Stygende koste maak bewaring al taaier

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Verskaf)

Stygende lewenskoste en die voortslepende kragkrisis in Suid-Afrika het nie net ʼn wurggreep op Jan Alleman nie, maar ook op private wildreservate wat verantwoordelik is vir die bewaring van kwesbare wild soos renosters.

Joe Cloete, uitvoerende hoof van die Shamwari‑ private wildreservaat, sê ʼn “perfekte storm” staar nou dié reservate wat die Covid-19-pandemie oorleef het, in die gesig.

“Baie private wildreservate het vooraanstaande bewaringsprogramme, maar die koste om dit te bedryf sal dalk binnekort besnoei moet word omdat dit net al hoe meer word,” sê hy.

“Die gevolge wat dit op die bewaring van diere gaan hê, is uiteraard kommerwekkend.”

Hoewel bewaring nie reservate se enigste verantwoordelikheid is nie, sê Cloete dit speel ook ʼn geweldige rol aan die toerisme-kant – soveel só dat die bedryf jaarliks duisende toeriste hierheen lok om byvoorbeeld die groot vyf van nader te beskou.

“Private wildreservate het geen ander inkomste buiten dit wat besoekers by die reservaat bestee nie. Toeriste befonds basies bewaringsprojekte, daarom is elke euro, pond, dollar en rand nodig om die koste van bewaring en rehabilitasie aan te vul.”

Die eienaar van die wêreld se grootste renosterbewaringsplaas in Noordwes het onlangs aangekondig dat hy dié plaas volgende maand sal opveil, aangesien dit te duur is om met die diere te teel en hulle te onderhou.

Die koste verbonde aan die bedryf van ʼn private wildreservaat is hemelhoog en beloop miljoene rand per jaar. John Hume (81) van Platinum Rhino sê dit het hom honderde duisende rand uit die sak gejaag om net een renoster te onderhou, om nie eens te praat van die ganse reservaat van 8 500 ha nie.

Dieselfde geld vir reservate soos die 25 000 ha-Shamwari-reservaat wat ʼn netwerk van paaie en omheining het wat deurlopend onderhou moet word.

Volgens Cloete moet dié reservaat jaarliks sowat R5 miljoen opdok net om stropery te stuit.

“Dan is daar ander uitgawes wat in gedagte gehou moet word, soos voertuie, die instandhouding van toeristeverblyf, veeartsenykundige dienste, die bestuur van die wildrehabilitasiesentrum, verskaffing van sekuriteit en die handhawing van die ekologiese balans,” sê hy.

“Dié uitgawes, tesame met fase 4- tot fase 6-beurtkrag, beteken dat kragopwekkers tussen vier en 12 uur per dag moet loop. Dit kom neer op ʼn astronomiese dieselrekening wat vererger word deur brandstofpryse wat bly styg.”

Ander koste wat reservate moet dra, hou verband met die inflasie op kospryse, tans die hoogste in jare.

Die byna 10%‑verhoging in die nasionale minimum loon, wat in April in werking tree, gaan nou ʼn selfs groter hap uit die beskikbare geld vat.

Sny of ry

Joe Cloete_uitvoerende hoof van Shamwari private wildsreservaat. (Foto: Verskaf)

Cloete meen as reservate wil voortgaan om wild te bewaar én kop bo water hou, is daar slegs twee opsies: Verhoog jou inkomste of verminder uitgawes.

“Ongelukkig is nie een van die twee ʼn maklike opsie nie,” sê hy.

“Die Shamwari‑ private wildreservaat het reeds by verskeie geleenthede gekyk hoe hy koste kan besnoei, maar gaste kom juis na die reservaat toe vir ʼn eksklusiewe ervaring. As ons dus te veel koste besnoei, word dit ʼn minder aantreklike toeristebestemming. Aan die ander kant kan ons ons nie uit die mark prys nie.”

Shamwari is een van talle reservate wat al jare lank bewaringsprojekte bestuur en boonop selfonderhoudend is sonder enige staatshulp.

ʼn Onlangse studie deur die Universiteit Stellenbosch (US) het bevind dat private wildreservate die grootste getal witrenosters op die kontinent onderhou.

“Private reservate het ʼn baie groter bewaringsimpak as wat die meeste mense besef en dit geld veral vir Shamwari se wildrehabilitasiesentrum. Dit is die enigste geregistreerde fasiliteit van sy soort in die Oos-Kaap en selfs staatsbeheerde reservate landwyd maak gebruik van sy kundigheid,” sê Cloete.

Shamwari en ander private reservate het ook al gehelp om studies te doen oor die relatiewe sosio-ekonomiese impak van wildreservate. Een só ʼn studie deur die Terrestrial Ecology Research Unit by die Nelson Mandelabaai-universiteit het bevind dat die sosio-ekonomiese voordele van bewaring tien keer meer is as dié van landbou.

“Die kostestygings waarmee ons tans te kampe het, sal egter druk op hierdie inisiatiewe plaas, aangesien private reservate moeilike besluite moet neem,” sê hy.

“Miskien, soos die skrywer van die Stellenbosch-studie aandui, is dit tyd vir ʼn herbeoordeling van die bydrae wat private reservate lewer en dalk ʼn gunstiger belastingstruktuur oorweeg vir diegene wat kwalifiserende bewaringsprogramme ondersteun.

“Dit sal ʼn bietjie help om die toekoms van ons natuurlike erfenis te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

En steeds wil hul nie die handel in renosterhorigs wat wetiglik ge oes word wettig nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.