Stemdag in Schweizer-Reneke

Joe McGluwa, provinsiale leier van die DA in Noordwes (Foto: Skermgreep uit ‘n video deur Molaole Montsho/ANA)

Woensdag is stemdag in die Mamusa-munisipaliteit in Noordwes, wat sentreer op die dorp Schweizer-Reneke en ook die township Ipelegeng, die gehuggies Migdol, Glaudina, Amalia en Vermaas, asook die omliggende plase.

Die munisipaliteit, wat in elk geval geruime tyd onder administrasie was weens swak bestuur, se sake het so algeheel platgeval dat die hele stadsraad ontbind is – daarom is daar gelyktydige tussenverkiesings vir al nege wyke en proporsionele verteenwoordigers.

Wat dit beteken, is dat dit die mees drastiese stap is wat met ‘n stadsraad kan gebeur – die hele stadsraad word vervang want daar is so min te redde. En Mamusa is in so ‘n swak toestand dat geskiedenis nou gemaak word – dis die enigste munisipaliteit ooit om twee keer ontbind te word. Die vorige keer was ‘n paar jaar gelede.

Hoewel ontbinding van die stadsraad nie die enigste maatstaf van swak munisipale bestuur is nie, is dit ‘n belangrike een, en gemeet daaraan kan ‘n saak uitgemaak word dat inwoners van Schweizer-Reneke en omstreke in die swakste bestuurde munisipaliteit in die land bly.

Woensdag se tussenverkiesing is in ‘n sin drie parallelle wedlope. Eerstens gaan dit natuurlik oor die magsbasis in en beheer van die munisipaliteit, en daar is die stryd grootliks tussen die ANC en die EFF.

Tydens die 2016-verkiesing het die ANC 11 van die 18 setels op die raad gewen, die Forum 4 Service Delivery (‘n splintergroep ontevrede ANC-raadslede wat sedertdien grootliks na die ANC teruggewentel het) 3 setels, die EFF 2 setels, die DA 1 setel en die VF Plus 1 setel.

Daar is twee vrae wat die beheer van die raad betref: Eerstens, wie gaan baat vind by die wegval van die F4SD-stem? Gaan dit na die ANC of die EFF gaan? Tweedens: Gaan die ANC se bewese rekord van patetiese verskaffing van munisipale dienste ‘n invloed hê op die uitslag, hetsy deur ‘n ANC-wegblystem (wat die ander partye proporsioneel sal help) of deur die verskuiwing van swart kiesers van die ANC na die EFF of DA.

Die tweede parallelle stryd is die wedloop om die plaas- en townshipstemme, en hier sal die vertoning van die EFF veral dopgehou word. Die EFF se vertonings in tussenverkiesings was die afgelope paar maande werklik baie swak, en hulle sal dit wil omdraai.

Boonop is Noordwes een van die EFF se sterkste provinsies, maar hul krag lê meer in die mynbougebiede en industriële sentra. Schweizer-Reneke bestaan grootliks uit plase, en dis in dié deel van die provinsie waarin die EFF die swakste vaar.

Die derde parallelle stryd vind in wyk 9 van die munisipaliteit plaas. Dis die dorp self, en dis die enigste oorwegend wit wyk. Dit is sedert 2016 ‘n DA-wyk, en die enigste wyk wat nie deur die ANC beheer word nie.

Schweizer-Reneke se wit gemeenskap is letterlik die wit gemeenskap in die hele land waar die DA tydens verlede jaar se verkiesing die laagste steun gehad het. Tydens verlede jaar se algemene verkiesing het die VF Plus trouens ‘n gemaklike oorwinning oor die DA behaal – een van net twee munisipaliteite in die land waar dit gebeur het (die ander een was ook ‘n klein munisipaliteit in Noordwes, te wete Kgetlengrivier, wat setel in die dorp Koster).

‘n Harde stryd om die wyk te wen woed tans tussen die DA en die VF Plus, met ‘n moontlikheid dat die ANC tussen die twee kan deurglip vir ‘n onverwagse wen.

Binne die munisipaliteit is daardie stryd grootliks onbelangrik, want die DA en die VF Plus is in ‘n wedloop om die laaste plek, na die ANC en die EFF. Maar hoewel Schweizer-Reneke hopeloos te klein en te onverteenwoordigend is om enige tendens af te lei, sal dit gebruik word om neigings in die wit Afrikaanse politiek van die noordelike binneland beter te probeer verstaan.

Indien die VF Plus naamlik hul sukses van verlede jaar se algemene verkiesing herhaal en die wyk by die DA afvat, sal dit aanduidend wees van ‘n tendens in daardie provinsie, want dit sal die derde wyk wees wat die VF Plus binne ‘n jaar in Noordwes by die DA afneem – die ander twee was in Stilfontein en ‘n deel van Potchefstroom. Die VF Plus beheer geen ander wyk enige ander plek in die land nie.

Indien die VF Plus die wyk wen, sal dit ‘n belangrike aanduiding wees dat die VF Plus wel op spesifieke plekke die DA kan klop. As die DA die wyk verloor, sal dit swaarmoedigheid in die party veroorsaak en ‘n verdere aanduiding vanvoortgesette DA-probleme wees. Sou die DA die wyk teen die verwagting in wen, sal dit – weliswaar amper ‘n maand laat – die grootste Kersgeskenk denkbaar vir die DA wees.

Stemtyd is van 07:00 tot 19:00 en die uitslae word teen Donderdagoggend verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

pan ·

Daai DA klomp nou VF+ gestem het was hulle gelyk aan die eff maar nou ja party mense neem langer om te leer as ander.

Thinus Erasmus ·

Die skaap trop stem skaap skaap skaap……….
Die herder is die enigste redelike stem, maar hy het sy staf tussen die skaap in gegooi met die hoop dat een dit sal opneem. Die skaap is bly die herder het die staf vir hul gegee sodat almal lekker daaroor kan trap en lag vir die herder.
En toe kom die wolf! African National Corruption

Wonder Net ·

Wonder net of DA al iets aan die een gedoen het wat juffrou Barkhuizen verlede jaar as ‘n rassis uitgeskel het? Seker nie ne.

Vince ·

Hulle het hard probeer om gesig (stemme) te koop, maar net ‘n blanke dwaas sal vir hul stem. Hul beleid verskil geensins van dié van die ANC nie. Voorstanders vir regstellende-aksie, minagting van Afrikaanse taal, ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.