‘Staatskapers het ons baie skade berokken’ – Eskom

(Argieffoto: GCIS)

Eskom verwelkom die vierde gedeelte van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping se verslag, wat dui op grootskaalse kaping van die entiteit deur onder andere die Guptas en oudpres. Jacob Zuma.

Eskom onderneem om die verslag noukeurig te bestudeer om te verseker dat niemand wat by staatskaping betrokke was, nog by hom in diens is nie en die skuldiges aan die pen ry.

Die DA meen egter geen haan sal weereens ná die verdoemende verslag kraai nie.

“Altesaam 1 438 mense is tot dusver by staatskaping betrek, maar niemand is aanspreeklik gehou vir die rol wat hulle gespeel het om geld by Suid-Afrikaners te steel nie,” sê hoofsweep Natasha Mazzone.

Die DA het nou ’n skrywe aan die voorsitter van die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gerig, waarin versoek word dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die parlement verantwoording moet doen vir sy gebrek aan vervolgings tot dusver.

Maroela Media het vroeër vandag berig die vierde gedeelte van die verslag fokus veral op die sukkelende Eskom, met Zondo wat bevind het dat die omstrede Gupta-familie ʼn plan deurgevoer het om die kragvoorsiener met die hulp van oudpres. Jacob Zuma te kaap.

Luidens die verslag is die Guptas se uitgesoekte amptenare in strategiese posisies by Eskom geplaas sodat Eskom se bates daarna tot die Guptas se finansiële voordeel herlei kon word.

Malegapuru Makgoba, voorsitter van Eskom se raad, sê die kragvoorsiener het proaktief opgetree en reeds voor die bekendstelling van die verslag ’n projekspan, onder wie prokureurs, saamgestel om te verseker dat die verslag in oënskou geneem en verstaan word.

Die span sal ook verseker dat aandag aan die aanbevelings in die verslag geskenk word ten einde die kragvoorsiener se belange te beskerm.

“Staatskaping en sy agente het Eskom oor baie jare groot skade berokken. Ons beskou die vrystelling van die kommissie se verslag as ’n belangrike stap om te verseker dat diegene wat Eskom ondermyn, aangespreek word,” sê Makgoba.

Mazzone het die vierde gedeelte van die verslag intussen bestempel as ’n ernstige aanklag teen president Cyril Ramaphosa en lede van sy kabinet, van wie sommige op die vorige administrasie se kabinet gedien het.

Die amptelike opposisieparty hou vol Ramaphosa en sy kabinetslede het hul blind gehou, terwyl die land deur die Guptas kaal gesteel is, “met Zuma as die mafiabaas.

“Hulle dikwels herhaalde bewering dat hulle nie geweet het wat aan die gebeur is nie, is oneerlik.

“Bevindinge wat in vandag se verslag gemaak is, bevestig weer die DA se oproep dat almal wat by staatskaping betrek is, strafregtelik aangekla moet word vir korrupsie en dade van sabotasie teen die staat. Die verlamming van Eskom deur staatskaping kom teen ʼn hoë koste vir die ekonomie, deur verlore produktiwiteit en werksgeleenthede wat geskep kon word as daar gereeld elektrisiteit was,” sê Mazzone.

Verhaling van verlore geld

Eskom spook al jare om die geld te verhaal wat onreëlmatig deur Eskom aan verskeie verskaffers uitbetaal is.

Die kragvoorsiener het vanmiddag weer die aandag daarop gevestig dat hy in samewerking met die spesiale ondersoekeenheid tot op hede reeds R1,1 miljard van die internasionale konsultantfirma McKinsey en R1,577 miljard van die internasionale ingenieursmaatskappy ABB kon verhaal.

Eskom het intussen siviele aksies van stapel gestuur om van die geld te verhaal wat weens staatskaping verlore gegaan het. Dit sluit in die R3,8 miljard se skade wat Eskom gely het weens onregmatige optrede deur diegene betrokke by staatskaping.

Makgoba sê die kragvoorsiener sien daarna uit om saam met die NVG te werk om te verseker dat staatsplunderaars vervolg word.

Lees die volledige berig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

casper ·

En tog daar is nog niemand verhoor, skuldig bevind of in die tronk nie ne !!!

Dup ·

Al hierdie bedrog,korrupsie en grootskaalse diefstal het onder die neuse van die ANC gebeur en duur steeds voort.Talle senior ANC lede word direk en indirek hierby betrek.Steeds gaan die ANC voort asof niks verkeerd is nie.Asof alles moes gebeur het en asof hulle geregtig is op die opbrengste van die misdade.Ons kan net hoop dat dinge sal verbeter maar ek twyfel!

Di ·

Die klomp skelms moet ALMAL TRONK toe gaan! Gewone landsburgers wat korrupsie pleeg moet JARE in die tronk gaan sit maar die GROOTSTE skelms bestuur nog steeds die land

Kobus ·

Die eier wat uitgebroei het is jare gelede deur die ANC gelê. Kultuur van verset dmv wanbetaling en verwoesting . Saam met dit natuurlik ” demand ” en alles gratis. Buiten die Zuma en Kie vingers in die geldlaai, is daar miljarde uitstaande van munisipaliteite wat nie hulle rekenings vereffen nie. Eskom moet deur die howe ondersteun word om wanbetalers se kragtoevoer af te sny. Natuurlik sal dit ongelukkig diegene wat wel betaal kwaad maak maar is dit nie juis die oplossing nie? Betalers sal dan alternatiewe stelsels / bestuurders ens in plek kry om opheffing weer op koers te kry.

domheks ·

Sien is glo! El wil graag almal betrokke in oranje pakkies sien – veral zuma!

Jr ·

Gee die saak vir Solidariteit en Afriforum. Hulle sal dit definitief wen – hands down.

Deon ·

Geagte DA, julle belowe ‘n skoon land met geen korrupsie en n hele rits goed aan ons as julle beheer kan kry, begin sommer hier en nou, neem die voortou en gaan le klagtes teen die lotte, oh wag skies, julle het daardie kalklig gemis, solidariteit,’ n unie, het julle voorgespring, so gaan nou maar na “default” en kla oor niemand by niemand, WIE MOET DIE MENSE AANKLA?!

Pietertjie ·

As die res van die kriminele op dieselfde manier as Zuma vervolg gaan word, gaan dit miljoene jare neem om de laaste krimineel aan die pen te laat ry.

Sarie ·

En terwyl almal gons oor die staatskaping, zondo, 5de golf, ens ens, is daar iets baie erger aan die broei. Bg is net vir entertainment.

annie ·

Og! Hoop het ‘n veertjie geplant en gehoop ‘n hoender kom op… As die vervolgingsgesag nie iets aanvoor nie kan die boewe maar ontspan… Die jare loop aan en die ink op die bladsye vervaag. Daar is meer belangstelling om covid lewendig te hou as sake teen staatskapers.

Marius ·

Wat is die kans dat vervolging ooit gaan plaasvind. Die kriminele beskerm mekaar.

agnes ·

Eskom, spaar al die probleme en subsidieer sonenergie op eerlike Merie te, dit sal al die probleme oplos.

007 ·

Nou toe Mazzone doen jy iets daaraan. As iemand nie ‘n saak gaan maak nie sal niks gebeur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.