Solidariteit sê oor ‘kranksinnige’ NGV

(Argieffoto: JC Gellidon/Unsplash)

Solidariteit sal Vrydag sy kommentaar oor die regering se voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in die Nasionale Raad van Provinsies lewer. Die sperdatum vir kommentaar oor die omstrede gesondheidsversekering is vandag.

Solidariteit se kommentaar oor die NGV – wat die organisasie as “kranksinnig” bestempel – lui dat die plan nie net ondeurdag is nie, maar ook “onbekostigbaar, onuitvoerbaar en onnodig”.

Die organisasie sê voorts die planne word gedryf deur die ANC-regering se ideologie en honger na sentralistiese mag en dat navorsing deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) hierdie siening staaf.

Solidariteit voer aan:

  • Die NGV is onbekostigbaar: Volgens navorsing van die SNI gaan die tesourie ʼn bykomende R296 miljard benodig om die NGV ʼn werklikheid te maak. Daarvoor gaan mense aansienlik meer belasting moet betaal – ʼn geraamde 40%-verhoging op persoonlike belasting vir salaristrekkers. Die staatskas is leeg. Daar is nie geld vir die NGV nie.
  • Dit NGV is onuitvoerbaar: Die NGV sal waarskynlik beteken dat talle medici wat private gesondheidsorgdienste lewer, die land verlaat. Daar is reeds ʼn tekort aan spesialis-gesondheidsorgwerkers en die aanduidings is dat dié tekort ernstig sal toeneem. Die mislukking van die openbare gesondheidsorgstelsel op kleiner skaal, soos dit tans ondervind word, dui op mislukking op ʼn veel groter skaal sou die NGV aanvaar word.
  • Die NGV is onnodig: Suid-Afrikaners het reeds toegang tot gratis gesondheidsorg en die ware behoefte is dat hierdie openbare gesondheidsorgstelsel onderhou en verbeter moet word. Indien die nodige hulpbronne en energie aan die opgradering daarvan, pleks van die oprig van ʼn nuwe stelsel, gewy word, sal die gehalte van openbare gesondheidsorg verbeter. Daarmee saam sal die doeltreffende private gesondheidsorgstelsel ongeskonde bly vir diegene wat verkies om daarvan gebruik te maak.

Connie Mulder, hoof van SNI, sê elk van dié argumente behoort op hulle eie swaar genoeg te weeg om die NGV te laat vaar.

“Tog hou die ANC-regering hom doelbewus blind daarvoor, omdat die werf van stemme by hom swaarder weeg as die lewe van Suid-Afrikaners.

“Anders as hoe dit verkoop word, gaan die NGV nie die lewens van arm Suid-Afrikaners verbeter nie. Inteendeel, dit sal die lewenstandaard van almal in die land negatief raak en veral arm Suid-Afrikaners verder in ellende dompel,” sê Mulder.

Solidariteit het ook gewaarsku dat hy nie gaan toelaat dat gesondheidsorg in “nog ʼn Eskom, SAL of Transnet ontaard” nie en het reeds aangedui hy sal die regering in die hof die stryd aansê indien daar nie van planne om die NGV in te stel, afgesien word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

piket ·

Die doel van hierdie nvg debakel is om gsondheidssorg soos dit tans werk heeltemal omver te gooi.
Korrupsie, sabotasie en chaos sal seëvier!

Althes ·

Weereens ñ duplisering van magte.
Gebruik die fondse om verdere verval te keer by openbare hospitale.

annie ·

Connie Mulder… Die denker van Solidariteit. ‘n Republiek in die Kaapse is die oplossing. Trek. Daar sal julle vry wees en net doen wat julle wil onder ‘n Kaapse leier wat al eeue wag vir dom Afrikaners om daar alles weer oor te kom doen onder die VF se plussers.

Frank ·

Op dieselfde vlak as die NGV mindset wat miljoene goeie en suksesvolle afrikaners in ander dele van die land as dom beskou en verwag hulle moet alles, huis, besighede en werk prysgee omdat mense wat name met kleinletter spel dink hulle en plek waar hulle bly is verhewe bo alles

Republikein in die Wes Kaap ·

Ons wikkel hier suster. Ons ekonomie groei. Die slimste Afrikaners woon hier. Dit wemel van wetenskapalikes en dokters.

Manie ·

Die regering sien dat staats hospitale en klinieke nie voldoende is om die massas gratis te diens nie, dus wil hulle die privaat sektor kaap. Die regering kan absoluut NIKS doen indien die privaat sektor dit blatant ignoreer nie.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die NGV gaan maar net nog ‘n melkkoei wees vir die kaders. Goeie eerbare burgers het elkeen ‘n plig om ‘n bydrae te maak dat die ANC en EFF nie pragtige Suid-Afrika regeer nie.

Eloise ·

Die huidige nasionale gesondheid sorg moet hulle eers verbeter. Talle staatsdienswerkers behoort aan mediese fondse, dalk moet daardie werkers se bydrae gaan na die NGV toe en hulle dan die staat se hospitale gebruik. Sodoende sal die diens vinnig verbeter en geld wees om dit meer te doen. Hulle kan dit doen as ‘n proof of concept.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.