Staatsondernemings bly in die rooi – verslag

(Argieffoto: Rodger Bosch/AFP)

Reddingsboeie van miljarde rande is skynbaar nie genoeg om sekere ondernemings in staatsbesit van verdrinking (in skuld) te red nie.

Die tesourie het Woensdag ʼn verslag oor staatsuitgawes vir die derde kwartaal (Oktober tot Desember 2023) aan die parlement se bewilligingskomitee ter tafel gelê.

Die verslag bevestig dat verskeie staatsondernemings, waaronder Eskom, Transnet en die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo), steeds kniediep in die skuld is.

Eskom, wat ’n massiewe reddingsboei van R254 miljard oor drie jaar sal ontvang, het ná belasting ʼn verlies van R7,5 miljard in die derde kwartaal aangeteken.

Transnet, wat ʼn waarborggerief van R47 miljard ontvang het, was nie in staat om sy skuldverpligtinge van R14 miljard teen die einde van die boekjaar na te kom nie, en Sapo, wat tans in sakeredding is, het ʼn netto verlies van R976,6 miljoen in die derde kwartaal gely.

Intussen bloei die ondernemings teen ʼn kommerwekkende koers.

Eskom

Teen einde Desember het die nasionale tesourie R44 miljard aan Eskom uitbetaal in die vorm van lenings, met R16 miljard wat in ekwiteit omgeskakel sou word.

Tog bly die kragverskaffer in die rooi.

Agterstallige munisipale skuld is veral ʼn groot uitdaging vir Eskom, lui die verslag.

Die nasionale kragverskaffer se totale gefaktureerde munisipale agterstallige skuld het tot R75,4 miljard teen einde Desember toegeneem. In September 2023 het dié rekening op R70 miljard gestaan.

Die jaar-tot-datum-toename in munisipale agterstallige skuld het einde Desember by R16,9 miljard gaan draai.

“Duidelik onvolhoubaar,” word daar dan in die verslag bevind.

Eskom se streekskantoor in Braamfontein, Johannesburg tydens beurtkrag (Foto: AFP)

Eskom se kragverkope het ook op ʼn jaargrondslag met 5,1% afgeneem, hoewel primêre energiekoste gestyg het.

Luidens die verslag het primêre energiekoste jaar tot jaar met R12,4 miljard gestyg en teen 31 Desember 2023 op R128,2 miljard gestaan. Dit is wel R10,1 miljard onder die begroting.

Eskom se bruto skuldsekuriteit en lenings het van September met R3,7 miljard afgeneem, om teen 31 Desember op R439,3 miljard te staan te kom.

Die tesourie skryf dit egter grootliks toe aan die skuldverligting wat deur die regering verskaf word.

Eskom se kontant- en kontantekwivalente balans het egter ook afgeneem, van R16,4 miljard in September tot R9,3 miljard einde Desember.

Volgens die tesourie sal Eskom se kontantrentedekking en skulddiensdekkingsverhoudings teen die einde van die boekjaar na verwagting onder aanvaarbare norme op onderskeidelik 0,84 en 0,45 bly.

“Die projeksies bly onder aanvaarbare norme, aangesien die hoeveelheid kontant wat uit bedryfsaktiwiteite gegenereer word, onvoldoende is om die koste van die diens van skuld te dek.”

Dit help ook nie dat Eskom gesukkel het om die land se ligte in die derde kwartaal aan te hou nie.

Gemiddelde onbeplande onbeskikbaarheid in die somerperiode (1 September tot 31 Desember 2023) staan op 15 067 MW – hoër as die verwagte 14 500 MW wat daartoe gelei het dat beurtkrag in dié tydperk vir 63 dae geïmplementeer moes word.

Die verslag kom dan tot die gevolgtrekking dat Eskom se winsgewendheid belemmer word deur swak langtermyn finansiële volhoubaarheid weens swak opwekkingsaanlegprestasie, agterstallige munisipale skuld wat bly ophoop sowel as hoë skulddienskoste.

Transnet

Die verslag toon voorts dat die verswakking van Transnet se finansiële posisie daartoe gelei het dat die entiteit nie daartoe in staat was om sy 2023-’24-skuldvervaldatums van ongeveer R14 miljard te vereffen nie.

Totale skuldvlakke het intussen van R110 miljard in 2015 tot R130 miljard teen 2023 gestyg.

Die tesourie bevind eindelik in die verslag dat Transnet te swaar begin steun het op herfinansiering (die aangaan van bykomende skuld) as ʼn strategie om vervalde skuld te vereffen.

(Argieffoto: Facebook)

Poskantoor

Dinge gaan ook nie veel beter by die Poskantoor nie.

Sapo het ʼn netto verlies van R976,6 miljoen in die derde kwartaal aangeteken teenoor sy jaarlikse teiken van R1,5 miljard.

Sapo se prestasie neem ook steeds af.

Die verslag toon die inkomste van R497,3 miljoen wat gegenereer is, was 28% minder as die begroting en 20% laer as die vorige jaar. Die redes vir die onderprestasie was onder meer taksluitings, beurtkrag en verskaffers wat hul dienste opgeskort het as gevolg van wanbetaling.

Die tesourie wys egter daarop dat dit deel van die sakereddingsplan is om die getal poskantoortakke aansienlik te verminder.

Bedryfsuitgawes vir die derde kwartaal het wel net R859 miljoen beloop – 33% minder as waarvoor begroot is, en ʼn R309 miljoen (26%) afname in vergelyking met die vorige jaar.

Die tesourie sê hoewel bedryfskoste afneem as gevolg van streng kostebeperkingsmaatreëls wat deur Sapo se sakereddingspraktisyns geïmplementeer word, spandeer die instelling steeds meer geld as wat hy inkry.

Chaos het vandeesweek by die Athlone-poskantoor geheers omdat talle Sassa-kaarte wat verval, dringend hernu moet word. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Personeelkoste blyk die hoofrede vir die hoë bedryfsuitgawes te wees.

Sapo se uitstaande laste het op 31 Desember 2023 op R4,8 miljard gestaan.

Ashor Sarupen, DA-LP en die party se adjunk-skaduminister van finansies, het Woensdag in reaksie op die verslag gesê hierdie staatsondernemings se finansiële nood, soos uitgelig in die derde kwartaal se staatsbestedingsverslag, toon dat die reddingstrategie van die ANC misluk het.

“Hierdie voortdurende reddingsboeie hou nou ʼn bedreiging in vir langtermyn fiskale volhoubaarheid en die vermoë van die staat om dienste te lewer en in infrastruktuurbehoeftes te voorsien.

“Die regering moet aanvaar dat staatsondernemings nou in ʼn dodelike spiraal is, weens die langtermyn-impak van wanbestuur en kaderontplooiing. Die eindelose reddingstrategie het misluk. Sou die staat daarop aandring om op hierdie pad voort te gaan, sal dit ekonomiese onstabiliteit, verminderde beleggersvertroue en algehele groei belemmer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Marous ·

Maar pan kop ontken alles. Die hool is by riool status verby . Niemand sal die skade ooit kan herstel nie.

Jack ·

Die is niks te red meer aan die ondernemings nie.Hulle bestaan maar net om salarisse te betaal deur reddings boeie vir die wat nog daar is al is besigheid lankal teen die planke.Die oplossing ? Dalk privatisering maar herstel sal jare neem.Die ANC sal nooit kan begryp hoeveel skade hulle die land berokken het nie.

Wondermaarnet ·

Ons het niks anders verwag nie. Hulle kan miljarde maandeliks gee en dit sal steeds nie help nie.

Jan ·

Dan kan ek dit net noem dat al die departemente 30 jaar gelede wereld klas was!

Andries ·

Ja so word di regering toe “gebyt”. Wie het di “peepol” so mooi ge “educate” dat hulle ni rekeninge hief te betaal ni.
Wat my onderkry is dat daar mense aangestel is, wat se enigste werk/funksie is, is om rekeninge te lewer en di geld in te vorder…

Johan ·

Circular 213-8 “tax them so that there are more money for our people”.

Duck ·

Ek is maar tog te bly ek is daar weg, hoop maar net die pensioen fonds hou!

kaplyn ·

En met die Bela wet wil hulle nou openbare skole staats skole maak. Dan gaan hulle mos ook al die staat skole ook vernietig. As die skole vernietig is dan neem ongeletterheid toe en dit is een van kommunisme se reels – “Hou die bevolking so ongeletterd as moontlik, dan sal hulle ver ewig vir jou stem”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.