Só beïnvloed ‘skadelose sopie’ baba se ontwikkeling

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is Suid-Afrika een van die lande met die hoogste statistieke van fetale alkoholsindroom (FAS) en fetale alkoholspektrumafwykings (FASD) wêreldwyd. (Foto: Argieffoto/iStock)

Daardie een dampie of drankie sal mos nie skade doen nie, of hoe? Vir Jan Alleman dalk nie, maar vir miljoene swanger vroue is dié skynbaar skadelose sopie die vonk in ’n gesondheidskruitvat wat hul ongebore baba op ’n onrembare tuimeltreintrajek plaas.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is Suid-Afrika een van die lande met die hoogste statistieke van fetale alkoholsindroom (FAS) en fetale alkoholspektrumafwykings (FASD) wêreldwyd.

Terwyl die wêreldgemiddeld sowat 7,7 uit elke 1 000 vroue is, is Suid-Afrika se syfer – volgens ’n studie wat in 187 lande gedoen is – skokkend hoog op minstens 111 per 1 000.

Luidens ’n ander studie, wat in 2021 in die mediese joernaal Health Policy and Planning gepubliseer is, het Suid-Afrika ’n FASD-syfer van tussen 29 en 290 per 1 000 lewende geboortes, die hoogste ter wêreld.

Die Stigting vir Alkoholverwante Navorsing (FARR) het vasgestel dat meer as 3 miljoen Suid-Afrikaners deur FAS geraak word. Luidens navorsing wat deur die FARR onderneem is, is die volle reikwydte van FASD in Suid-Afrika onmeetbaar as daar in ag geneem word dat minstens 28% van mense in sekere gemeenskappe FASD het.

Die FARR, wat vanjaar sy 25ste bestaansjaar vier, is een van die organisasies wat hom beywer vir navorsing en bewusmaking oor en die voorkoming van alkoholgebruik tydens swangerskap.

As deel van Fetale Alkoholsindroombewusmakingsdag wat wêreldwyd op 9 September gevier word, het dié organisasie onder meer ’n breiprojek van stapel gestuur.

Die heel eerste Internasionale Fetale Alkoholsindroombewusmakingsdag is om 9:09 op 9 September 1999 gehou. Dié datum en tyd, op die negende minuut van die negende uur van die negende dag van die negende maand, dien as ’n herinnering dat FAS, soos alle FASD’s, voorkombaar is deur alkohol gedurende die nege maande van swangerskap te vermy.

FAS en FASD vorm deel van ’n groep geboortedefekte of -afwykings wat die gevolg is van alkoholinname tydens swangerskap. (Foto: Argieffoto/iStock)

Wat is fetale alkoholsindroom?

Fetale alkoholsindroom (FAS) is die ernstigste fetale alkoholspektrumversteuring (FASD) en vorm deel van ’n groep geboortedefekte of -afwykings wat die gevolg is van alkoholinname tydens swangerskap. Ander FASD’s sluit in:

  • Gedeeltelike fetale alkoholsindroom
  • Alkoholverwante geboortedefekte
  • Alkoholverwante neuro-ontwikkelingsversteuring
  • Neurogedragsversteuring geassosieer met prenatale alkoholblootstelling.

FAS en ander spektrumafwykings beïnvloed kinders verskillend en is geneig om te vererger namate die kind ouer word. Simptome wissel van matig tot ernstig.

Simptome

Fisieke gebreke

  • Kenmerkende gelaatstrekke, insluitend klein oë, ’n buitengewoon dun bolip, ’n kort, omgedraaide neus en ’n gladde veloppervlak tussen die neus en bolip
  • Misvorming van gewrigte, ledemate en vingers
  • Stadige groei voor en ná geboorte
  • Visie- of gehoorprobleme
  • Klein kopomtrek en breingrootte
  • Hartafwykings en probleme met die niere en bene.

Brein- en sentrale senuweestelselprobleme

  • Swak koördinasie of balans
  • Intellektuele gestremdheid, leerafwykings en vertraagde ontwikkeling
  • Swak geheue
  • Probleme met aandag en met die verwerking van inligting
  • Probleme met redenering en probleemoplossing
  • Moeilik om die gevolge van keuses te identifiseer
  • Swak oordeelsvermoë
  • Hiperaktiwiteit
  • Vinnig veranderende buie.

Sosiale en gedragskwessies

  • Sukkel om in die skool aan te pas
  • Probleme om met ander oor die weg te kom
  • Swak sosiale vaardighede
  • Probleme om by verandering aan te pas of om van een taak na ’n ander oor te skakel
  • Probleme met gedrag en impulsbeheer
  • Swak konsep van tyd
  • Sukkel om te beplan of doelwitgedrewe te werk.

Daar is geen laboratoriumtoets wat kan vasstel of ’n kind fetale alkoholsindroom het nie. Baie van die simptome stem met dié van aandaggebrek-hiperaktiwiteitversteuring (AGHV) ooreen. Om fetale alkoholsindroom te diagnoseer, soek dokters gewoonlik na ongewone gelaatstrekke, laer as gemiddelde lengte en gewig, klein kopgrootte, probleme met aandag en hiperaktiwiteit, en swak koördinasie.

FAS en ander spektrumafwykings beïnvloed kinders verskillend en is geneig om te vererger namate die kind ouer word. (Foto: Argieffoto/iStock)

Dink voor jy drink

Hoekom is alkohol so gevaarlik vir jou ongebore baba?

  • Alkohol dring die bloedstroom binne en bereik jou ontwikkelende fetus deur die plasenta.
  • Alkohol veroorsaak hoër bloedalkoholkonsentrasies in ’n ontwikkelende baba as in ’n volwassene se liggaam, omdat ’n fetus alkohol stadiger metaboliseer as wat ’n volwassene doen (die baba se lewer is nog onderontwikkel).
  • Alkohol belemmer die lewering van suurstof en optimale voeding aan die baba.
  • Blootstelling aan alkohol voor geboorte kan die ontwikkeling van weefsels en organe belemmer en permanente breinskade by ’n baba veroorsaak.

Omdat die alkohol die baba se organe bereik, kan dit drastiese gevolge inhou:

  • Miskraam en doodgeboorte – Die baba kan tydens swangerskap sterf.
  • Premature geboorte – Alkohol kan veroorsaak dat ’n baba heeltemal te vroeg gebore word en met verskeie gesondheidsprobleme worstel. Dit sluit dikwels asemhalingsprobleme en ander probleme in wat verband hou met onvolwasse longe of ontwikkelingsprobleme weens ’n onderontwikkelde brein.
  • Geboorteafwykings – Sommige babas word met hart- of nierprobleme gebore, terwyl ander probleme ondervind om te sien of te hoor.

Geen “veilige” tyd vir ’n drankie

Van die ernstigste probleme vind plaas wanneer ’n swanger vrou in die eerste trimester, wanneer die baba se brein begin ontwikkel, drink. Die tweede en derde trimesters is egter ook nie veilig nie. Die brein ontwikkel dan nog, en hierdie ontwikkelingsproses kan selfs deur matige hoeveelhede alkohol gekniehalter word.

Daar is enersyds geen “veilige” hoeveelheid alkohol wat swanger vroue kan drink nie en andersyds is daar ook geen periode tydens ’n swangerskap wanneer dit as veilig beskou word om alkohol in te neem nie.

Behandeling

Fetale alkoholsindroom kan nie genees word nie, maar vroeë diagnose en behandeling kan ’n kind se ontwikkeling en lewensgehalte verbeter. Navorsing toon dat kinders beter vaar as hulle:

  • Voor die ouderdom van 6 jaar gediagnoseer word;
  • in ’n liefdevolle, versorgende en stabiele huis gedurende hul skooljare woon;
  • nie aan geweld blootgestel word nie; en
  • spesiale onderwys en maatskaplike dienste ontvang.

Terapie kan voorts met gedrags- en opvoedkundige probleme help. Daar is geen medikasie om fetale alkoholsindroom spesifiek te behandel nie, maar sekere medisyne kan help met simptome soos buierigheid, slaapprobleme, aggressie, hiperaktiwiteit, konsentrasieprobleme en swak impulsbeheer.

Bykomende bronne: WebMD, Mayo Clinic, Aware.org, Unicef, The Guardian en Recovery Direct.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Perdeby ·

Ag dit is ‘n pot strooi! Nie een van my ouers het gerook of gedrink nie, en ek ‘n dun lippe…………dis in die familie………. ai shame.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.