Staatsrede 2022: Die tyd is nou

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die Staatsrede 2022 (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand in sy staatsrede gefokus op praktiese stappe om die ekonomie te versterk, waaronder om van burokratiese omslagtigheid ontslae te raak sodat dit makliker is om besigheid te doen en werkskepping kan plaasvind.

Die president het benadruk dat dit nou tyd is om saam te werk om nuwe lewe te blaas in die ekonomie en om ongelykheid aan te spreek. “Ons moet saam staan teen korrupsie. Diegene wat verantwoordelik was vir staatskaping, sal gestraf word. Ons moet die vertroue en trots in ons staatsondernemings herstel.”

Ramaphosa het gesê ʼn nuwe konsensus moet bereik word sodat Suid-Afrikaners kan besef dat ons ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar het as medelandsburgers, en dat die staat ʼn omgewing moet skep waarin die privaat sektor kan belê en die ekonomie oopgestel kan word.

“Ons gee vir onsself 100 dae om ʼn omvattende maatskaplike verdrag saam te stel om ons ekonomie te laat groei, om werk te skep en hongersnood teen te staan. Hierdie werk sal gebou word op die fondasie van die Ekonomiese Heropbou-en-herstelplan – ons gemeenskaplike program om die ekonomie te bou.”

Volgens hom bly die regering gefokus op die prioriteite wat verlede jaar in die staatsrede uiteengesit is:

  • om die Covid-19-pandemie te oorkom
  • ʼn massiewe uitrol van infrastruktuur
  • ʼn beduidende toename in plaaslike vervaardiging
  • indiensnemingstimulus om werk te skep en lewens te red
  • vinnige uitbreiding van kragopwekkingskapasiteit.

“Om dit doeltreffend te maak, moet hierdie maatskaplike verdrag elke Suid-Afrikaner insluit en deel wees van ons volledige samelewing. Niemand moet agtergelaat word nie.”

Ramptoestand

Ramaphosa het gesê hy is van voornemens om die nasionale ramptoestand op te hef sodra ander maatreëls onder die Wet op Nasionale Gesondheid gefinaliseer is en ander wetgewing in plek gestel is om die pandemie te beheer.

Kragopwekking

Die president het gesê beurtkrag het steeds ʼn groot impak op die lewens van alle Suid-Afrikaners. Dit is ontwrigtend vir ondernemings en plaas bykomende druk op families en gemeenskappe. “Weens ons verouderende kragstasies, swak instandhouding, blapse met beleide en die verwoestende effek van staatskaping het ons land ʼn tekort aan sowat 4 000 MW elektrisiteit. Ons het die afgelope jaar stappe gedoen om bykomende kragopwekkingskapasiteit so vinnig as moontlik beskikbaar te maak om dié tekort te takel.”

Verskeie nuwe kragopwekkingsprojekte sal oor die volgende paar jaar beskikbaar wees. Dit sluit die volgende in:

  • Meer as 500 MW van die oorblywende projekte by Bid Window 4 van die hernubare energie-program (reeds in ʼn gevorderde stadium van konstruksie)
  • 2 600 MW van Bid Window 5 (voorkeur bieërs is verlede jaar aangekondig)
  • Tot 800 MW van risikoversagtingsprojekte wat gereed is om voort te gaan
  • 2 600 MW van Bid Window 6 (sal binnekort oopgemaak word)
  • 3 000 MW van gas en 500 MW van batterykrag (versoeke vir aanbiedings sal later vanjaar bekendgemaak word)
  • geraamde 4 000 MW van kragopwekkingsprojekte in die mynboubedryf
  • ongeveer 1 400 MW wat tans deur verskeie munisipaliteite aangeskaf word

Eskom se ontbondeling sal na verwagting teen Desember 2022 afgehandel wees. Die kabinet het Woensdag wysigings aan die Wet op Elektrisiteitsregulering goedgekeur wat beskikbaar sal wees vir openbare kommentaar. “Hierdie wysigings sal ʼn mededingende mark beskikbaar stel vir kragopwekking en die instelling van ʼn onafhanklike staatsbeheerde oordragmaatskappy.”

Hawens en Spoorweë

Die president het bygevoeg dat die ekonomie nie kan groei sonder ʼn doeltreffende spoorwegstelsel of hawens nie. Die landboubedryf maak byvoorbeeld staat op doeltreffende hawens om hul produkte na oorsese markte uit te voer en vars produkte kan nie dae of selfs weke lank wag nie.

“Transnet takel hierdie uitdagings en fokus daarop om operasionele effektiwiteit by hawens te verbeter deur bykomende toerusting en nuwe stelsels wat verkeersknope sal verminder.”

Transnet sal oor die volgende paar maande privaat vennote nader vir aanbiedings vir die Durban- en Ngqura-hawens en vennootskappe moet teen Oktober 2022 in plek wees.

Transnet sal ook met die proses begin om vanaf April 2022 derdeparty-toegang te bied tot sy vragspoornetwerk tussen Durban en City Deep in Gauteng.

Transnet het ook vennootskappe ontwikkel met die privaat sektor om kabeldiefstal en vandalisme op sy spoorwegnetwerk te takel deur gevorderde tegnologie en bykomende sekuriteitspersoneel.

Water

ʼn Proses van hervorming is ook van stapel gestuur in die departement van water en sanitasie om watterrade se mandate te hersien. ʼn Omvattende omkeerplan word ingestel om die proses vir waterverbruiklisensies te vereenvoudig. “Die teiken is om die agterstand van aansoeke teen Junie 2022 op te klaar en 80% van alle aansoeke binne 90 dae te verwerk tydens die volgende finansiële jaar.

Kannabis en hemp

Die president het gesê die beleid en regulatoriese raamwerk vir die industrialisering van hemp en kannabis word ook hersien, aangesien daar ʼn groot potensiaal bestaan vir beleggings en werkskepping.

Burokratiese omslagtigheid

Pres. Ramaphosa sê daar is te veel regulasies in die land wat onnodig ingewikkeld, duur en moeilik is om aan te voldoen. “Dit verhoed maatskappye om te groei en werk te skep. Ons werk dus daaraan om die sake-omgewing vir maatskappye van alle groottes te verbeter deur toegewyde kapasiteit in die presidensie om burokratiese rompslomp te verminder.”

Hy het Sipho Nkosi, voormalige uitvoerende hoof van Exxaro Resources en huidige voorsitter van die Kleinsake-Instituut, aangestel om reg oor die regering van burokratiese rompslomp ontslae te raak.

Dié span sal prioriteit-hervorming identifiseer vir die komende jaar insluitend meganismes om seker te maak dat staatsdepartemente hul verskaffers binne 30 dae betaal.

Infrastruktuur

ʼn Infrastruktuurfonds, met ʼn toewysing van R100 miljard uit die fiskus oor die volgende 10 jaar, het ten doel om voorbereiding te tref vir verskeie infrastruktuur-projekte soos studente-akkommodasie, maatskaplike behuising, telekommunikasie, water en sanitasie en vervoer.

Verskeie projekte ter waarde van R21 miljard sal hierdie jaar reeds van stapel gestuur word. Die regering dra R2,6 miljard by en die balans kom van die privaat sektor en ontwikkelende finansiële instansies.

“Die regering sal ʼn aanvanklike belegging van R1,8 miljard maak in grootskaalse infrastruktuur wat sewe privaat sektor-projekte van R133 miljard sal ontsluit.”

Deur die Welisizwe Rural Bridges-program wil die regering jaarliks 95 brûe bou, in plaas van die huidige 14 per jaar. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is die implementeringsagent van dié program en het reeds die kundigheid vir brugkonstruksie bewys van ingenieurs in die SANW.

ʼn Landelike paaieprogram word ook van stapel gestuur en die regering wil 685 km paaie oor die volgende drie jaar bou of opgradeer.

Die regering stel ook ʼn nuwe afleweringsmeganisme bekend om kwessies te takel in die verskaffing van skool-infrastruktuur. Volgens hom moet minstens 2 500 skole nog gebou word en dit sou ongeveer 75 jaar duur om die gaping te vul. Met die nuwe meganisme sal finansiering, die gehalte van aflewering, massa-indiensneming en instandhouding baie vinniger geskied. Die benadering sal aanvanklik as proeflopies in die Noord-Kaap en Oos-Kaap gehou word en dan na ander provinsies uitgebrei word.

Skrootmetaal

“Die skade wat aangerig word deur die diefstal van skrootmetaal en kabels op infrastruktuur soos elektrisiteit, treine en ander noodsaaklike dienste is enorm. Ons sal hierdie jaar beslissende stappe doen deur verbeterde wetstoepassing en om verdere maatreëls te oorweeg om die verkope en uitvoer van skrootmetaal aan te spreek.”

R350 maatskaplike toelaag

Die president doen ʼn beroep op die privaat sektor om ervaring as ʼn vereiste te laat vaar voor jongmense in diens geneem word, sodat soveel as moontlik jongmense die geleentheid kry om vir die eerste keer te kan werk.

Die land se maatskaplike beskermingstelsel bereik maandeliks 18 miljoen mense. “Sonder hierdie ondersteuning sal miljoene meer mense in absolute armoede leef.”

Die maatskaplike verligtingsfonds van R350 per maand wat aan die begin van die Covid-19-pandemie aangekondig is, en ondersteuning bied aan meer as 10 miljoen werkloses, sal voortduur tot Maart 2023.

Die president het gesê sommige mense het reeds dié geld gebruik om ondernemings te begin. “Thando Makhubu van Soweto het die R350-toelaag verlede jaar vir sewe maande ontvang. Hy het dit gespaar en ʼn roomyswinkel begin waar daar nou vier mense in diens is. Lindokuhle Msomi, ʼn werklose TV-vervaardiger van KwaMashu Hostel, het die R350-toelaag vir nege maande gespaar en daarna ʼn kitskosstalletjie oopgemaak om sy gesin te ondersteun.”

Onteieningswet

Die president het gesê grondhervorming gaan vanjaar voort en die Onteieningswetsontwerp sal na verwagting hierdie jaar goedgekeur word. “Groter toegang tot grond is noodsaaklik vir ons pogings om hongersnood te takel en mense te help om ʼn bestaan te maak.”

Die instelling van die Landbou- en Grondhervorming-ontwikkelingsagentskap sal ook vanjaar afgehandel word.

Die departement van openbare werke en infrastruktuur sal die oordrag van 14 000 hektaar van staatsgrond aan die behuisingsontwikkelingsagentskap finaliseer.

Zondo-verslag oor staatskaping

“Sedert die begin van die jaar het ek die eerste twee dele van die verslag van die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping, onder leiding van waarnemende hoofregter Raymond Zondo ontvang. Alhoewel die uiteindelike bevinding eers teen die einde van dié maand oorhandig sal word, het die eerste twee verslae dit duidelik gestel dat daar inderdaad staatskaping plaasgevind het. Dit beteken dat staatsbeheerde ondernemings en staatsinstansies geïnfiltreer is deur ʼn kriminele netwerk wat ten doel gehad het om staatsgeld vir hul privaat gewin te plunder.”

Die verslae het besonderhede bevat oor die verwoestende impak van dié misdadige aktiwiteit op die SAL, Transnet, Denel, die SAID en die departement van kommunikasie.

“Staatskaping het ʼn direkte en baie duidelike negatiewe impak gehad op die lewens van alle Suid-Afrikaners, maar veral die armstes en mees kwesbare lede van ons samelewing. Dit het die staat se vermoë verswak om dienslewering te verskaf en te voldoen aan die verwagtinge van die grondwetlike reg van mense. Ons moet nou alles in ons vermoë doen om seker te maak dat dit nooit weer gebeur nie.”

Hy sê sy verantwoordelikheid is om seker te maak dat die kommissie se verslag behoorlik en noukeurig oorweeg word en dat daar dan stappe gedoen word.

“Ek sal teen 30 Junie ʼn plan van aksie voorlê in reaksie op die kommissie se aanbevelings.”

Volgens aanbevelings in die kommissie se eerste verslag sal die stelsel, om fluitjieblasers te beskerm, verbeter word.

“Talle individue en maatskappye wat volgens die kommissie verantwoordelik was vir staatskaping, sal nou aanspreeklik gehou word.”

Hy sê die nasionale vervolgingsgesag (NVG) sal nou verder ondersoek instel oor die aanbevelings van die kommissie om seker te maak dat die kriminele netwerk wat die regering geïnfiltreer het, vinnig vervolg word.

Die ondersoekdirektoraat van die NVG is gereed om aan sy mandaat te voldoen en ʼn toegewyde span is aangestel om dié sake te vervolg. ʼn Nuwe hoof vir die ondersoekdirektoraat sal aangestel word.

Daar is ook gesprekke om ʼn spesiale hofrol te skep vir staatskaping- en korrupsiesake.

Julie-opstande

“Ons het vroeër vandeesweek die verslag vrygestel van die paneel kenners oor onrus in Julie verlede jaar. Die verslag het ʼn ontstellende prentjie geskets van die vermoë van ons sekuriteitsdienste en die strukture wat hul werk moet koördineer. Die verslag het bevind die regering se aanvanklike hantering van die Julie 2021-gebeure was onbevoeg, die polisie se operasionele beplanning was gebrekkig, daar was swak koördinasie tussen staatsekuriteit en intelligensiedienste en die polisie is nie altyd so betrokke in die gemeenskappe wat hulle dien nie.

“Die paneel kenners sê as die geweld enigiets ontbloot het, was dit die armoede en ongelykheid wat die kern-oorsaak was van desperaatheid van die mense van Suid-Afrika.

“Die paneel kenners het bevind dat die kabinet algehele verantwoordelikheid moet aanvaar vir die gebeure van Julie 2021. Dit is ʼn verantwoordelikheid wat ons erken en aanvaar.”

ʼn Nasionale reaksieplan sal nou ontwikkel word om die gebrekkighede te takel wat die paneel geïdentifiseer het. Noodsaaklike vakante poste sal onmiddellik by die staatsekuriteit-agentskap en misdaadintelligensie gevul word.

“Ons sal binnekort ook leierskap-veranderinge aankondig in verskeie sekuriteitsagentskappe om ons sekuriteitstrukture te versterk. Personeel binne die polisie se eenheid vir openbare orde sal ook op ʼn behoorlike vlak gebring word met behoorlike opleiding vir personeel.”

Hulpbronne sal ook beskikbaar gemaak word om ʼn bykomende 12 000 nuwe polisiebeamptes aan te stel en op te lei “om seker te maak die SAPD kry dringend die nodige kapasiteit”.

Gemeenskapspolisiëringsforums sal ook onmiddellik weer ingestel word om verhoudings en samewerking tussen die plaaslike polisie en inwoners te verbeter.

Die tyd is nou

Pres. Ramaphosa het gesê daar kom ʼn tyd wanneer die keuses wat jy maak, en die pad wat jy kies, die rigting bepaal vir toekomstige generasies.

“Ons word in die gesig gestaar deur groot en skrikwekkende uitdagings. Ons is in ʼn stryd gewikkel vir die siel van hierdie land. Maar daar kan geen twyfel wees nie dat ons sal oorwin.

“Ek vra elke Suid-Afrikaner om saam te span in ons stryd teen korrupsie, in ons stryd om werk te skep, in ons stryd om ʼn regverdiger en meer gelyke samelewing te bereik. Ons het al baie krisisse in die verlede beleef, maar ons het dit almal oorkom. Ons moes moeilike keuses maak, en ons het dit gedoen. In moeilike omstandighede het ons durf en weerstandigheid gewys.

“Ons het onsself telkens van die randjie van wanhoop teruggebring en hoop, hernuwing en vooruitgang geïnspireer. Nou moet ons dit weer doen.

“Kom ons vorm ʼn nuwe konsensus vir ʼn nuwe realiteit. ʼn Konsensus wat ons saambind volgens ons gedeelde vasberadenheid om die ekonomie te hervorm en instansies te herbou. Kom ons spring aan die werk. Kom ons herbou ons land. En laat ons niemand agterlaat nie.”

  • Klik hier om die volledige toespraak te lees. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

37 Kommentare

Ettienne ·

en om ongelykheid aan te spreek….so dreun die retoriek en populistiese dreunsang van die ANC voort. Die oordrewe gestrewe na gelykheid is waar alles begin skeefloop …

Nette ·

Daar sal nooit gelykheid wees nie, want volgens hulle het ons almal werk en hulle lei honger en kry swaar, hulle vergeet dat ons ‘n baba handjie van die populasie is dit is waarom dit lyk asof ons meer het as hulle. Hulle moet bietjie kyk hoeveel van ons mense staan by die verkeersligte en hoeveel bly in plakkerskampe, maar ons mense kry nie swaar nie.

marbacca ·

ANC se idee van werk na gelykheid het niks te doen met almal probeer OPTEL na dieslefde gelyke vlak nie, maar om almal af te trek na niks…

Jacob ·

Die siek beheptheid van ‘n ondoeltreffende regering met tonnelvisie om alles te beheer, maak die kostes van besigheid doen op alle vlakke, te hoog. Dit neem my al amper 80 dae net om probleme met my e-filing uit te sorteer en die laaste telefoniese afspraak met SARS het net nooit van hulle kant af realiseer nie.

Dus Mnr die President, “good luck”, maar soos Oom Koos van die Karoo tydens ‘n biduur vir reën gesê het; “Julle kan maar bid, maar ek sê vir julle, die wind waai uit die verkeerde rigting.”

Nie Verbaas ·

En die man dink regtig dat n regdenkende persoon dit glo wat hy kwyt raak? ANC het nie die vermoë om die land reg te ruk nie en korrupsie sal nie stop nie en so ook nie opgeblaasde tenders nie. Cele sal nie afgedank word nie. Net mooi praatjies vir volgende verkiesing. Tsek.

H.A. ·

LIPPE TAAL ALWEER, so gaan dit aan vir hoeveel jaar al ?. Die ALEWIGE ONGELYKHEID… Voersek anc.

Nette ·

Ek wil graag weet hoe word die keuringsproses gedoen vir die R350. Ek weet van 2 mense wat weekliks tussen R900 en R1 500 kry maar kry ook die R350. Hoeveel is daar nog wat die sisteem en ons belasting geld uitbuit?

Blomme ·

En die land het nie geld nie…. Dis soos om te gaan leen op ń klomp skuld… Gee geld weg ter wille van stemme by die vlg verkiesing.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

“Ons word in die gesig gestaar deur groot en skrikwekkende uitdagings. Ons is in ‘n stryd gewikkel vir die siel van hierdie land. Maar daar kan geen twyfel wees nie dat ons sal oorwin.”

President Ramaphosa, die ANC se National Democratic Revolution (NDR) om ‘n Marxistiese National “Democratic” Society (NDS) daar te stel, IS die groot en skrikwekkende uitdaging wat die siel van hierdie pragtige Suid-Afrika en al sy goeie mense wil verslaaf tot die verAfrikaniseerde kommunistiese ideologie.

Die Mzansi National Democratic Society Useless Animal Farm waar almal gelyk moet wees maar sommige gelyker as andere, is gedoem tot mislukking. Waarom sal ons u en die ANC-leierskap nog enigsins kan glo en vertrou? Haal eers uit en wys. Sweer eers kommunisme en kommunisme onder die rookskerm van sosialisme openlik af.

Lian ·

Niemand moet uitgesluit word nie ???? Hoekom kry ons jong mense nie werk omdat hulle wit is nie ? Is dit nie uitsluiting nie ?

Lian ·

Met gelykheid het hulle eintlik ten doel (a) om ons menswees weg te vat soos in Noord Korea (b) Of jy ‘n hoogs gespesialiseerde beroep soos ‘n ouditeur of dokter be-oefen, jy kry net R 10 000,00 pm soos deur die staat vasgestel. En die politici leef in weelde.

Casper ·

Rampie,they sal talk is cheap but money buys the whisky.Put your money where your mouth is.Shou us some guts and get rid of the rotten appels in your cabinet who are incompatent to do their work and stop protecting them.By now you know who they are.Don’t Just fight corruption fight incompetency as well.Amen

JM ·

Hoe kry iemand dit reg om sy totale R350 maandeliks te spaar, om ‘n besigheid te begin?! Waarvan leef hy dan, sit hy kos op die tafel? Mnr. Ramaphosa, ons het meer as 2 breinselle as om hierdie twak te glo! In hierdie geval seëvier korrupsie ook, wat jy nie gaan uitroei nie, want jy weet nie hoe nie. Suid-Afrika is gedoem; slim praatjies gaan niks oplos nie.

Deon ·

Daar is n baie groot see tussen praat en doen. Die boot is vol gate en lekplekke. Ons sal maar sien.

Louis ·

Alweer die ewige onderwerp dat die regering ongelykheid gaan regstel en hoe gaan hy dit nogal regkry? Dan wil hy die staatskapers straf, gaan hulle die geld terugbetaal wat hulle klaar uitgemors het? Om daarvan te praat dat hy die trots van die staatsdiens wil herstel, alle heil en sterkte daarmee. Dit gaan nie gebeur nie, die hele staatsdiens is lui en korrup. Ek sukkel al 8 maande om die status op ‘n doodsertifikaat van getroud na “wewenaar” te wysig. As ek navraag doen sê hulle net ek moet onthou dit neem lank. ‘n nagmerrie!

Jack ·

Soos altyd net lee woorde. Maak nie saak wat hy se nie dit is die anc wat praat en hulle praat net eie belang. Ek lees nie meer of luister na sy twak nie.

Vonkprop ·

Net een baie eenvoudige vragie vir jou meneer die president, word witmense ingesluit in al hierdie planne of is ons geld net goed genoeg om our people te help en verder moet ons maar net stilbly en die houe vat?

Nico ·

Spreuke 11:11, “Deur die seën van die opregtes kom ‘n stad op, maar deur die mond van die goddelose word dit afgebreek”. Dit is presies wat nou gebeur, hierdie land word afgebreek.

Kobus ·

Weereens skitter hy met al die stories. Hy het geen woord gerep oor “suksesverhale” sedert hy president geword het nie. ‘n Kollega het te vertel dat sy suksesresep vir ‘n gelukkige huwelik as volg is; “erken skuld, belowe beterskap en foeter steeds voort” As ek reg onthou het hy verlede jaar ook werkloosheid, Escom , Prasa en korrupsie aangespreek. Dadels. Die kabinet sit reeds met horde onproduktiewe amptenare, nou stel hy nog ‘n mens aan om ” red tape” te bestuur! Hoekom wys hy nie ruggraat en kry die mense in beheer van al die departemente om verantwoordellikheid te aanvaar nie? Hoekom raak hy nie van die ” dooie hout” ontslae nie? Elke minister het ‘n adjunk,blykbaar ‘n sekretaris en dan nog ‘n woordvoerder ook. Liewe aarde, het CEO’s van maatskappye ook al hierdie aanhangsels?

Swerwer ·

Bewys maar eers jouself Mnr die President. Ongelukkig kan die ANC Regering glad nie vertrou word nie, en nog minder die Presidensie.

annie ·

Baie planne vir ‘n leë beursie. ‘n Laaang opera en niemand kan orrel speel nie. Malema sou wou met Miss Muffet as die sopraan. In 2023 hou ons daar begrafnis as sekere mense hul sin kan kry.

Darkwing Duck ·

Deel ‘n paar oranje oopakkies uit en ons glo dalk dat jy ernstig is oor korrupsie. Hy bou nog steeds sy “megcity” en stuur kospakkies Kuba toe, terwyl duisende mense op eie bodem nie kos het nie. Wys jy is ernstig deur totaal ontslae te raak van put toilette by skole. Herbou CMJAH en vergeet van NHI = sonder werkende hospitale het jy nie ‘n gesondheidsdiens nie.

Alleen Wolf ·

Hy kon die hele SONA in een sin afgehandel het
” My fellow citizens, Die land is in ‘n gemors a.g.v die ANC” en niks gaan verander nie “

Robert ·

“Ramaphosa het gesê hy is van voornemens om die nasionale ramptoestand op te hef sodra ander maatreëls onder die Wet op Nasionale Gesondheid gefinaliseer is en ander wetgewing in plek gestel is om die pandemie te beheer.”
Ou Rampie… daar is geen nodigheid om enige wetgewing te wysig nie… staak net die nonsens.

Jack ·

Einstein het glo gesê ‘n goeie teken van kranksinnigheid is om dielfde ding oor en oor te doen maar tog elke keer ‘n ander uitkoms te verwag. Ek het al na baie SONAs geluister, ook onder die ou NP. Maar die ANC vat die koek as dit by kranksinnigheid kom. Dieselfde ou storie jaar na jaar, dieselfde leë beloftes, dieselfde sosialistiese versugtinge, dieselfde blaamverskuiwing onder die dekmantel van ons moet nou saamstaan MAAR LET WEL, dis ook dieselfde beleid wat sedert 1994 geld: AA en BBBEE bly, kader ontplooing bly, RET doelwitte bly, onteiening sonder vergoeding bly, kwotastelsels bly, die antipatie teen blankes en ander miderheidsgroepe bly, die algemene onbevoegdheid en neiging tot selfverryking bly, die weiering om verantwoordbaarheid te aanvaar bly. In die lig van voorafgaande, hoe hoog kan ‘n mens jou vertroue op die ANC stel? Wat is laer as nul?

gatgogga ·

Nou weer 100 dae om planne te beraam?
Hoekom nie 100 dae gelede al begin planne maak nie, dan kon hy mos iets positief op hierdie staatsrede aangekondig het.
Omdat alles net leuens is.

Janee ·

Hoekom kry ek die idee dit gaan net ‘n getjommel en helse grap wees?

Mieke ·

Ons hoor dit al vir omtrent die laaste 20 jaar…
Ek raak verveeld!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.