Son SA kry momentum

Boere met pakhuise, wat swaar leun op Eskom-krag kan nou uitsien na ‘n alternatief. (Foto: Son SA/Facebook)

Son SA, ʼn onderneming wat uit die geledere van georganiseerde landbou van stapel gestuur is om vir boere alternatiewe krag te bewerkstellig, hou in Maart sy eerste energie-kongres. Juan Tomlinson, uitvoerende hoof van Son SA, sê hierdie kongres is van ʼn dringende aard omdat dit duidelik word dat beurtkrag nog lank nie einde se kant toe staan nie en dat boere baie swaar kry.

Tydens Kragdag verlede jaar het TLU SA, Saai, Neasa en Agri X Son SA bekendgestel om die kragte van alternatiewe kragverskaffers saam te snoer om vir boere toegang tot meer bestendige krag te gee.

Tomlinson sê hy besef terdeë hoe belangrik die rol van boere in Suid-Afrika is en kan hom nie indink wat dié land sonder hulle sal doen nie. “Ek wil by voorbaat vir elke opkomende boer en familieboer dankie sê vir die bloedsweet en trane wat sorg vir die kos op elke Suid-Afrikaner se tafel.

“Voedsel is die primêre behoefte van enige gemeenskap en samelewing. Tans gaan ons land onder beurtkrag gebuk wat dit moeiliker maak vir die mense wat verseker dat ons elke dag kos op die tafel het. Hierdie mense is ons boere – familieboere, opkomende boere en kommersiële boere,” sê hy.

“Landbou strek ook tot die kleinste groentetuine in ons agtergeblewene gemeenskappe – klein tuine wat tot so min as twee tot drie huishoudings van kos voorsien. Ons boere trek soggens die son met ʼn tou op en gee ons elke dag iets om te eet wat deur baie harde werk, swoeg en sweet en gebed.

“Kom ons almal in hierdie land neem net ʼn kort oomblik van stilte om te dink oor waar ons kos vandaan kom. Kom ons almal wys ons waardering en dankbaarheid deur net ʼn slag dankie te sê vir ons boere. Saam kan ons almal hande vat en hierdie land weer optel.”

Tomlinson sê verder Son SA se span kyk na die mees praktiese en ekonomiese maniere beskikbaar om hernubare krag vir ʼn bepaalde geografiese streek te laat werk.

Tydens ʼn onlangse besoek aan Richard de Wet, voorsitter van die Kwaggaskloof-boerevereniging wat hoofsaaklik uitvoerdruiwe produseer, kon Tomlinson dadelik sien dat die behoefte van alternatiewe energie broodnodig is.

“Die Oranjerivier loop aan die onderkant van al die uitvoerdruiweboere se grond verby. Die waterpompe in riviere is afhanklik van Eskom-krag wat weens die onbestendigheid daarvan veroorsaak dat te min water na plase se boonste damme gepomp word. Damme word te stadig gevul wat tot oesverliese van 20% tot 30% kan lei.

Hierdie tipe probleme gaan tydens die kongres wat op 8 Maart in Pretoria gehou word, aandag geniet. Gesiene sprekers in die bedryf, soos dr. Theo de Jager, Ryk van Niekerk en Kallie Kriel, sal ook daar wees. Hou gerus Son SA se webwerf en Facebook-blad dop vir enige verwikkelinge.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Francois ·

SA moet besef dat jy op niks kan staat maak wat deur die regering voorsien/bestuur word. Selfversorging (waar moontlik) is ons almal se voorland, maar dit kan n duur storie raak, siende dat ons steeds moet betaal vir dienste wat nie gelewer word nie.

Shoshan ·

Dankie boere dat julle altyd daar is vir ons ongeag wat na julle toe kom. Of jy nou ‘n klein boer, opkomende boer, kommersiële boer of mega boer is, dankie!

Jaco ·

My kommentaar is nie bedoel om negatief te wees nie. Dis net gebaseer op harde werklikhede van SA:
1. So ‘n sonkragmaatskappy gaan nie ‘n klein besigheid soos ‘n hoekkafee wees nie. Groot geld en baie werkers gaan betrokke wees. Bestaande wetgewing sê dat as ‘n besigheid se aantal personeel 50 of meer is en as die finansiële omset ‘n sekere bedrag oorskry, móét regstellende aksie toegepas word. So hoe gaan die eienaar by dít verbykom?
2. Wat van goedkeuring om so iets te bou? Vir iets so eenvoudigs soos ‘n extra garage op my eie erf moes ek toestemming kry by die munisipaliteit en al die bure rondom my. LANK gewag.
Dié simpel anti-wit SA het eintlik die potensiaal vir enigiets; selfs ons eie ruimtetuie vir reise na Mars en verder. Maar ALLES word aan bande gelê deur die alewige regstellende aksie en BEE.

Hans ·

Hier in Orania, kon sonplaas nie effektief water pomp om spilpunte te dryf, aan die gang hou nie. Die enigste doeltreffende alternatief is dieselkeagopwekkers. Stoorkapasiteit batterye is net te duur.
Die ander oplossing is platinum waterstof battery/opwekker. Waterstof uit water dmv sonkrag? “Platinum hydrogen fuel cell” van Anglo American is tog beskikbaar. Waarom fikseer almal skielik op sonkrag, wat nie volhoubare oplossing is nie, wel duur hernubare oplossing?
Vir ‘n klein huishouding, kan jy dalk geyser, yskas, vrieskas en ligte dryf. Tog moet jy nog steeds bystand kragopwekker hê vir bewolkte weer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.