Sneeu hiér voorspel

‘n Argieffoto van sneeu in Sutherland. (Foto: Brendan Magaar/ANA)

ʼn Kouefront wat tans in die oostelike dele van die land voorkom, sal sneeu en koue temperature vir die res van die land teweegbring.

Die kouefront sal na verwagting deur die loop van Donderdag na die binneland versprei. Temperature in die Oos-Kaap, Vrystaat, Noordwes, suidelike dele van KwaZulu-Natal en Gauteng sal gevolglik daal.

Die kouer weersomstandighede sal na verwagting tot Saterdag in hierdie provinsies, uitsluitend die Oos-Kaap, heers, bevestig Nhlanhla Sithole, ʼn weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD).

Die weerdiens het ʼn geel vlak-1-waarskuwing vir sneeu in dele van die Oos-Kaap uitgereik.

“Die sneeu sal na verwagting teen Donderdagaand in die binneland en noordoostelike dele van die provinsie uitsak en teen Vrydagmiddag opklaar,” bevestig Sithole.

Ligte sneeu word Donderdag ook oor die Wes-Kaapse berge en suidelike hoogliggende dele van die Noord-Kaap verwag.

Verder sal ysige weersomstandighede tot Sondag in die Wes-Kaap voorkom.

Maroela Media het vroeër berig Donderdag sal na verwagting die koudste dag wees en Vrydag die koudste oggend.

Suidwestelike winde van tussen 50 km/h en 60 km/h word van Donderdag tot Vrydag suid van Saldanhabaai verwag. Golwe van tussen 4 m en 5 m word Donderdag tussen Kaap Columbine en Plettenbergbaai voorspel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Samuel ·

Lekker koue nuus. Baie beter as die gedurige moord en doodslag.

VaalDonkie ·

My enigste kar wat in sneeu kan ry staan in die werkswinkel. Hopelik kan ons volgende jaar weer loop sneeumanne in die berge bou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.