Solidariteit oor #NationalShutdown: ‘Ons sal werk’

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. (Foto: Solidariteit)

Solidariteit sê sy lede sal Maandag op hul poste wees en ʼn skrywe aan meer as 1 200 maatskappye waar hy georganiseer is, lui dat daar van maatskappye verwag sal word om oop te wees sodat Solidariteit-lede vir diens kan aanmeld.

Die versekering kom te midde van die EFF se oproep aan Suid-Afrikaners om Maandag aan sy sogenaamde #NationalShutdown-betogings deel te neem.

“Ons lede gaan hulle nie laat intimideer deur ʼn nar in ʼn rooi jas wat raas en blaas en deur 90% van Suid-Afrikaners verwerp word nie. Solidariteit se lede gaan, soos die meeste ander Suid-Afrikaners, in hulle duisende werk,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

“Elke werkgewer wat na aanleiding van vae dreigemente sluit, voed die EFF se vreestaktiek en is aandadig aan die ontwrigting op die dag.”

Die EFF beoog die betoging om ʼn einde aan beurtkrag en pres. Cyril Ramaphosa se bedanking te eis.

Solidariteit sê hy verwag van maatskappye om ʼn behoorlike risiko-ontleding te doen alvorens besluit word om ʼn onderneming se deure summier vir die dag te sluit.

“Indien daar op grond van ʼn behoorlike risiko-analise ingevolge beroepsveiligheidswetgewing bepaal word dat lewens of veiligheid bedreig word, verander die situasie. Reaksie op vae dreigemente is nie ʼn geregverdigde risiko-analise nie,” sê hy.

“Ons kan nie toelaat dat werkgewers sonder ʼn bewese risiko van onveiligheid ons lede keer om te werk nie. Indien ʼn werkgewer ʼn Solidariteit-lid sou verhoed om te werk, sonder dat daar ʼn daadwerklike risiko is en verpligte verlof of geen betaling nie afdwing, kan hulle verwag dat ons arbeidsregtelik teen hulle sal optree.”

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) het na afloop van samespreking met EFF-leiers ook bevestig dat sy lede nie amptelik aan die betogings gaan deelneem nie.

Volgens Daki Qumbu, sekretaris-generaal van Santaco, sal taxiverenigings landwyd oor die besluit ingelig word.

“20 Maart 2023 sal ʼn normale werksdag vir die taxibedryf wees.”

Nasionale betoging nie oplossing

Julius Malema, leier van die EFF. (Foto: EFF/Twitter)

Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (Sacci) veroordeel die beoogde betogings ten sterkste en sê dit is ʼn duidelike “misbruik van die politieke proses”.

“Geskille oor wie die president van die land moet wees of nie, moet by die stembus opgelos word en nie deur ʼn nasionale betoging nie,” sê Alan Mukoki, uitvoerende hoof van Sacci.

Mukoki het ʼn beroep op die organiseerders van die betoging gedoen om te herbesin oor die negatiewe uitwerking wat grootskaalse ontwrigting op die land sal hê.

“Ons kan nie toelaat dat ons in ʼn situasie verval waar enige of alle politieke partye wat ʼn verkiesing verloor, hulle tot roeklose optrede wend om hul politieke teenstanders te verwyder nie,” sê hy.

“Ons uitdagings met ekonomiese groei, werkloosheid, armoede en ongelykheid kan nie opgelos word deur nalatige politieke optrede wat ekonomiese aktiwiteit ontwrig nie.

“Ons doen ʼn beroep op die organiseerders om alles in hul vermoë te doen om die oënskynlike intimidasie en dreigemente van plundering van besighede en inmenging met diegene wat verkies om nie aan die betoging deel te neem nie, te veroordeel.”

  • Lees hier meer oor die beplande betogings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Althes ·

En enige skade aan eiendom, persone en hul besittings sal die EFF moet opdok voor.

Truman Burbank ·

So asof dit gaan gebeur. Die “gesondheids werkers” sal glad nie hoef pa te staan vir die sterftes nie

JohanR ·

Wonder of Bheki Cele iewers op die kantlyn gaan sit in sy gemak stoel, en dinge bekyk?

skurweberg ·

KOM ONS VERLOOR NIE TRED MET DIE WERKLIKHEID NIE. Omstandighede op grondvlak waar oud en jonk worstel om te oorleef was nog nooit so realiteit sedert demokrasie nie. Die verhaaltjie van die seuntjie wat geskree het “WOLF WOLF” vir ‘n week lank sonder enige wolf op die toneel en wat toe gebeur ? ,..

jou gewete ·

is dit nie opmerklik dat meeste politieke partye wat iets werd is dit afkeur maar anc se totaal niks en hul leier swyg soos die graf oor alle ongrondwetlike uitsprake. stilswye word gesien as goedkeuring

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.