en lewenswetenskappe (biologie).

“Ek vaar veral goed in die wetenskappe, aangesien dit is waar my belangstelling lê,” benadruk Amy.

Die toer na die VSA behels onder meer ʼn besoek aan Nasa se hoofkwartiere in Washington, sowel as besoeke aan die land se topuniversiteite, soos die Massachusetts Institute of Technology (MIT), Yale en Harvard.

“Amy kon al lees en skryf voordat sy gr. 1 toe is. Sy is nie ʼn kind wat wag vir mylpale nie – as sy ʼn ding kan doen, dan doen sy dit. Sy het as kind al baie belanggestel in lees en het selfs by klubs aangesluit om boekies te versamel.

“Sy is van dag een af ʼn uitblinker en is baie gedissiplineerd as dit kom by skoolwerk. As ek haar soek is sy by haar lessenaar agter die boeke,” voeg Chantel by.

Amy was in gr. 7 die duxleerling van die Laerskool Rustenburg. (Foto: Verskaf)

Chantel is ʼn enkelouer, maar sê Amy se pa en stiefma is betrokke by haar en haar boetie en daar word naweke en vakansies oor en weer gekuier.

Dié ouerpare het egter nie die geld om Amy se toer te betaal nie. Daarom het die gesin ʼn Back A Buddy-fonds gestig om te help om die nodige geld vir Amy in te samel sodat sy die toer kan meemaak. Dit sluit onder meer die reis-, verblyf- en visumkostes in.

“Amy weet haar ouers het nie al die geld in die wêreld nie en besef dat sy moet hard werk om vir haarself die beste toekoms moontlik te verseker,” sê Chantel, wat in die versekeringsbedryf werksaam is.

Volgens Chantel is Amy se jonger boetie, Liam, wat vanjaar in gr. 1 is, ook ʼn leergierige seun wat hou van lees.

“Vir sy heel eerste gr. 1-rapport het hy 94% gekry. Hy is net soos Amy baie gretig om te leer en nuwe dinge te ervaar.”

Juis daarom wil sy haar dogter so ver as moontlik ondersteun en aanmoedig om die toer na die VSA te onderneem.

“Enige ouer sal wil help om hulle kinders se drome te bewaarheid en vir hulle kinders net die beste te gee.”

Amy sê sy is baie dankbaar vir haar ma se leiding en ondersteuning. “Sy is my rots en steunpilaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marcello ·

Baie geluk, mag jy dit nog vër bring. Trots op jou, wys vir mense ‘n Enkelouer kind, is ‘n kind wat hard werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.