Super Coetzé droom ook van Olimpiese goud

Pieter Coetzé spog met een van sy medaljes. Foto: Glyn Kirk/AFP.

Aanhouer wen.

As Pieter Coetzé ooit eendag aan ’n lastige ysbrekersessie by ’n kerkkamp of werksfunksie moet deelneem – een van dáái waar jy jouself met een sêding moet beskryf – kan hy gerus die bogenoemde stelling gebruik.

Want goeiste, die 18-jarige swemmer het net nooit by die Statebondspele in Birmingham gaan lê nie. Sy merkwaardige eindpogings het onder meer gesorg dat hy op die podium in ’n rits rugslagitems gestaan het.

Die kersie op die koek is natuurlik sy briljante vertoning in die 100 m-rugslagitem toe hy met alle mag vorentoe gestrek het om die goue medalje voor Brodie Williams se neus weg te gryp.

Gisteraand het hy die bronsmedalje in sy voorkeur-item se 200 m-kategorie losgeslaan. Sy uiteindelike tyd van 1:56.77 was net ’n klein bietjie stadiger as Williams se wentyd van 1:56.40.

 (Foto: Anton Geyser/Gallo Images)

Maar weer eens het hy sy beste vir laaste gelos. Hy het vriend en vyand verras om van ’n sesde plek na die bronsmedaljewenner oor die finale 50 m te vorder.

“Ek het beslis dinge ’n bietjie te laat gelos, maar ek is baie tevrede met my medalje en ’n persoonlike beste tyd,” het hy in ’n onderhoud met die TeamSA-webblad gesê.

Volgens Coetzé was sy hoofprioriteite by die Statebondspele om sy bes te doen en om goeie tye te swem.

En as die Birmingham-swemsessies met ’n eksamenvraestel vergelyk kan word, dan het hy dit beslis met vlieënde vaandels geslaag.

“Ek sou daarvan gehou het om selfs vinniger te swem, maar my afrigter [die befaamde Rocco Meiring] het gesê dat tye nie soseer by hierdie groot byeenkomste saak maak nie. Medaljes en jou vermoë om jou land trots te maak is van veel groter belang. En ek hoop dat ek dit kon regkry.”

Coetzé se fokus skuif nou vierkantig na sy voorbereiding vir die volgende Olimpiese Spele in Frankryk.

“Wanneer ons terug in Suid-Afrika is, sal ek en Rocco kyk wat ons kan doen om met die Olimpiese goue medalje in 2024 huiswaarts te keer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.